C

Harry Kalmer, Chanette Paul en Dina Botha word vereer by die ATKV-Woordveertjies 2020
 More about the book!

Die wenners van die ATKV-Woordveertjies is pas bekendgemaak!

Die ATKV-Prosaprys gaan vanjaar aan Harry Kalmer vir In ’n land sonder voëls. Harry is verlede jaar, kort nadat die boek verskyn het, oorlede. Die beoordelaars verwys ook na Harry se hele oeuvre en die feit dat hy tot nog toe slegs erkenning ontvang het vir A Thousand Tales of Johannesburg, die Engelse weergawe van die Afrikaanse boek met ’n soortgelyke titel. Harry, ’n innemende, vriendelike en sagte man, het sy kreatiwiteit – hy het in die advertensiewese gewerk – ook in sy boeke uitgeleef. ’n Waardige wenner, baie geluk.

Lira deur Chanette Paul wen die Prys vir Liefdesromans, en die Prys vir Romanses gaan aan Halsoorkop verlief deur Dina Botha. Beide boeke verskyn by LAPA Uitgewers, ‘n onderafdeling van Penguin Random House SA.

LAPA se kinder- en jeugboekskrywers seëvier in die ATKV-Kinderboektoekennings-kategorie waar die leerders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem:

  • Sasha word stil deur Jaco Jacobs, met illustrasies deur Angela Banks, wen in die Voorleeskategorie: Graad RR–1.
  • Monsterpizza deur Jaco Jacobs, met illustrasies deur Yolandi Prins, wen in die Selfleeskategorie: Graad 2–3.
  • Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai deur Fanie Viljoen wen in die Selfleeskategorie: Graad 4–5.
  • ’n Ou soos jy deur Annabel Allers wen in die Selfleeskategorie: Graad 6–7.
  • Die 17de veer deur Nanette van Rooyen wen in die Selfleeskategorie: Graad 8–10.

Veels geluk aan al die wenners van die ATKV-Woordveertjies en Kinderboektoekennings 2020! Kyk gerus na die al die video-aankondigings op Facebook.

***

Lees die persverklaring:

Gesogte ATKV-Woordveertjies vir uitblinkers

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlynbekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – het die waarde van lees weer opnuut na vore gekom en onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed.

ATKV-Woordveertjies 2020

Die kategorie vir Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Shireen Crotz, Roela Hattingh en Ilse Salzwedel met die wenner: Lira – Chanette Paul (LAPA Uitgewers).

Die Prys vir Romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust beoordeel met die wenner: Halsoorkop verlief – Dina Botha (Romanza).

Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal het die Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Grondwater – Marlise Joubert (Protea Boekhuis).

Marina Griebenow, Theo Kemp en Ilse Oppelt was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Opdrifsel – Philip Rademeyer.

Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is beoordeel deur Wannie Carstens, Ernst Kotzé en Elsabé Taljard en is aan Legal terminology: English, Xhosa, Afrikaans/Regsterminologie: Engels, Xhosa, Afrikaans (2019) toegeken. Dit is saamgestel deur die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale. Uitgegee deur JUTA. (Verkorte titel).

Die Prys vir Niefiksie is deur Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen – Carel van der Merwe (Protea Boekhuis).

Die Prys vir Spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Anderman se vrou – Chris Karsten (Human & Rousseau).

Harry Kalmer word vir In ’n land sonder voëls (Penguin Random House) postuum vereer met die ATKV-Prosaprys. Die beoordelaars in die kategorie was Elmari Rautenbach, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.

ATKV-Kinderboektoekennings

Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die leerders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Sasha word stil

Illustreerder: Angela Banks (LAPA Uitgewers) – Sasha word stil

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Monsterpizza

Illustreerder: Yolandi Prins (LAPA Uitgewers) – Monsterpizza

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai

Illustreerder: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

Skrywer: Annabel Allers (LAPA Uitgewers) – ’n Ou soos jy

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

Skrywer: Nanette van Rooyen (LAPA Uitgewers) – Die 17de veer

Die Toekenning vir Leesbevordering gaan vanjaar aan die Uyavula Lees- en Skryfprojek.

Die Uyavula Lees- en Skryfprojek wil ’n liefde vir stories en boeke by kinders kweek.

Die projek bedien kleuters tot 13-jarige kinders in Macassar, Chris Nissen Park en Onverwacht (wat die gemeenskappe van Nomzamo, Zola en Lwandle bedien) deur middel van leesklubs en voorleesgeleenthede in Grondslagfase-klasse of individuele kinders. Tydens 2019 het 119 vrywilligers ongeveer 2093 kinders bereik in vyf skole, 52 klasse en vier leesklubs.

Malinda Kruger, hoof van Altena Primêre Skool, som Uyavula se inset so op: ‘To all the classes the visits were the highlight of the week. Readers put great effort into the choice of books, questions they asked and discussions about the stories afterwards. A love for reading, stories and books were created. The learners started behaving better and some were even removed from the list of learners with behaviour barriers. We cannot imagine teaching and learning anymore without the support of Uyavula readers. May they forever be part of the Altena family.’

Keer op keer staan ons in verwondering oor die wyse waarop iets so maklik, eenvoudig en boonop ‘lekker’, gebruik word om ’n betekenisvolle verskil te maak op soveel vlakke en in vele harte.

Einde

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans ATKV ATKV-Woordveertjies 2020 Chanette Paul Dina Botha Halsoorkop verlief Harry Kalmer In 'n land sonder voels LAPA LAPA Uitgewers Lira Penguin Random House SA Video Wenners


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments