C

Die liefde blom soos madeliefies in Namakwaland in vier nuwe Romanzas!
 More about the book!

Nuut by LAPA – Hart van kant deur Didi Potgieter, Omdat alles sin maak by jou deur Elsa Winckler, Soeter as fudge deur Lizelle von Wielligh en Madeliefie in Namakwaland deur Nellie Alberts.

Hart van kant deur Didi Potgieter

Is daar vir hulle ’n toekoms?

Amanda White se loopbaan as ontwerper is op dreef. Sy het al drie Steely Sisters se trourokke ontwerp en sy is self amper verloof. Daar is egter ʼn klippie in haar skoen: Clinton Anderson, die hardkoppige veearts wat sy deur die Steely Sisters leer ken het.

Clinton red weggooi-perde omdat hy self ʼn weggooi-kind was. Hy soek nie hulp nie, veral nie van ʼn beeldskone vrou wat sy kop deurmekaarkrap nie.

Die liefde is egter sterkter as vooropgestelde idees en die twee besef vinnig dat die aangetrokkenheid tussen hulle dalk tot meer kan lei. Maar Amanda is verloof en die wêreld wag in afwagting vir haar troue, en Clinton is steeds die man met die duister verlede. Is daar vir hulle ’n toekoms?

Oor die outeur

Didi Potgieter woon op Potchefstroom. Haar eerste Romanza, Leer my liefhê, verskyn in Januarie 2014 en daarna sien vele ander Romanzas die lig. Met soveel onvertelde stories in haar kop en hart, hoop sy om dit nog lank te kan doen. Didi wen die ROSA Imbali-toekenning met Liefde vir ’n ridder en was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys vir romanse

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Omdat alles sin maak by jou deur Elsa Winckler

Hoekom blom die liefde vir almal behalwe die bloemis?

Christie is bly haar susters en broer het hulle sielsgenote gevind, regtig, sy is. Maar daai tipe geluk is nie noodwendig vir almal beskore nie. Dalk moet hierdie bloemis maar vrede maak daarmee dat sy nie haar asem moet ophou vir ’n ruiker rose van haar eie nie.

Wanneer dokter Renier Visser, net so onverantwoordelik aantreklik soos die res van die Visser-broers, vir Christie vir advies vra met sy liefdeslewe, probeer sy opreg help. Dis nie asof daar enige tekens van ’n vonk tussen hulle is nie. Tot hulle op ’n dag oor die tou trap.

Renier beweer nog altyd hy is nie van plan om ooit te trou nie. Maar hoe meer tyd hy saam met Christie deurbring, hoe meer besef hy, by haar maak die lewe sin.

Oor die outeur

Elsa Winckler is ’n internasionaal gerekende romanseskrywer met talle boeke op haar kerfstok. Sy kom uit ’n agtergrond in opvoedkunde, en is op 40 weer terug universiteit toe om ’n Honneurs en MPhil te voltooi. Haar man is haar studenteliefde en na 44 jaar saam, drie interessante kinders en ’n kroos kleinkinders, maak hy nog altyd haar knieë lam, soos dit ’n goeie held betaam. Kenmerkend van Winckler se werk is haar onafhanklike, hardekwas heldinne, wat sy heerlik afspeel teen sterk maar sensitiewe helde.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Soeter as fudge deur Lizelle von Wielligh

ʼn Oomblik oor die lippe, ʼn leeftyd op die heupe.

Jonette het nooit gedink sy sal iemand haat nie, maar Brink van Heerden haat sy soos sy destyds haarself gehaat het. En nou kom hy ná al die jare terug Kiepersolkop toe as haar werkgewer. Daarby het hy nie meer die vaagste benul wie sy is en wat hy aan haar gedoen het jare gelede nie.

Sy wil bedank en weggaan maar telkens word haar planne in die wiele gery. Boonop blyk dit hy is ook nie meer dieselfde mens as wat sy hom onthou nie. Dié man dra deesdae sy eie donker rond. Teen haar kop se beterwete, vind haar verraderlike hart dit al hoe moeiliker om aan haar haat vir hom vas te klou.

Maar hy sê hy stel nie daarin belang om haar geneentheid te wen nie, so dalk moet sy hierdie keer vir haar kop eerder as haar hart lusiter.

Oor die outeur

Met ʼn BCom-graad agter haar naam, sou Lizelle von Wielligh nooit kon droom om die pen op te tel en te begin skryf nie, maar toe bring die Here ʼn onverwagse draai op haar pad wat haar meer vervuld laat as wat sy ooit kon droom. Deesdae vind sy dit baie meer stimulerend om haar gedagtes kreatief aan te wend, eerder as om syfers op die rekenaar te laat klop. Haar gesin kom altyd eerste in haar lewe. Sy is voltyds betrokke by haar kinders en is bevoorreg om ʼn ‘gelukkige einde’ saam met haar man te leef. As sy nie skryf nie, moet haar hande besig bly met ʼn handwerkie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Madeliefie in Namakwaland deur Nellie Alberts

Hanna maak ’n plan …

Die lewe het nie vir Hanna Dekker wafferse kaarte gedeel nie: Sy moes ’n belowende loopbaan in die stad laat vaar om haar pa op ’n Namakwalandse dorpie te versorg. Boonop los haar kêrel haar soos ’n warm patat op ’n stadium toe sy al trouklokkies hoor. Met haar hart aan skerwe, beur Hanna voort, maar nog ellende lê voor. Op onverklaarbare wyse het sy die onwillige leier van die dorpsgemeenskap geword, ’n gemeenskap wat alles in ’n ontwikkeling gaan verloor … tensy Hanna ’n plan kan maak.

Daniël Barnard, suksesvolle eiendomsontwikkelaar, het groot planne vir ’n gehuggie langs die N7. Daarby gee die Turatara-projek hom ook ’n kans om na sy wortels terug te keer en’n mislukte verhouding te ontsnap. Maar die voshaarmeisie agter die toonbank van Madeliefie, die bakkery, krap sake om. Gaan Daniël se standaardfilosofie – om nie by ontwikkelingslagoffers betrokke te raak nie – hom hierdie keer in die steek laat?

Oor die outeur

Nellie Alberts is ’n gebore Noord-Kapenaar en het draaie op Stellenbosch en in die onderwys gemaak waarna sy lank ’n naaldwerkbesigheid bedryf het. Sy het op skool gou die dorpsbiblioteek deurgelees en is as koshuiskind dikwels betrap met leesboeke in die studiesaal. Sy woon op ’n plaas in die Voor-Roggeveld met vyf honde, twee katte en hoenders waarvan die getalle wissel – afhangende van die vaalmuishonde se bedrywighede. Sy bly besig met tuinmaak, om te kwilt en naaldwerk, redigeer- en proefleeswerk.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Didi Potgieter Elsa Winckler Hart van kant LAPA LAPA Uitgewers Lizelle von Wielligh Madeliefie in Namakwaland Nellie Alberts New books New releases Omdat alles sin maak by jou Romanza Soeter as fudge


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments