C

Liefde versit berge in vier nuwe Romanzas!
 More about the book!

Nuut by LAPA – Potlode en pinotage deur Louise van der Merwe, ’n Tweedehandse lewe deur Didi Potgieter, Liefde vir ’n middelkind deur Kristel Loots en ’n Fiets vir twee deur Ilse Beukes.

***

Potlode en pinotage deur Louise van der Merwe

Liefde is soos goeie wyn …

Sonja Fourie word geken as die kwaai onderwyseres en versorgende moederfiguur in haar vriendekring. Nes dit ’n goeie onderwyser betaam, is haar lewe rigied: planne, lysies, tabelle en boksies hou alles mooi op koers en sy maak seker elke woord wat oor haar lippe kom is suiwer Afrikaans.

Deesdae begin iets egter krap. Haar veilige nessie en voorspelbare bestaan voel nie meer genoeg nie. Sy het haarself as kind belowe sy sal ʼn stabiele en standvastige lewe skep en dit is wat sy gedoen het, maar nou het sy haar bedenkinge. Wie is Ethan om haar te laat voel sy kan iets meer wees?

Ethan Brooks het homself in Suid-Afrika kom vestig om te veg vir die behoud van sy erfenis. Deursettingsvermoë loop sterk deur sy are, maar hy besef ook dat dit alleen nie kan red wat verby bereddering is nie. Dan ontmoet hy vir Sonja, en hierdie kwaai juffroutjie laat hom anders na sy lewe en stryd kyk. Maar gaan hy vir hom ʼn gaatjie kan oopskrop in Sonja se reeds vasgestelde toekomsplanne?

Oor die outeur

Louise van der Merwe het van haar tienerdae af haar neus in ’n boek. Om eendag haar eie boek vas te hou het ’n ontwykende droom geword waaraan sy hardkoppig vasgeklou het. Sy’s met haar eie held getroud en is steeds dolgelukkig ná drie woelige kinders. Sy’s ook mal oor liefdesverhale want liefde is mooi, lekker en raak nooit oud nie!

Ook beskikbaar as e-boek:

***

’n Tweedehandse lewe deur Didi Potgieter

’n Nuwe begin vir almal …

Dokter Carla Nel is vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd enkellopend. Nou maak sy planne om die stukke van haar lewe so gou moontlik op te tel en haar grootste droom te bewaarheid. Sy koop ʼn praktyk en ʼn huis op die kusdorpie, Soutstrand, wat albei net soveel restourasie as haar lewe nodig het.

Kobus Retief is ʼn enkelouer met meer hooi op sy vurk as wat hy kan hanteer, maar wanneer hy moet help om die nuwe dokter se praktyk en sommer ook haar huis op te knap, herinner iets hom dat hy ʼn man ook is. Carla se planne sluit egter nie ʼn man in nie en Kobus kan haar niks anders as ʼn tweedehandse lewe bied nie.

Tog laat die liefde hom nie keer nie en voor Carla hom kan stop, restoureer Kobus haar vervalle hart en word sy deel van ʼn lewe wat haar wildste drome oortref.

Oor die outeur

Didi Potgieter woon op Potchefstroom. Haar eerste Romanza, Leer my liefhê verskyn in Januarie 2014 en daarna sien vele ander Romanzas die lig. Met soveel onvertelde stories in haar kop en hart, hoop sy om dit nog lank te kan doen. Didi wen die ROSA Imbali-toekenning met Liefde vir ’n ridder en was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys vir romanse.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liefde vir ‘n middelkind deur Kristel Loots

Selfs ’n moeilikheidmaker soos Mitzi het haar trots.

Vir ’n muurblom en middelkind maak Mitzi Maree darem deesdae baie amok. Maak nie saak waar sy gaan of wat sy doen nie – verwag die onverwagte. Soos by die langtafel in Stellenbosch, waar haar polkadotrok die ambisieuse sakeman, De Wet van der Merwe, se aandag vang.

Maar agter die manewales, lei Mitzi nie die maltrap lewe waarvoor sy wens nie. Die werk by die kontaksentrum verveel haar grensloos, en haar dooilike kêrel Danie vat ook sommer die pad. Hoe gemaak om nie te verdwyn in al die geraas nie? Wanneer video-grepe van Mitzi se streke op sosiale media lek, verander alles. Skielik is die kollig op haar, en De Wet nader haar met ’n aanbod; hy wil hê sy moet die aanlyn gesig van sy nuwe besigheid wees.

Oor die outeur

Kristel Loots bly knus agter die boereworsgordyn in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy hier – en elders – raakloop. ‘Gewone’ voorstedelike vroue, soms met voorskote om die geronde heupe, ander tye weer modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat vir niks skrik nie. Of oor ‘anderste’ vroue, verskillende vroue, vroue met issues. Want menswees en veral vrouwees en die vele fasette daarvan fassineer haar. Vroue is stunning en dikwels die hoeksteen wat huis en haard aanmekaar hou en elke vrou het ’n storie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

’n Fiets vir twee deur Ilse Beukes

Hy wil berge vir haar versit.

Terwyl sy met dwalende gedagtes na die fiets-expo trap, beland Benita amper onder Melt se sportmotor. Daar aangekom, val sy flou in die stalletjie wat Melt bestuur. Die oomblik toe hy haar skraal lyfie op die mat sien lê, kruip Benita diep in Melt se hart sonder dat hy dit besef. Hy wil berge vir haar versit, veral wanneer hy besef watter opdraande die lewe haar gee.

Maar ten spyte van haar omstandighede is Benita ’n meisie met ’n wil van haar eie. Hy meng sonder verskoning in haar lewe in, tot haar groot ergernis en frustrasie. Haar lewe is moeilik genoeg sonder nog iemand wat dit kom omkrap. Met drie weke oor voor sy op straat beland, doen Benita haar bes om staande te bly. Intussen probeer Melt juis om haar van haar voete af te swiep.

Oor die outeur

Vir Ilze Beukes is die skryf van liefdesverhale ’n groot droom wat waar geword het en sy lewe vir haar skryftyd. Sy woon op Kroonstad in die Vrystaat waar sy by ’n plaaslike laerskool in die dorp werk. Sy is getroud en het drie kinders – twee getroude dogters en ’n seun wat studeer. Haar hart se punt behoort aan haar vier kleinkinders wat haar lewe verryk. Twee van haar liefdesverhale – Ondersoek my hart en Hart se tweede kans het al by NB Liefdesverhale onder die Hartklop-druknaam verskyn. Sy het ook kinderboeke, kortverhale en gedigte vir laer- en hoërskoolkinders op haar kerfstok. Liefde tussen die duine was Ilze se eerste romanse in die Romanza-reeks.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Fiets vir twee 'n Tweedehandse lewe Afrikaans Didi Potgieter Ilse Beukes Kristel Loots LAPA Liefde vir 'n middelkind Louise van der Merwe New books New releases Potlode en pinotage Romanza


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments