C

Perfek vir ’n groot familiefeesmaal! Probeer Sjef Mynhardt Joubert se Papawersaadkoek-resep uit My Stasie Straat Kombuis
 More about the book!

Penguin Random House SA deel graag ’n Papawersaadkoek-resep uit My Stasie Straat Kombuis deur Sjef Mynhardt Joubert!

My Stasie Straat Kombuis is ’n weerspieëling van sy kombuis in die Paarl in die Wes-Kaap en die etes wat hy daar aanbied. Mynhardt geur alles wat hy doen met geesdrif, lewenslus en sy liefde vir kos wat gespruit het uit sy lewenservaringe, van sy kinderjare op ’n plaas in die Oos-Vrystaat tot sy reise in die buiteland en oor Suid-Afrika heen.

Hierdie Papawersaadkoek is ’n ou familiegunsteling, skryf Mynhardt in sy boek, perfek vir allerhande soorte feestelike familiegeleenthede.

Probeer gerus die resep uit My Stasie Straat Kombuis:

~~~

Papawersaadkoek

Ons kinders is al van jongs af dol oor hierdie koek en dit is oor die jare vir allerhande soorte feestelike familiegeleenthede gemaak. Ek en my suster het die oorspronklike resep aangepas en al die bestanddele verdubbel vir ’n groter en heerlike klam koek. Dit is ryk en vullend en ideaal vir ’n verjaardag of enige geleentheid vir groot groepe. Laat staan vir minstens ’n dag sodat die geur en digtheid kan verbeter – jy sal nie spyt wees dat jy gewag het nie.

 

Genoeg vir: 8–10

Voorbereiding: 20 minute

Baktyd: 30–40 minute

Oondtemperatuur: 180 °C

 

Koek

6 ekstra groot eiers

630 g strooisuiker

250 ml kanola-olie

500 g ongegeurde dubbelroomjogurt

150 g papawersaad

160 g droë klapper

350 g bruismeel

Eetbare vars blomme vir versiering

 

Versiersel

100 g botter, saggemaak

400 g crème fraîche

130 g versiersuiker

10 ml vanieljepasta of -ekstrak

400 g wit sjokolade van goeie gehalte, gesmelt

 

Koek

Voorverhit die oond en voer 2 goed gesmeerde 28 cm-losboomkoekpanne met bakpapier uit, die kante inkluis.

Verroom die eiers en suiker tot lig en donsig. Voeg die olie en jogurt by en meng deur. Voeg die papawersaad, klapper en meel by en meng deeglik. Verdeel die beslag tussen die voorbereide koekpanne.

Bak vir 30–40 minute of tot ’n tandestokkie skoon uitkom wanneer jy dit in die middel insteek. Keer uit op draadrakke en laat afkoel.

Smeer versiersel tussen die lae en pak die koeke opmekaar. Smeer die oorblywende versiersel bo-op. Versier met vars rose of ander eetbare blomme.

 

Versiersel

Verroom die botter en crème fraîche met ’n elektriese klitser.

Voeg die versiersuiker en vanielje by en klits deur. Voeg die gesmelte sjokolade by en klits tot verdik. Bêre by kamertemperatuur as jy die versiersel nie dadelik gaan gebruik nie.

 

Notas en wenke

Versier die koek met vars laventel en rose – dit sal die mooiste verjaardaggeskenk maak.

~~~

Resep uit My Stasie Straat Kombuis deur Mynhardt Joubert, nou beskikbaar.

Categories Afrikaans Cookery Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts My Stasie Straat Kombuis Papawersaadkoek Penguin Random House SA Recipes Sjef Mynhardt Joubert


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments