C

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: Strafjaart deur Theo Kemp wen die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe prosa
 More about the book!

Die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke, wat deel uitmaak van die kykNET-Rapport-boekpryse, gaan vanjaar aan Theo Kemp vir sy roman Strafjaart, wat in Januarie 2019 by Penguin Random House SA verskyn het.

Strafjaart vertel die verhaal van ’n foonoproep uit Pollsmoor wat ’n navorser se lewe laat kantel. Die boek het ook vroeër vanjaar op die Universiteit van Johannesburg-pryse vir 2020 se kortlys verskyn.

Strafjaart is nie die enigste Penguin Random House SA-boek wat vanjaar op die kortlyste verskyn het nie. In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer, Zola deur Johan Jack Smith en Grensgeval deur Marita van der Vyver is ook benoem vir die 2020 kykNET-Rapport-boekpryse. Die wenners is op 19 September 2020 op kykNET aangekondig.

Waldimar Pelser het die wenner van die Jan Rabie-Rapportprys aangekondig. ‘Dié roman is ’n herinnering aan die waarde van letterkunde wat die gefolterde getuie word van alles waarvan ons in desperate ontkenning probeer leef,’ sê Waldimar oor Strafjaart, wat vanjaar R125 000 vir die skrywer gewen het.

Volgens die keurders wys Theo met sy eerste roman, Skool, en nou ook met Strafjaart hoe kragtig faction ingespan kan word om die Suid-Afrikaanse samelewing beter te probeer verstaan. Die hoofkarakters in beide verhale word met hul navorsing oor en ervarings met, onderskeidelik, die skool- en tronkstelsel nie net met gebroke oplossings vir ’n verskeurde samelewing gekonfronteer nie, maar ook met hulself.

Kyk na die video (die aankondiging van die Jan Rabie-Rapportprys begin om 12:13):

Lees die persverklaring:

‘KLEIN BOEK’ WEN GROOT BY VANJAAR SE KYKNET-RAPPORT BOEKPRYSE

Beurs bewillig om diversiteit aan te moedig

’n Sprokie van 176 bladsye oor ’n middeljarige lykbesorger wat ’n rede kry om in wense te glo is die groot wenner van vanjaar se kykNET-Rapport Boekpryse. Die novelle Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg is met twee van die vier boekpryse bekroon wat op Saterdagaand 19 September 2020 aanlyn toegeken is.

Terselfdertyd is aangekondig dat ’n beurs bewillig word om groter diversiteit in die bestaande Afrikaanse skrywerskorps te stimuleer.

Pryse ten bedrae van altesaam R825 000 is toegeken: R250 000 vir die kykNET-Rapportprys vir Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik, R125 000 vir die boek wat hom die beste daartoe leen om tot rolprentdraaiboek verwerk te word, R125 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke, en R25 000 elk vir drie resensiepryse.

Van den Berg is die wenner in sowel die fiksie- as filmkategorie van die kykNET-Rapportpryse met Ek wens, ek wens, wat verlede jaar by Kwela verskyn het.

Die fiksiekeurders beskryf Ek wens, ek wens as ’n boek wat die amper vergete betekenisse van woorde soos onskuld, eerlikheid, welwillendheid en egtheid herontgin; herkenbaar eietyds; andersyds byna argetipies in die verkenning van oervrese en -begeertes, ’n boek waarin daar op doelbewuste, maar ingeligte wyse wegbeweeg word van postmoderne afstandelikheid, ironie en sinisme.

Volgens die filmkeurders kan die gestroopte taal in Ek wens, ek wens soomloos tot ’n draaiboek verwerk word en bied die teks talle visuele padaanwysers. ‘In ’n wêreld gelouter deur ’n pandemie gee dié verhaal filmmakers kans om binne die betowerende raamwerk van ’n sprokie terug te keer na eenvoud, egtheid en na wat die hart wérklik begeer.’

Ek wens, ek wens is vroeër vanjaar ook met die W.A. Hofmeyrprys bekroon. Van den Berg, wat in Nieu-Seeland woon, het in 2014 ook die eerste kykNET-Rapport-filmprys ontvang vir ’n Ander mens. Die rolprent van dié boek is verlede jaar uitgereik.

Die ander benoemdes in die fiksiekategorie – wat vanjaar ’n rekord van 52 inskrywings gelok het – was die ontslape Harry Kalmer vir In ’n land sonder voëls, Johan Jack Smith vir Zola, Etienne van Heerden vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld en Jan van Tonder vir Die verevrou.

Ook benoem in die filmkategorie was Sidney Gilroy vir Klikbek, Johan Jack Smith vir Zola, Réney Warrington vir Smit Motors en Marita van der Vyver vir Grensgeval.

Die wenner van die kykNET-Rapportprys vir niefiksie is Carel van der Merwe met Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen, wat by Protea Boekhuis verskyn het. Dié boek oor die buitengewone lewe en nalatenskap van Viljoen – ’n held uit die Anglo-Boereoorlog met ’n flambojante én twyfelagtige geskiedenis – is deur die niefiksiekeurders uitgesonder as ’n kritiese dog empatiese biografie op ’n indrukwekkende skaal: ’n werk van internasionale gehalte wat spreek van uitnemende navorsing uit ’n wye spektrum van argivale bronne, met ’n uiters vlot geskrewe, boeiende narratief.

Dit is die tweede keer dat Van der Merwe die niefiksieprys wen. In 2016 is hy bekroon vir Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog. Hy het dié prysgeld gebruik om navorsing vir Kansvatter in die Verenigde Koninkryk en VSA te doen.

Die ander benoemdes in die niefiksiekategorie was Albert Blake vir Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme en Murray la Vita vir Boodskapper van die gode.

Die Jan Rabie-Rapportprysvir debuut- of tweede prosawerke, wat deel uitmaak van die kykNET-Rapport Boekpryse, gaan aan Theo Kemp vir sy roman Strafjaart, wat by Penguin Random House verskyn het.

Volgens die keurders wys Kemp met sy eerste roman, Skool, en nou ook met Strafjaart hoe kragtig faction ingespan kan word om die Suid-Afrikaanse samelewing beter te probeer verstaan. Die hoofkarakters in beide verhale word met hul navorsing oor en ervarings met, onderskeidelik, die skool- en tronkstelsel nie net met gebroke oplossings vir ’n verskeurde samelewing gekonfronteer nie, maar ook met hulself. ‘Strafjaart is ’n herinnering aan die waarde van letterkunde wat die gefolterde getuie word van alles waarvan ons in desperate ontkenning probeer leef.’

Die ander benoemdes vir die Jan Rabie-Rapportprys was Lize Albertyn-du Toit vir Die kinders van Spookwerwe en Ruan Kemp vir Gedeeltelik bewolk.

Die sameroeper van die kykNET-Rapport-boekpryse, Hettie Scholtz, sê: ‘Hoe is ons lewens nie verryk deur vanjaar se leeservarings nie. Wilhelm Jordaan stel dit treffend in sy rubriekbundel Sondesemoer! wat onlangs verskyn het: “Stories werk ook soos ’n kristal wat jy in die hand teen die lig hou. Met elke kyk word nuwe konfigurasies van lig en kleur deurgelaat. En so kry jy dieper begrip vir dit wat in jou woel; vir jou onvoltooide, steeds ontvouende reisverhaal.” ’n Paar van die romans het herlese gevra en so is insig ook daarin, soos Jordaan dit verder stel, “tot skroeiende helderheid gebring”. Ook helderheid ten opsigte van die gebrek aan diversiteit onder die inskrywings wat gelei het tot noodsaaklike gesprek – woord én daad – oor hoe om dit aan te spreek.’

Beurs word geskep

Die skep van ’n kykNET-Rapport-beurs waarmee ’n nuwe literêre stem sy of haar skryfkuns vir een jaar by ’n erkende instansie vir kreatiewe skryfwerk kan slyp, het ten doel om in klein maat hierdie diversiteit te help stimuleer en die ryk variante van Afrikaans te bevorder.

Meer besonderhede oor die beurs word binnekort bekend gemaak.

Resensiepryse

Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar word in drie kategorieë toegeken vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke. Vanjaar se wenners is:

  • Fiksie: Willie Burger: ‘Kies ’n boek’ (oor Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach, Vrouekeur, 1 Februarie 2019)
  • Niefiksie: Bill Nasson: ‘Moet ons die ABO nou liefs vir die romansiers los?’ (oor Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter deur Chris Schoeman, Rapport Weekliks, 8 Desember 2019)
  • Langer resensie: Hein Willemse: LitNet Akademies-resensie-essay oor Verset en opbou:Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans deur JC Steyn, LitNet, 31 Oktober 2019.

Die sameroeper van die resensiekeurpaneel, Bibi Slippers, sê daar was vanjaar nuwe resensente wat verras het met sterk inskrywings, en gereelde resensente van wie meer as een inskrywing ’n aanspraakmaker was. ‘In beide die fiksie- en niefiksiekategorie was daar meer uitskieter-resensies as waarvoor ons op die kortlys kon plek maak. Veral die algehele gehalte van inskrywings in die niefiksiekategorie was merkbaar beter as vorige jare.’

Die keurpanele van die onderskeie pryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Kirby van der Merwe, Elmari Rautenbach, Thys Human, Gerrit Schoonhoven; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Herman Binge, Bill Nasson, Martie Meiring, Irma du Plessis; kykNET-Rapport-filmprys: Tina Kruger, Gerrit Schoonhoven, Herman Binge; Jan Rabie-Rapportprys: Alida Potgieter, Steward van Wyk, Danie Marias; kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar: Bibi Slippers, Mercy Kannemeyer, Jomarié Botha.

Die aanbieders van die aanlyn aankondigings was Karen Meiring van kykNET en Waldimar Pelser van Rapport.

Einde

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Boekpryse Jan Rabie-Rapportprys kykNET-Rapport-boekpryse Penguin Random House SA Strafjaart Theo Kemp Video Waldimar Pelser Wenner


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments