C

Het jy al jou kaartjies gekoop vir die US Woordfees 2020? Hier is al die LAPA skrywers om na uit te sien

Die US Woordfees 2020 is om die draai, en op vanjaar se program is daar ’n klomp opwindende LAPA skrywers om na uit te sien.

Nou is jou kans om te kom kuier saam met misdaadskrywers Anel Heydenrych, Carla van der Spuy en René van Zyl, kom praat politiek met Waldimar Pelser, of gesels oor Seks, leuens en die internet met Erla-Mari Diedericks.

Die fees vind plaas vanaf 5 tot 16 Maart 2020. Het jy al jou kaartjies gekoop? Hier is al die LAPA skrywers wat jy dié jaar op die fees kan raakloop:

***

Vrydag, 6 Maart

15:30 – Boosheid in die vrou se hart

Wat gebeur met ’n vrou wanneer sy aan geweld blootgestel was? Jono Amid soek antwoorde by Anel Heydenrych (Die afloerder), Carla van der Spuy (Bloed op haar hande) en René van Zyl (Die alfadokument).

***

Maandag, 9 Maart

14:00 – Domestic Noir

Aangebied deur LAPA Uitgewers in samewerking met SASNEV: Deborah Steinmair (As jy van moord droom, Maart 2020), Lize Spit en Mira Feticu gesels met Christy Weyer-Loedolff oor hoe die al hoe gewilder ‘domestic noir’-genre (of verhoudingsrillers) vir húlle met die tydsgees praat.

 

14:00 – Wat vroue wil hê

Réney Warrington (Smit Motors) en Debbie Loots gesels met sielkundige en kunstenaar Abraham le Roux oor hoe vroue vandag oor verhoudings skryf en bekyk die kompleksiteite van intieme verhoudings in ‘n nuwe era van genderpolitiek.

 

15:30 – Is die tyd vir politieke korrektheid verby?

Dís die vraag waaroor twee gedugte rubriekskrywers, Rapport-redakteur Waldimar Pelser en Stellenbosch-professor Michael le Cordeur, debatteer 25 jaar ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. Waldimar se In gesprek met Waldimar: Sy 100 beste ontledings, inleidings en beledigings en Michael se Halala Suid-Afrika – 25 jaar se groeipyne van ‘n jong demokrasie (Naledi) is nou op die rak. Amanda Gouws lei die debat.

***

Woensdag, 11 Maart

10:00 – Seks, leuens en die internet

Om iemand te ‘ghost’, of om ge-‘bench’ of ge-‘orbit’ te word – alles woorde waarmee jy bekend moet wees voordat jy die troebel waters van internet dating invaar. En verál as jy ‘n vrou ouer as 50 is. Die gewilde Netwerk24-blogger Erla-Mari Diedericks draai geen doekies om oor haar eie ervarings met Seks, leuens en die internet nie. Marion Holm wil alles weet.

 

11:00 – Die Mandela-dokter

Toe Nelson Mandela in die laat 80’s dringend geopereer moes word, het alle hel losgebars. Die Nasionale Party wou hom landuit smokkel in die hoop dat hy sou ontsnap, die uitgeweke ANC het veld gewen met klagtes oor hoe swak wit dokters swart gevangenes behandel, en die veiligheidspolisie wou desperaat keer dat die operasie in ‘n sluipmoordaanval ontaard. Toe vra Mandela persoonlik vir Dr Willem Laubscher. In Operation Mandela deel die dokter op 90 vir die eerste keer self sy storie, saam met Willie Esterhuyse, wat al dié geklassifiseerde dokumente in sy besit het, en Dennis Cruywagen, wie se The Spiritual Mandela onlangs in Amerika verskyn het.

 

15:30 – ‘n Vernacular Spectacular: Keeping Up met Kaaps

Kaaps is ondubbelsinnig ‘n ou taal met ‘n geskiedenis wat al oor 350 jaar heen strek. Maar dié ou taal léwe, en in die 21ste eeu staan Kaaps skynbaar vir niks verkeerd nie. Theresa Biberauer gesels met André Trantraal wat Spoekie, oorspronklik gemik op swart Amerikaanse tieners, in Kaaps vertaal het, Olivia M. Coetzee, Ricardo Arendse en Jitsvinger.

 

11 – 14 Maart

20:00 – Armand kook (weer) kaal

Kaal kos. Eerlike kos. Opregte kos. Hierdie konsep verkondig Armand Aucamp al sedert sy eerste kookboek uitgegee, uitverkoop, toe herdruk, vertaal en toe omskep is in ’n nuwe, slanker weergawe, Armand kook kaal – Die maer uitgawe, met 50 resepte. Armand en Ed Beukes kom weer bymekaar ná vier uitverkoopte Kook kaal-aande by Woordfees 2019, en dek die tafel nou met agt nuwe resepte, canapé-styl, en agt wynpasmaats van Du Toitskloof Wyne.

***

Donderdag, 12 Maart

14:00 – Seuns se seerkry

Hannes Barnard (Halley se komeet) en Ben Viljoen gesels oor seuns se seerkry-grootwordjare tydens die afloop van apartheid se woede en vrees. Maar wanneer is die uitbeelding van ‘n gebroke verlede getrou, en wanneer, met vandag se perspektief, ‘toondoof’, vra Bettina Wyngaard.

 

15:30 – Wanneer hare mince en kinders droom

Ure met die stryktang, saans met die swirlkous, maar steeds mince jou hare by die eerste teken van reën. Aktrise Bianca Flanders het al as Lola, haar alternatiewe verhoogpersoonlikheid, mense laat skater met staaltjies oor ‘n jong bruin vrou se verhouding met haar hare. Sy vertel vir Riana Scheepers hoekom sy Prinses Pampoenpit met sy rebelse klein hoofkarakter juis ‘n prenteboek wou maak.

 

17:00 – Minibusse en melkkoeie

Johan Jack Smith se Zola (Penguin Random House SA) en Sidney Gilroy se Klikbek lyk soos vanoggend se koerantvoorblaaie, met kaptein David Majola in Joburg en speurder Sollie Mthembu in Bloem wat tussen verkragting, ontvoering en plaasmoord moet bontstaan. Daarenteen klink Ace Magashule se korrupsiemanewales in Pieter-Louis Myburgh se Gangster State (Penguin Random House SA) soos pure fiksie. James Brent Styan, skrywer van die ewe fabelagtige dog ware The Bosasa Billions, gesels met hulle oor hoe die grens tussen feit en fiksie soms vaag kan raak.

Vir meer inligting, besoek die Woordfees se webwerf of laai die Woordfees feesgids af in PDF-formaat.

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Andre Trantraal Anel Heydenrych Armand Aucamp Armand kook kaal – die maer uitgawe As jy van moord droom Bianca Flanders Bloed op haar hande Book events Carla van der Spuy Deborah Steinmair Die afloerder Die Alfadokument Erla-Mari Diedericks Halley se komeet Hannes Barnard In gesprek met Waldimar: sy 100 beste ontledings inleidings en beledigings James-Brent Styan LAPA LAPA Uitgewers Operation Mandela Prinses Pampoenpit René van Zyl Réney Warrington Riana Scheepers Seks leuens en die internet Smit Motors The Bosasa Billions US Woordfees Waldimar Pelser Willem Laubscher Woordfees


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments