C

‘O vrek, my fiets! En my skoolsak!’ Lees ’n uittreksel uit Jy handle dit net deur Eleanor Lombard (Plus: Video en ’n kompetisie)
 More about the book!

LAPA Uitgewers het onlangs ’n boeklokprent en ’n uittreksel gedeel uit Jy handle dit net, Eleanor Lombard se jeugverhaal oor ’n jong seun, Drikus, wat voel soos God se afskeepkind. Dis nou totdat hy vir Donovan, ’n straatkind met ’n unieke uitkyk op die lewe, ontmoet.

Die boek is geskik vir ouderdomme 11+ en open met ’n woordelys vir Kaapse Afrikaans.

Kyk na die boeklokprent:

Lees die uittreksel:

~~~

Ek het die voordeur nog net halfpad oop toe ek al begin roep.

‘Ma, help!’

Die bloed drup op die wit teëls, maak ’n plassie. Ek gril vir bloed – veral as dit my eie is. My kop draai. Ek weet nou dis waar dat mens sterretjies sien as jy jou kop hard genoeg stamp.

‘Seun, wat het jou oorgekom?’ wil my ma weet toe sy my verrinneweerde broek en die bloed aan my hemp en op die vloer sien. Sy wag nie eens vir ’n antwoord nie en begin my dadelik badkamer toe help. Ek trap in die bloed en my regtervoet laat ’n spoor agter.

‘Ma se vloer …’ begin ek. Sy kry gewoonlik horries as ons haar vloere vuiltrap.

‘Die vloer is niks. Vertel liewer wat gebeur het,’ vra sy terwyl sy die bloed met ’n nat handdoek van my gesig begin afwas.

‘Ek het geval, met my fiets.’

Die trane net agter my oë brand amper meer as die seerplekke.

Ek moet nou net nie nog begin tjank ook nie. Maar jinne, dis deksels seer.

My kleinsus Minki het ook nou bygekom. Dit lyk darem of sy my ’n bietjie jammer kry. ‘Sjoe, siestog, Drikus. Jikkie, kyk die baie bloed!’

‘Toemaar, toemaar. Dis nie so erg soos dit lyk nie,’ probeer my ma troos. ‘’n Kopwond bloei gewoonlik baie, al is die sny nie so erg nie.’

Die goed wat my ma op die stukkende plekke sit, brand soos die duiwel. Ek vra nie eens hoekom sy so sê nie.

‘Ai tog, jy het groot geskrik. Minki, gaan maak gou suikerwater. Dit sal help vir die skok.’

‘Nee wat, Ma, ek is orraait.’ Ek hou my dapperder as wat ek voel toe ek weer my stem kan vertrou. My elmboog is nerfaf en my duim pyn. Die skrape aan my bobeen en knie lyk die ergste. ‘Kyk hoe flenters is my skoolbroek,’ sê ek terwyl ek dit uittrek sodat my ma al die seerplekke kan bykom.

Later is ek al hinkende en pinkende kamer toe sodat ek ander klere kan gaan aantrek. Minki loop soos ’n nuuskierige agie agterna.

‘Wat het gebeur, Drikus, jong? Hoe lyk jou fiets? Waar is jou skoolsak?’ wil sy alles tegelyk weet.

O vrek, my fiets! En my skoolsak! Ek het alles net so op die sypaadjie voor die huis laat lê. Al waaraan ek kon dink, was om so gou as moontlik in die huis te kom.

Net toe lui die voordeurklokkie …

~~~

Kompetisietyd!

Teken in op LUCA se nuusbrief voor 31 Augustus 2022 en jy kan dalk wegstap met ‘n pragtige LUCA-geskenkpak! Hierdie geskenkpak sluit in: Toe als groen was deur An-Mari do Carmo, Toe ons in Ghrieshuis was deur Maretha Maartens, Jy handle dit net deur Eleanor Lombard en Hoeveel tande het ‘n engel deur Jan Vermeulen. Bepalings en voorwaardes geld.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Book trailer Competition Eleanor Lombard Jy handle dit net LAPA Uitgewers LUCA Uittreksel Video Wen Win


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments