C

Benoem vir die UJ-pryse vir 2020: In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer, Strafjaart deur Theo Kemp en Zola deur Johan Smith

Goeie nuus! Penguin Random House SA het nie minder nie as drié boeke wat ingesluit is vir die Universiteit van Johannesburg-pryse vir 2020.

Twee hiervan – In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer en Strafjaart deur Theo Kemp – is benoem vir die algemene prys terwyl Zola deur Johan Jack Smith op die kortlys is vir die debuutprys.

Meer oor die drie boeke

In ’n land sonder voëls het in Junie 2019 verskyn – kort voor die skrywer op 26 Julie 2019 aan kanker gesterf het. Sy vorige roman A Thousand Tales of Johannesburg (die Engelse vertaling van ’n Duisend stories oor Johannesburg) het die 2018 Barry Ronge-fiksieprys verower.

In ’n land sonder voëls is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.

Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër.

Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied. Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek. So het ons geglo, of so is aan ons vertel. Maar nou leer ek ’n nuwe taal. Die taal van onthou. En dit maak my gevaarlik.

Wanneer ’n mediese dokter die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug. In ’n wêreld waar ’n skynson lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is. Selfs die verdwyning van sy kind tydens die chaos en die kosopstande voor die Wending kon hom nie hierop voorberei nie.

***

Strafjaart deur Theo Kemp het in Januarie 2019 verskyn en vertel die verhaal van ’n foonoproep uit Pollsmoor wat ’n navorser se lewe laat kantel. Só na aan hom was die vrou wat bel dat hy algaande die biblioteek, waar hy die eerste skepe aan die Kaap bestudeer, vir dié tronk se waglokaal verruil.

Gou kom hy agter dat dié plek is nie altyd so strak soos sy tralies nie: daar is ’n eertydse skipper wat hier vetkoek verkoop; ’n vrouebewaarder met jazz in haar stem; selfs karaoke-aande in die skaduwee van die lemmetjiesdraad.

Dieper en dieper word hy ingetrek by die lewens van diegene wat wag om ín- of uítgelaat te word. Net toe hy dink hy kan met sekerheid sê wie aan watter kant van die hoë mure staan, moet hy begryp dat verdriet bodemloos is.

In Strafjaart  vervloei die strominge van ’n lewe met dié van die Suid-Afrikaanse werklikheid, waar hoop en wanhoop ’n maalkolk kan raak.

***

Zola: ’n Roman het in Augustus verlede jaar die rakke getref en is in Afrikaans en Engels uitgegee. Gesoute skrywer Martin Steyn sê: ‘Johan Jack Smith het die soort verwronge, donker verbeelding waarvan ek hou.’

Die hel is los in Johannesburg se strate. Iemand is besig om jong meisies wreed af te maai en die bloedspoor wat hy agterlaat, sê: ‘Reeksmoorde’. Die stapel slagoffers raak kaptein David Majola en adjudant Jason Basson se gemors.

Kaptein Majola: ’n man deurmekaar met wit lyne en opgerolde geldnote wie se ma en suster steeds in die township sit en krepeer. Adjudant Basson: die tipe polisieman wat veel eerder die Mag jare gelede vaarwel moes roep.

Terwyl koerante en politici blaf en die taxibase met ’n verwoestende staking dreig, moet Majola en Basson duiwels in ’n malse stad trotseer.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Awards Harry Kalmer In 'n land sonder voels Johan Jack Smith News Penguin Random House SA Strafjaart Theo Kemp Universiteit van Johannesburg-pryse vir 2020 Zola: 'n Roman


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments