Boeke is die beste geskenke … en hier is vyf kookboeke perfek vir foodies en storieliefhebbers

Bederf die boekwurms in jou lewe met die perfekte geskenk hierdie feesseisoen. Hier is vyf van die beste Afrikaanse kookboeke vir 2022:

Loer na die lys:

AleitApteit deur Aleit Swanepoel

AleitApteit is ’n boek gevul met stories van die geliefde Aleit Swanepoel. Kom reis en kook saam met hom, met ongeveer 50 resepte nie net uit sy eie pen (en kombuis) nie, maar ook uit dié van sy vriende.

Kom beleef saam die nostalgie, sy spesiale menswees en die heerlike kos wat hy nie net smullekker kon maak nie, maar ook mooi kon laat lyk: die ‘Aleit Way’. Deel sy hartskos – veral sy Sondagmiddagetes in sy ouerhuis, net soos sy ma dit gemaak het. Dit was spesiaal vir hom, en hy wou dit graag oordra en met sy mense deel. Hy het aande gesit en skryf, en dit dan baie opgewonde aan sy span gestuur en gesê: ‘Julle! Ek het nog ’n storie!’

AleitApteit is ’n hoofstuk van sy nalatenskap en ’n manier waarop hy vir altyd in mense se hart, kombuis en lewe kan voortleef. Dit is ’n pragkookboek, maar ook een wat deel van jou kombuis se bestanddele moet uitmaak – gevul met bekende hartskos en bypassende stories geskryf deur ’n legende.

***

Lekker & goed deur Carmen Niehaus

Lekker & goed: Heerlike kos propvol heilsaamheid is Carmen Niehaus se nuutste kookbook nadat sy reeds meer as 20 kookboeke uitgegee het.

Dit is ’n lekker-eet-boek met ou bekendes en nuwelinge wat gesonder gemaak is om steeds heerlik te kan eet sonder om skuldig te voel – net soos Carmen aan huis eet. Lekker & goed sluit ook ’n paar resepte in wat lae-koolhidrate bevat, glutenvry en vegetaries is en bevat heelwat vars en ongeprosesseerde produkte.

Carmen strewe na ’n gesonde lewenswyse en haar kookfilosofie en grootste uitdaging is daarom juis om alledaagse kos gesonder te maak sonder dat dit smaak of geur inboet. Die uitgangspunt is amper ’n tipe Mediterreense eetstyl, eerder as ’n dieetboek of ’n gesondheidshandleiding.

***

Low Carb is Lekker Drie deur Inè Reynierse

Met Low Carb is Lekker Drie sit Inè Reynierse die reis voort wat sy in 2015 begin het toe haar bekroonde kookboek, Low Carb is Lekker, die land stormenderhand verower het.

Inè se resepte voorsien in die behoefte vir koolhidraatbewuste, suikervrye en graanvrye maaltye, maar plaas die klem op hoër voedingswaarde en gesonde eetgewoontes. Vir haar geregte het jy nie spesialiteitsbestanddele of duur kosplaasvervangers nodig nie.

Danksy haar fokus op die verbetering van algemene gesondheid en welstand is Inè se resepte ideaal vir enigeen wat elke dag van die week goeie kos op die tafel wil sit.

Probeer gerus haar resep vir Sjokolade-chia-en-frambooshappies asook haar slim-koolhidraat resep vir Sjoechi-Beetblatjang. Ook in Engels beskikbaar as Low Carb is Lekker Three

***

Kosbaar deur Elmarie Berry

Kosbaar is Elmarie Berry se eerste kookboek hoewel sy reeds sedert 2015 ’n bekende kosblogskrywer is. Haar hartsbegeerte is om ’n boek uit te gee wat jou siel sal voed en waarmee jy in jou kombuis met jou nabye vriende en familie herinneringe kan skep.

In haar eie woorde: ‘Kos is ’n manier en plek om bymekaar te kom, om rustig te raak en om jou hart oop te maak om te deel, lief te hê en lekker te lag. Geniet die reis en samesyn!’

Kosbaar bevat meer as 100 eg Suid-Afrikaanse resepte – en ook heelwat graanvrye resepte omdat Elmarie onlangs uitgevind het sy is allergies vir graan. Met ’n Libanese ouma toon haar kosvoorkeure ’n goeie mengsel van boerekos met ’n sterk Libanese invloed.

Daar is ou gunstelinge soos roosterkoek en nostalgiese melktert, en party kry ’n nuwe baadjie, soos malvapoeding met ’n pinotagesous en pitahamburgers met Griekse jogurtsous.

***

My stasie straat kombuis deur Mynhardt Joubert

Sjef Mynhardt Joubert kook al die afgelope vyf jaar in sy Stasie Straat Kombuis in die Paarl in die Wes-Kaap waar hy etes vir betalende gaste aanbied, as gasheer vir mediabekendstellings optree, en sy huis as ’n kreatiewe ruimte en fotografiese ateljee gebruik.

Die boek, My Stasie Straat Kombuis, is ’n weerspieëling van sy kombuis en die etes wat hy daar aanbied, en is ook beskikbaar in Engels as My Station Street Kitchen. Mynhardt geur alles wat hy doen met geesdrif, lewenslus en sy liefde vir kos wat gespruit het uit sy lewenservaringe, van sy kinderjare op ’n plaas in die Oos-Vrystaat tot sy reise in die buiteland en oor Suid-Afrika heen.

Sluit by hom aan in die gulhartige en warm omgewing van sy Stasie Straat Kombuis en skep jou eie kulinêre lekkernye, berei met joie de vivre en armsvol liefde – net soos hierdie papawersaadkoek-resep.

Categories Afrikaans Cookery Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Aleit Swanepoel AleitApteit Carmen Niehaus Elmarie Berry Festive Gifts 2022 Geskenke Gifts Ine Reynierse Kookboeke Kosbaar LAPA Uitgewers Lekker & goed Low Carb is Lekker Drie My Stasie Straat Kombuis Mynhardt Joubert News Penguin Random House SA


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments