C

2020 kykNET-Rapport-boekpryse: Johan Jack Smith, Marita van der Vyver, Theo Kemp en die wyle Harry Kalmer verskyn op die kortlys
 More about the book!

Aandag! Vier skrywers by Penguin Random House SA is vanjaar benoem vir die 2020 kykNET-Rapport-boekpryse!

Veels geluk aan Johan Jack Smith, Marita van der Vyver, Theo Kemp en die wyle Harry Kalmer.

In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer en Zola deur Johan Jack Smith is benoem vir die kykNET-Rapportprys: Fiksie.

Zola is ook benoem vir die film-prys saam met Grensgeval deur Marita van der Vyver, terwyl Strafjaart deur Theo Kemp op die Jan Rabie-Rapportprys se kortlys verskyn.

Die wenners word 19 September aangekondig.

Meer oor die vier boeke

In ’n land sonder voëls het in Junie 2019 verskyn – kort voor die skrywer op 26 Julie 2019 aan kanker gesterf het. Sy vorige roman A Thousand Tales of Johannesburg (die Engelse vertaling van ’n Duisend stories oor Johannesburg) het die 2018 Barry Ronge-fiksieprys verower.

In ’n land sonder voëls is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.

Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër.

Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied. Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek. So het ons geglo, of so is aan ons vertel. Maar nou leer ek ’n nuwe taal. Die taal van onthou. En dit maak my gevaarlik.

Wanneer ’n mediese dokter die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug. In ’n wêreld waar ’n skynson lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is. Selfs die verdwyning van sy kind tydens die chaos en die kosopstande voor die Wending kon hom nie hierop voorberei nie.

Oor beskikbaar as e-boek:

***

Strafjaart deur Theo Kemp het in Januarie 2019 verskyn en vertel die verhaal van ’n foonoproep uit Pollsmoor wat ’n navorser se lewe laat kantel. Só na aan hom was die vrou wat bel dat hy algaande die biblioteek, waar hy die eerste skepe aan die Kaap bestudeer, vir dié tronk se waglokaal verruil.

Gou kom hy agter dat dié plek is nie altyd so strak soos sy tralies nie: daar is ’n eertydse skipper wat hier vetkoek verkoop; ’n vrouebewaarder met jazz in haar stem; selfs karaoke-aande in die skaduwee van die lemmetjiesdraad.

Dieper en dieper word hy ingetrek by die lewens van diegene wat wag om ín- of uítgelaat te word. Net toe hy dink hy kan met sekerheid sê wie aan watter kant van die hoë mure staan, moet hy begryp dat verdriet bodemloos is.

In Strafjaart  vervloei die strominge van ’n lewe met dié van die Suid-Afrikaanse werklikheid, waar hoop en wanhoop ’n maalkolk kan raak.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Zola: ’n Roman het in Augustus verlede jaar die rakke getref en is in Afrikaans en Engels uitgegee. Gesoute skrywer Martin Steyn sê: ‘Johan Jack Smith het die soort verwronge, donker verbeelding waarvan ek hou.’

Die hel is los in Johannesburg se strate. Iemand is besig om jong meisies wreed af te maai en die bloedspoor wat hy agterlaat, sê: ‘Reeksmoorde’. Die stapel slagoffers raak kaptein David Majola en adjudant Jason Basson se gemors.

Kaptein Majola: ’n man deurmekaar met wit lyne en opgerolde geldnote wie se ma en suster steeds in die township sit en krepeer. Adjudant Basson: die tipe polisieman wat veel eerder die Mag jare gelede vaarwel moes roep.

Terwyl koerante en politici blaf en die taxibase met ’n verwoestende staking dreig, moet Majola en Basson duiwels in ’n malse stad trotseer.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Grensgeval deur Marita van der Vyver het in 2019 verskyn in Afrikaans en Engels, as Borderline.

Die brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Jare lank het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om aan die grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.

Theresa besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te soek, om die brief te besorg, om boete te doen vir Theo se dade en vir haar eie onkunde.

In swoel, afgeleefde Kuba, tussen kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, word Theresa se soektog intiem vervleg met die lewens van mense wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags #ReadingAfrica Week Campaign 2020 kykNET-Rapport-boekpryse Afrikaans Grensgeval Harry Kalmer In 'n land sonder voels Johan Jack Smith Marita van der Vyver Penguin Random House SA Strafjaart Theo Kemp


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments