C

Lira en Mirre: Hier’s als wat jy moet weet oor die eerste twee boeke in Chanette Paul se Vywervrou-trilogie
 More about the book!

LAPA Uitgewers het groot nuus – die derde boek in Chanette Paul se Vywervrou-trilogie het pas op ons rakke verskyn. Hier is ‘n kykie na die vorige twee boeke in die reeks, Lira en Mirre, wat in 2019 verskyn het. Watter een was jou gunsteling?

Vywervrou 1: Lira

Lira – Chanette PaulDie eerste boek in die Vywervrou-reeks! Ons tel die dae af voor Corali haar verskyn maak! Watter boek was tot dusver jou gunsteling in die reeks? #Lira of #Mirre?

Posted by LAPA Uitgewers on Monday, January 27, 2020


Oor die boek

Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak, maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ʼn ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe.

Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het.

Sy beland op Vywerbaai waar sy ʼn winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie, maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle.

Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ʼn vierde, maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ʼn sterwende vrou en ʼn kind wat Lira haat.

Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel, maar hou ook ʼn waarskuwing in: Ter wille van sy kinders, sal ʼn man sy taaibosspies deur ʼn vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet.

Maar soos haar vriendin Corali sê: ‘Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man, vrou of kind nie.’

Vywervrou 2: Mirre

Mirre – Chanette PaulDie tweede boek in die Vywervrou-reeks! Ons kan nie wag vir Corali nie! 🧜‍♀️🌊

Posted by LAPA Uitgewers on Wednesday, January 29, 2020


Oor die boek

Hoe kan Mirre haar man – ʼn befaamde huweliksberader – se loopbaan vernietig terwyl sy weet hy is die produk van ʼn disfunksionele gesin? As sy ’n klag van huishoudelike geweld lê sal André haar nooit vergewe nie. Boek twee van die Vywervrou-trilogie.

Lees ‘n uittreksel uit Mirre:

Alles versplinter. Die see agter die glasskuifdeure breek soos ’n spieël. André se gesig word ’n legkaart wat uitmekaar spat. Kolkende swart en rooi is al wat oorbly van haar sig.

Nog ’n vuishou. Dié keer op die neus. Mirre snak na asem. Die swart en rooi word diep, donker pers.

Die volgende hou klap teen haar mond, knip haar gil kort.

Pyn volg kort op die hakke van verbystering.

‘Ná alles wat ek vir jou gedoen het! Gegee het! Van jou gemaak het! Iets van niets!’ Sy weet André skree, maar die woorde kom van ver af.

‘En dit met Boeta Naudé! ’n Fokken Neanderdaller! ’n Agtertangse ploert! Hoe kan jy dit aan my doen?’

Mirre koes blindelings toe hy met ’n gefrustreerde uitroep nog ’n vuishou na haar mik. Sy voel die beweging van lug verby haar kop trek. André is vir ’n oomblik van balans af.

Sy benut haar kans instinktief en hardloop. Sy struikel op die trappies wat boontoe loop na die portaal, maar herwin haar balans.

Pyn disoriënteer haar. Alles om haar lyk skeefgetrek – vierkante word parallelogramme, rond is nou ovaal. Sy gryp haar motorsleutels op die tafel by die voordeur tog raak. Haar linkerpalm klap teen die skakelaar vir die veiligheidshek. Haar regterhand vind die sleutel in die slot van die voordeur, draai, sy druk teen die deur wat op sy spil oopswaai, wurm haar deur die opening nog voor dit heeltemal oop is. Dit stuit die veel groter André, maar net ’n paar sekondes lank.

Mirre druk die afstandbeheerder wat haar motor oopsluit, toe op die tweede afstandbeheerder, die paniekknoppie. Laat val amper die sleutels. Sy pluk die deur oop, beland half skuins in die sitplek, skakel die enjin aan, al is die deur nog nie toe nie en tru deur die gaping wat die veiligheidshek reeds gelaat het. André slaan met sy hand op die enjinkap, skree iets. Sy swaai die motor blindelings in die straat in. ’n Toeter blêr. Sy verwag ’n slag, maar daar is net ’n lang getrompetter toe ’n motor rakelings verby hare ry.

Eers by die eerste stopstraat maak sy die deur behoorlik toe. By die een daarna sit sy haar veiligheidsgordel aan, meer om die gepiep stil te kry as dat sy bekommerd is oor haar veiligheid. Veiligheid bestaan nie meer nie.

By die derde stopstraat raap sy ’n hand vol snesies uit die boks wat sy altyd in haar motor hou en spoeg die bloed wat dreig om haar naar te maak daarin uit.

André se motor is in die motorhuis, terwyl hare in die oprit gestaan het. Hy sal eers sy sleutels moet kry. Die roldeur oopkry. Die veiligheidshek. Dit sal hom minstens vyf minute vertraag. Hopelik sewe. As die sekuriteitsmense so blitsig soos gewoonlik op die panieksein reageer, hou hulle André dalk lank genoeg besig dat sy op die oop pad kan kom.

Met net een oog waardeur sy kan sien, sukkel sy om distansie te skat, maar al het sy die roete jare laas gery, ken sy die pad soos die palm van haar hand.

High Level Road. Links in Hill. Regs in Main. Om die sirkel by Groenpunt.

Geen swart BMW in die truspieël nie.

Helen Suzman Boulevard. Nelson Mandela Boulevard. Settlers Way.

Op die N2 begin sy effens ontspan, al bly sy die truspieël dophou. Dis asof die pyn haar voorlopig genadig was, maar nou slaan dit met felle geweld toe. Asof André se vuiste haar opnuut tref.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Chanette Paul Corali LAPA LAPA Uitgewers Lira Mirre Uittreksel Video Vywervrou-trilogie


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments