C

‘Ek het dadelik besef ek is in groot gevaar’: Lees die Inleiding tot Ina Bonnette se aangrypende verhaal, INA
 More about the book!

Geslagsgeweld vier hoogty in Suid-Afrikaanse gemeenskappe, en stories van oorwinnaars is dun gesaai. In INA, ’n Verhaal van genade en genesing, vertel Ina Bonnette haar persoonlike en merkwaardige verhaal van oorlewing en oorwinning.

In die Inleiding deel Ina haar eie weergawe van die wrede aanval en marteling deur die Modimolle Monster wat opslae gemaak het toe hy en drie handlangers haar oorrompel het. Sy vertel van die skok en angs wat sy beleef het, en hoe sy vrou-alleen teen vier mans teruggeveg het.

Nie vir sensitiewe lesers nie.

Lees die uittreksel:

~~~

INLEIDING

3 Januarie 2012

Ek en Kotzé het in die gang afgestap. Hy het my by die eerste vertrek laat inloop. Dit was skuins na drie in die middag, maar ek het opgelet die vertrek is donker omdat die gordyne toe was. Ek het nét my handsak op die bedkassie neergesit, toe ek met die opkomslag voel hoe iets oor my gesig gegooi en ek met ‘n kragtige beweging teruggeruk word. Ek het myself probeer oplig deur met my rug teen sy maag te druk en teen die deurkosyn vas te skop, maar ek kon dit nie regkry nie. Die volgende oomblik het hy my hard en met geweld die kamer ingestamp. Ek het op my maag bo-op ‘n boks, wat op die bed was, te lande gekom. Die handdoek het intussen van my gesig afgekom, en ek het onmiddelik probeer omdraai om op te spring. Ek het begin skree. Ek wou weghardloop. Een man het agter die kamerdeur uitgekom, die ander een half uit die ingeboude kas wat aan die voetenend van die bed gestaan het en die derde van langs die losstaande hangkas agter die kamerdeur. Skielik was daar drie vreemde mans voor my. Daar was swart sykouse oor hul koppe. Ek was geskok, beangs en benoud en het begin gil. Ek het nie geweet wat aangaan nie, maar ek het dadelik besef ek is in groot gevaar. Ek het weer probeer opkom, maar Kotzé het my hard teruggestamp en wydsbeen bo-op my kom sit. Hy het my met sy vuiste in my gesig en oor my hele bolyf begin slaan.

‘Bind haar vas!’ het hy die ander beveel. Daar was reeds toue en kabelbinders aan die kopstuk van die bed en vensterbank waaraan hulle my kon vasmaak. Angs het my oorweldig. Ek het met alles in my weer na hulle begin skop en hard om hulp geskree, maar hoe meer ek gespartel het, hoe meer het Kotzé my met die vuiste en sy plathand deur die gesig en oor my bolyf geslaan. Die mans het met ‘n erge gestoei my hande vasgebind. Hoe meer ek my arms geruk en -pluk het terwyl ek geveg het om los te kom, hoe stywer het die binders om my gewrigte geknel.

‘Hendrik, bring die tape,’ het hy beveel. Een van die mans het na die kas gestap. Dringender: ‘Sy raas! Plak haar mond toe.’ Die man het by my kom staan; hy kon nie die kleefband geskeur kry nie. ‘Draai dit reg om haar kop!’

Hendrik het dit gedoen. Die kleefband was nou styf om my kop. Ek het net ‘n klein stukkie neusgat oorgehad om deur asem te haal. Op daardie oomblik het ek nog steeds nie besef wat besig was om te gebeur nie. Die adrenalien het gepomp, en ek het net aanhou baklei om los te kom. Dit was drukkend warm. Die reuk van sweet het swaar in die kamer gehang.

Kotzé het my aanhou beledig. Hy het my vertel wat ‘n slegte hoer ek is en aan sy trawante gesê: ‘Vandag gaan julle drie voel hoe dit voel om ‘n wit vrou te verkrag. Kry julleself solank reg!’

~~~

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa South African Current Affairs

Tags Book excerpts Book extracts GBV Gender-based Violence Geslagsgeweld INA Ina ’n Verhaal van genade en genesing Ina Bonnette LAPA LAPA Uitgewers LUCA Modimolle Monster Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments