C

Chanette Paul skryf oor die opwinding, chroniese kommer en permanente paniek van skryf in The Penguin Post
 More about the book!

Om te skryf: Droewe Proewe

Om te begin skryf aan iets nuut is soos om alleen in ’n ouditorium te sit, sê Chanette Paul.

Die verhoog se gordyne is nog toe. Jy weet net ’n knertsie van wat die stuk behels en kan nie wag om te sien hoe dit gaan uitspeel en afloop nie. Die ligte doof. Afwagting klop deur jou. Die gordyne skuif stadig oop.

Die eerste derde van ’n manuskrip is ’n opwindende ontdekking. Jy voel-voel na die storie, doen navorsing wat jou dikwels op ’n nuwe spoor bring of inligting oplewer wat van jou idees nekomdraai. Jy laat toe dat die karakters jou lei en verlei terwyl jy hulle beter leer ken.

Wanneer die tweede derde aanbreek muteer die entoesiasme geleidelik tot chroniese kommer. Hoe knoop ek dié aan daai. Hoekom het daardie karakter dít staan en aanvang? Waarheen nou? En altyd bly die gevaar van die gevreesde ‘sagging middle’ in jou agterkop.

Met die aanbreek van die laaste derde, is paniek jou permanente metgesel. Gaandeweg kom jy dieper onder die besef dis die swakste werk wat jy nog gelewer het.

Wanneer die slothoofstukke aan die beurt kom, is jy storievoos. Jy is fisiek en emosioneel uitgeput. Die slot is uiteindelik so opwindend soos flou tee sonder melk of suiker. Jy en jou storie het ruskans nodig, maar die sperdatum vir keuring stoom nader.

Jy redigeer vir oulaas, maar uiteindelik moet daardie stuurknoppie gedruk word al weet jy die manuskrip is ’n boggerop.

Jy wag vir die keurverslag, begin vermoed waar die grootste flaters lê. Kry hoop jy sal sommiges kan regstel. Raak moedeloos oor dié waarvoor jy nie oplossings het nie. Die weke draal verby teen slakkepas.

Uiteindelik is die keurverslag daar. Van jou vrese word bewaarheid. Ander kritiek tref jou soos koue water in die gesig. Die paar lofuitinge troos nie.

Herskrywing lê voor. Jy dink nie jy is opgewasse nie, maar jy trek jou aan die kruisbande op. Sommige dae is jy eufories omdat jy ’n oplossing kry, ander dae bevind jy jou op see in ’n boot sonder roer. Die sperdatum is ’n verblindende lig in jou oë. Dit breek aan. Jy stuur jou manuskrip.

Die weke draal verby. Jou uitgewer laat weet redigering is afgehandel, die manuskrip word geset. Die dae draal verby.

Die e-pos arriveer, bladproewe aangeheg – die droewigste fase van almal. Jy mag net kyk vir setfoute. Woorde wat verkeerd afgebreek is aan die einde van ’n reël. ’n Spelfout wat steeds deurgeglip het. ’n Leesteken of kursief of inkeping wat ontbreek of verkeerd gebruik is, iets wat uitgelaat is. As jy ʼn baie simpatieke uitgewer het, mag jy hier en daar nog foeter aan ’n sin.

Hoe verder jy lees, hoe dieper slaan die besef van wat jy eintlik moes gedoen het. Hier moes jy ’n toneel eerder uitgebeeld het, daar eerder net iets ingekrimp het tot ’n herinnering. Die slot kon soveel beter gewees het as jy net dit of dat gedoen het. Maar die lot is gewerp.

Volgende keer beter, belowe jy jouself en gaan sit in die teater. Wag dat die verhooggordyne oopritsel.

***

Die artikel was oorspronklik in die Julie-uitgawe van The Penguin Post gepubliseer, ’n tydskrif van Penguin Random House South Africa. Foto met dank aan Carine Duprez.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Chanette Paul LAPA LAPA Uitgewers Marilyn Penguin Random House SA Rubriek The Penguin Post


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments