C

Het jy al Murasie deur Chanette Paul in die hande gekry? Lees nou die eerste hoofstuk!
 More about the book!

Na ’n ontstuimige Twittergeveg wat haar lewe bedreig vlug Georgie Rabie vanuit Kaapstad na haar peetma se huis op Verlatenfontein.

Maar moles is nie ongekend op Verlatenfontein nie. Moord ook nie. Inteendeel … Ras Erasmus is glad nie gelukkig oor die huurpag wat op ’n gedeelte van die plaas bestaan nie. Die einste plaas waarheen Georgie oppad is.

Lees nou die uittreksel:

~~~

Een

Vrydag 9 April 2021
Kaapstad
Georgie

Met haar ebbehout vel so glad soos satyn, haar ligbruin, amandelvormige oë en gul glimlag, is Dudzi maklik die mooiste vrou wat Georgie ken. Vandag is die dreads, deurspek van bont krale, in ’n hoë poniestert vasgemaak. Die gul glimlag ontbreek egter en haar oë spreek van erns.

‘For fuck’s sake, Georgina Rabie! Was jy gesuip of wat?’ Dudzi is ’n vriendin duisend, maar die sagsinnigste mens suid van die ewenaar is sy nie.

‘Ek het ’n paar Savanna Lights ingehad, maar was baie eerder moerig as gesuip. Ek kon nie meer die vent se arrogansie en opgeblasenheid vat nie. Asof dit nie genoeg is dat hy my onregverdig gefire gekry het nie. Daardie twiet het net my moermeter rooi laat sien. En jy van alle mense moet weet ek het dit nie rassisties bedoel nie. Hy het die woord uit verband geruk.’

‘Dis nou die woord “bastard”?’ Dudzi kan ’n oogrol uitvoer soos geen ander mens nie.

Georgie frommel haar servet op en druk dit in die koppie waarin nog net die skuimrande van haar cappuccino sit. ‘Ek het nie bedoel hy is van gemengde ras of buite-egtelik nie. Net in die algemeen. Soos in vloeksteen of bliksem of skobbejak. Die Engelse leksikon bied net nie die verskeidenheid om iemand ordentlik sleg te sê nie.’

Dudzi aktiveer haar foon en hou die skerm voor Georgie. ‘Lees dit hardop.’

Georgie rol haar oë al weet sy dis net ’n swak weergawe van Dudzi se meesterskap op die gebied.

‘Lees, dêmmit.’

‘Oukei, oukei. Ek weet ek was out of line.’

‘Lees! Hardop.’

Sy pluk die foon uit Dudzi se hand. ‘Fine. Dit het begin met sy twiet. “At last I managed to get rid of a racist bitch who thought the colour of her skin made her my superior.”

‘En toe antwoord ek: “YOU are the bloody racist. My superiority has nothing to do with skin colour but with your ineptitude. You’re just an arrogant, BEE-appointed bastard with a sense of entitlement and nothing to back up the latter.”’

Haar oë gaan vanself na Zenzele se antwoord. For your information I’m a proud Zulu and my father paid lobola for my mother before I was conceived. You are the bastard, white supremacist bitch.

En haar antwoord daarop? Possibly a bastard – in the sense you use it. Most of us in Mzanzi are of mixed blood. But at least I’m not a misogynistic, racist idiot who misunderstands the complexity of context, syntax and semantics.

En syne: I have two beautiful wives and they both love me. Did you think I wouldn’t know what misogynist means?

Waarop sy afgesluit het met: Your wives have my sincerest sympathy. En gelukkig het sy daarna gaan slaap.

Sy gee Dudzi se foon vir haar terug.

‘Georgie? Het jy ’n breinzap gehad?’ Dudzi kyk dié keer eerder moedeloos as ontstoke na haar.

Georgie skud haar kop. ‘Ek het net so magteloos kwaad gevoel, Dudz. Ek was gatvol vir die manier waarop ek by die werk behandel, newwermaaind gefire, is. Ek het baie beter kwalifikasies as die vent, jare meer ervaring en ek het drie keer so hard soos hy gewerk, maar is telkens oorgesien vir bevordering. Ondanks die Loerie- en die IDIDTHAT-toekennings wat ons gekry het vir die ads waar ek die creative lead was. En wanneer hy stront aanjaag, wat baie dikwels is, het ek die skuld gekry. Telkens wanneer ek ’n blink idee bedink, kry Zenzele die eer. Soos jy uit eie ondervinding weet. En dis hy wat daardie laaste bleddie briljante advertensiekonsep van ons as cultural appropriation geëtiketteer het terwyl dit juis assimilerend bedoel was – soos enige mens sonder vooroordeel sou kon insien.’

‘Ja, ek weet al daardie dinge, maar waar moet ’n mens eerder begin as met ’n bekgeveg op Twitter?’

‘Management?’ Georgie snork. ‘Die een helfte van die bestuur is aan sy kant en die ander helfte skytbang hulle word van rassisme beskuldig of dat hulle nie woke is nie. Dis hoekom hulle ons laaste advertensiekonsep gekelder het en ek gefire is op grond daarvan dat ek glo toondoof is. En dit weet jy ook.’

‘Sure, maar nou is jy nie net gefire nie, jy het boonop die manne met die red berets op jou spoor.’ Sy beduie na haar foon. ‘Het jy gesien wat daarna aangegaan het?’

‘Eers vanoggend. Ek het ná my laaste twiet gaan slaap. Maar ek het nie deur die hele thread gegaan nie. Net die eerste paar twiets wat op myne volg, gelees. Ek het opgehou by die een waarin Zenzele verkondig dat ek nie net oor ‘lack of wokeness and being culturally malapropos’ gefire is nie, maar oor ‘blatant racism’. En toe die konsep uitgeblaker, maar heeltemal verdraai het sodat dit soos rassisme moet lyk. Dit was meer as genoeg.’

‘Wel, Sisi, jy is behoorlik op die bodem van strontfontein.’

Waarder woorde is daar nie. Werkloos, wit, oor veertig, op berugte wyse geskei en nou boonop gebrandmerk as ’n bitch en, nog erger, ’n rassis. Voeg die viruseffek daarby en haar vooruitsigte om werk te kry, laat staan ’n ordentlike een, is net mooi nul. Ondanks ’n honneursgraad en minstens vyftien jaar ondervinding in die reklamebedryf. Sy moet net bid die MRK gaan haar nie boonop wil vervolg nie.

Georgie is bly toe haar foon lui. Twitteraars kan haar maar skel, maar sy kan nie Dudzi se gramskap hanteer nie. ‘Hallo, Pa.’

‘Georgie, jy het groot probleme.’

‘Weet ek dit nie.’ Hopelik weet hy nie van die Twitter-gemors nie. Dis erg genoeg dat sy by hom moes bieg oor haar afdanking, al het sy dit vir hulle sielevrede maar liewer inkorting van personeel genoem. Oor Covid.

‘Nee, ek dink nie jy weet nie. So pas eers op die radio gehoor.’

‘Wat het Pa gehoor?’

Dudzi leun nader aan die foon om saam te luister.

‘Mense in rooi T-hemde toi-toi glo voor jou woonstelgebou.’

‘Ag, my goeie fok! ’Skuus. Is Ma oukei?’ Haar ma kan juis so gou paniekerig raak.

‘Nee, Georgie, sy is nie. Jou ma is histeries. Waar is jy nou?’

‘By ’n coffee shop saam met Dudzi. Sê vir Ma …’

‘Waar is die koffiewinkel?’ val hy haar dwarsweg in die rede. Dis nie hoe haar pa is nie.

‘V&A Waterfront.’

‘Nou goed, luister mooi. Gina is toevallig in die Kaap en het hier aangekom en probeer verduidelik wat aangaan. Sy doen mos ook die voëltjieding. Iets gesê van viral en ’n hashtag. Wat dit ook al beteken.’

Haar pa is ’n slim man, maar ’n totale analfabeet wat sosiale media betref. Haar peetma, daarenteen, is ’n gereelde gebruiker al is Gina net vyf jaar jonger as haar broer.

‘Gina het aangebied dat jy na haar wegkruiphuis toe gaan. Moenie eens probeer om na jou woonstel terug te keer nie. Klim in jou kar en ry. Koop net die broodnodigste op pad daarheen. Gina sal van jou woonstel af bring wat jy verder nodig het.’

Oorkant haar begin Dudzi verwoed op haar slimfoon google terwyl sy steeds na die gesprek luister. Multitasking is haar groot talent.

‘Ek dag Gina bly daar vandat sy terug is? By haar wegkruiphuis, bedoel ek.’ ’n Plek waarheen Gina haar nog nooit genooi het nie. Ook nie vir haar ouers of enigiemand van wie sy weet nie.

‘Nee, sy was glo tot dusver in die Klein-Karoo.’

‘O.’ Wat op aarde maak sy in die Klein-Karoo, wil sy vra, maar dis nie nou van belang nie. ‘Maar wat van Thomas?’

‘Ag, vrek. Ek het van hom vergeet. Ek sal ’n plan maak dat iemand vir hom gaan kos gee.’

Dudzi wys na haarself.

Georgie skud haar kop. ‘Dudzi sou kon, maar ons weet nie hoe lank die gemors gaan voortduur nie. Gina sal Thomas ook moet saambring. Hy is baie verknog aan my en raak gou verbouereerd met dié dat hy doof is.’

‘Nou goed. Jy verstaan dat jy liewer nie hierheen moet kom nie?’

‘Ja, Pa. Ek wil beslis nie rooipetmoeilikheid na julle toe lok nie.’

‘Ek is jammer, Georgie, maar ’n mens moet prakties wees.’ Haar pa se sug is duidelik hoorbaar. ‘Ons is ’n spul ou mense hier. Die meeste is ouer as ek en jou ma. Mens wil nie ontwrigting veroorsaak nie.’

‘Dis oukei, Pa. Ek verstaan heeltemal.’ Die ruim ouerhuis waarin sy grootgeword het, moes verkoop word ná haar pa se vervroegde aftrede. Hulle moes in alle opsigte drasties afskaal om sy pensioen so ver as moontlik te rek. Die aftreekompleks is nie ideaal nie, maar hulle is ná die aanvanklike aanpassing glo heel gelukkig daar.

‘Goed. Ek stuur intussen aanwysings. Bel jou later weer.’ Hy lui af voor sy ’n verdere woord inkry.

‘Dit gaan nie heeltemal so maklik wees nie.’ Dudzi leun terug in haar stoel en sit haar foon neer. ‘Jou nommerplaat is getwiet. Jy kan jou sterre dank dis nie jou selnommer nie. Wie is Gina?’

‘My pa se suster en my peetma. Jy het haar nog nie ontmoet nie, sy is pas terug ná drie jaar in die buiteland. Die gap net betyds gevat om terug te kom toe vlugte hierheen weer toegelaat is.’

Dudzi draai een van haar dreads om en om haar vinger soos sy altyd maak wanneer sy oor iets nadink. ‘Waar is die wegkruipplek en hoekom het sy so ’n ding?’

‘Gina was op haar dag ’n bekende Afrikaanse aktrise en TV-persoonlikheid. In ’n stadium kon sy nêrens heen gaan sonder om herken te word nie. Vakansies ter plaatse het ’n nagmerrie geraak. Toe kry sy ’n stuk plaasgrond op huurpagbasis waar sy glo ’n ruïne in ’n vakansiehuis omskep het. Dis te moer en gone naby die Agulhas Nasionale Park. Of in die park. Of iets.’

‘Hoe ver?’

Georgie skud haar kop. ‘Ek weet nie, ek was nog nooit daar nie, maar my pa stuur aanwysings.’

‘Kan hy nie net die koördinate gee nie?’

‘Al wat my pa baasgeraak het wat tegnologie betref, is sy foon – en ook net om te bel, te e-pos, sms’e te stuur en, ná ’n groot gesukkel, kry hy ook WhatsApp reg. Ek het probeer om hom ’n paar ander goed ook te leer, maar hy het viervoet vasgesteek. Van GPS wil hy niks weet nie. Hy vertrou eerder ’n padkaart.’

Dudzi rol haar oë. ‘Nie gedink dis so erg nie. Hy is dan so ’n cool dude vir sy ouderdom?’

‘In alles behalwe tegnologie.’ Haar pa is cool, maar hy word ook al drie en sestig. En sy kop is permanent in die wolke. Frans Rabie is seker een van die verstrooidste mense wat sy ken en vandat hy agt jaar gelede in ’n vervroegde aftrede gedwing is, is dit erger as ooit. Al wat deesdae vir hom saak maak, is sy versamelings. Van vetplante tot munte tot wie weet wat sy flavour of the day nou is. Sy was lanklaas by hulle. Eers vanweë Covid en daarna omdat sy nie kans gesien het om in te veel detail uitgevra te word oor haar afdanking en wat sy nou gaan doen nie. Nou is sy spyt. Verlange na hulle trek ineens soos ’n swerm sprinkane deur haar, vernietig die redes vir die afstand wat sy tussen hulle geskep het. En tussen haar en Gina ook.

‘En jou ma?’

‘Wat sy van tegnologie weet, is wérklik gevaarlik.’ Haar ma is baie wonderlike dinge en ’n liewe, liewe mens, maar ’n rocket scientist is sy nie. Wie erken so diep in hierdie eeu nog dat haar hele lewe om huis en haard draai? Dit pla haar nie eens om haarself ’n huisvrou te noem nie.

Georgie klik haar tong. ‘Eish. Ek moes Gina se nommer gevra het. Sy sal ’n nuwe een hê vandat sy terug is.’

‘Anyway. Kom ons kyk wat sê Google Maps.’ Dudzi tel haar foon weer op en begin woel met haar duime. Hoe sy getik kry met daardie lang, silwer naels, is vir Georgie altyd ’n misterie. ‘Jy sê naby Agulhas?’

‘Naby die Nasionale Park daar. Of is dit nou Brandfontein? Ek weet nie, Dudz.’ Sy laat sak haar kop moedeloos in haar hande.

‘Wel, wat ook al, dit lyk asof dit minstens so drie ure se ry van hier af is. Maar dis as jy met die N2 ry. Dit sal beter wees as jy die highways so ver as moontlik vermy. En dan lyk dit my is dit oor die vier ure.’

‘Dink jy regtig mense gaan op die uitkyk wees vir my nommerplaat?’

‘Jip. Ek dink regtig so. En daarom dink ek jy moet dadelik ry. Daar is nie juis ’n ander opsie as die N2 tot by die Strand nie, maar daar kan jy afdraai Gordonsbaai toe en kuslangs ry. Kleinmond, Hermanus, Stanford, Gansbaai. Van daar af gaan jou pa of tante moet aanwysings gee afhangende van watter kant van die park die plaas is. Hopelik duskant, aan Gansbaai se kant, dan spaar jy ’n hele klomp kilometer. As dit aan Agulhas se kant is, is dit heelwat verder.’ Sy sit haar foon neer. ‘Toe, gaan pee dat jy in die pad kan val. Ek betaal solank ons rekening.’

‘Dankie, Dudz. Vir alles. Jy het nog die spaarsleutels vir my woonstel?’ Ook maar goed hulle het elkeen ’n stel van mekaar se sleutels laat maak nadat Dudzi een aand hare verloor het.

Dudzi knik. ‘Whatsapp my net Gina se nommer sodat ons kan reëlings tref.’

‘Ek sal my pa vra om dit vir my aan te stuur en jou laat weet. Wat Thomas betref, sy hokkie is bo-op die besemkas, sy korrels op die boonste rak en daar is ’n halwe blikkie van sy tuna in die yskas. En Dudz, jammer oor …’ Georgie weet nie waar om te begin nie. ‘Alles.’

Dudzi haak haar masker agter haar ore in. ‘Chill, Sista. Ek is aan jou kant. Ek het meer by jou geleer in die vier jaar wat ons saam gewerk het as op varsity. Daai vent is ’n racist asshole met ’n inferiority complex. Jy moes dit net nie op Twitter bewys het nie.’

Nee, sy moes nie. Maar nou het sy. Shit!

Vrydag 9 April 2021
Verlatenfontein
Ras

‘Hoe lyk dit? Sien jy kans?’ Inus pluk sy broek op van waar dit tot onder sy boep afgesak het. ’n Vergeefse aksie. Waarskynlik eerder maniërisme as doelgerig.

Ras kyk nog ’n maal om hom rond. Die linkerbeen van die H-vormige opstal is verwaarloos, maar intak. Die gang wat dit aan die regterkantste been koppel, ook – tot net voor dit daarby aansluit. Daar waar die kas was. Van daar af staan die meeste van die kalkklipmure nog, maar die rietdak, houtvloere en inhoud het nie ’n kans gestaan teen die brand nie. Hoe stewig die mure is, sal hy nog moet bepaal.

‘Dit bly vir my vreemd dat net die regterkantste deel van die opstal gebrand het. Die ander deel het tog ook ’n rietdak.’ Ras trek sy buff hoër op oor sy neus. Inus het maskerloos uit sy kar geklim. En dit met ’n derde vlaag moontlik op pad, en entstowwe vir Jan Alleman nog ver in die toekoms. ‘Ek verstaan dis nie die eerste keer dat dit gebeur nie?’

Inus lyk effens verras. ‘Is so. My oupagrootjie het hoeka die plaas teen ’n goeie prys gekry omdat daar toenterjare ook ’n brand was. Ook net halfpad gebrand. Net die deel wat destyds die nuwer deel was – aangebou toe die aanvanklike eienaar se seun hierheen getrek het. Die sogenaamde balsaal, die sitkamer en op die boonste verdieping die gesin se slaapkamers en ’n boudoir. Die destydse kombuis, gastekamers en ander vertrekke in die linkerkantste vleuel, dit wil sê die ouer deel van die opstal, het toe ook bly staan.’

‘Die eerste brand was in die vroeë negentienhonderds neem ek aan?’

Inus knik. ‘1901.’

‘En die oorspronklike eienaar was Bert Brewis?’

‘Eintlik was dit die befaamde Hendrik Brewis, Bert se pa, s’n. Hy het vir Bert in die agtiensestigs hierheen gestuur om die plaas te bestuur. Dis nou nadat Bert bankrot gespeel het. Ná Hendrik se oorlye was dit tegnies gesproke deel van ’n trust onder beheer van Brewis se ma, tot sy oorlede is. Bert se oudste dogter het egter aanhou boer daar. En toe brand die helfte van die opstal af op die dag van haar pa se dood en toe koop my grootgrootjie dit. So iets.’

Laat Inus maar dink hy het ’n les in die geskiedenis van Verlatenfontein nodig. Hoe moet hy immers weet daar is min wat sy potensiële restoureerder nié van die plaas weet nie. ‘Nogal toevallig dat die opstal juis op die dag van Brewis se dood afgebrand het?’

‘Blote toeval natuurlik.’ Inus skop-skop na ’n klip.

‘En as ek reg verstaan, was daar sewentig jaar later nog ’n brand?’

Inus knik en kyk weg. ‘In my oupa se tyd hier. Net voor my pa by hom oorgeneem het. Ek was so agt jaar oud.’

‘En die derde brand?’

‘Lyk my jy het jou huiswerk gedoen. In 2001, ja. My pa het ná die brand besluit om die huis te laat herstel voor ek oorneem al het hy en my stiefma teen daardie tyd al in Bredasdorp gebly. Eers daarna het hy begin insien dat ek nie ’n boer is nie en vir lief geneem daarmee. Ná daardie restourasie het die plek geleidelik begin verval, al het hulle nog somervakansies hier deurgebring. Maar hulle het al hoe minder hierheen gekom hoe ouer hulle geraak het.’ Inus lyk al hoe ongemakliker. ‘Meneer Erasmus …’

‘Noem my gerus Ras.’

‘Gaaf. Kyk, Ras, dit lyk my jy weet van die stories.’

Ras knik.

‘Ek hoop nie jy is bygelowig nie?’

‘Nie juis nie. Dis net oor Vrydag die dertiende dat ek nie gemaklik is nie. En swart katte.’ En hy hou nie van die nommer agt nie. Nie dat bygeloof daarby betrokke is nie. Hy was twaalf toe sy ma op die agste van die agste maand 1988 dood is. Wat hy en sy pa sou gedoen het as ouma Kate haar nie oor haar seun en kleinseun ontferm het nie, weet hy waaragtig nie.

Inus grinnik. ‘Gaaf. Jy weet dalk ook ek sal op die oomblik hierdie plek nie verniet kan weggee nie. SAHRA se idiotiese erfenisimpakverslag bepaal dat ek nie die murasie mag sloop nie. Ek sal dus moet restoureer en volgens die verslag moet dit outentieke restourasie wees. Dan eers kan ek dit hopelik verkoop kry aan ’n buitelander of iemand wat nie weet van die belaglike bygelowe en verregaande spookstories nie.’

‘Ek sien.’ Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap se verslag het Inus duidelik die harnas in gejaag, maar hy is waarskynlik nog kwater daaroor dat iemand Verlatenfontein se opstal onder hulle aandag gebring het. En dat SAHRA steeds op restourasie aandring al het die gebou intussen halfpad afgebrand.

‘Dit is natuurlik absolute twak. Suiwer toeval. Die brande bedoel ek. Dis fynboswêreld.’

Ras wonder of Inus Bodenstein homself glo. Hy weet darem sekerlik ook min mense van die omgewing glo die datums van die brande kan ‘suiwer toeval’ wees.

‘Ek moet so gou moontlik begin restoureer sodat ek dit op die mark kan sit. Dis nou as ek daardie vroumens van die grond af kan kry.’ Dit klink eerder asof Inus met homself praat.

‘Hoe nou?’

Inus kyk vinnig op en skud sy kop. ‘Niks met die restourasie te doen nie. My pa was baster verlief op die girl toe sy nog famous was. Gina Jordaan. Gee haar toe dertig jaar gelede huurpag vir ’n stuk grond waarop daar ’n ander murasie gestaan het. Toe gaan staan en spandeer sy ’n yslike hoop geld om die plek te herbou. Aangebou ook.’

‘Aangebou aan ’n historiese gebou?’ Hiervan het hy nie geweet nie. Enige gebou ouer as sestig jaar moet verklaar word en dit het beslis nie in hierdie geval gebeur nie.

‘Dit was nie ’n gebou nie. Net die fondasies en die skoorsteen het oorgebly.’

Geen verskoning nie, maar dis nou tot daarnatoe. ‘En die huurpag geld vir nege en negentig jaar? Soos destyds die gebruik was?’

‘Jip. En boonop is die pag vererfbaar. Al gaan sy vandag dood, het haar erfgenaam vir nog nege en sestig jaar gebruik daarvan. Wat kan ek sê? My pa was ’n fool. En die ergste van alles is dat haar huis wat uitsig betref, op die beste plek op die hele plaas staan. See en rotse so ver as wat jy kyk en selfs ’n sandbaaitjie vir swem binne loopafstand. Die perfekte plek vir ’n ontwikkeling. Die huurpag beslaan ’n strook van net vyftig meter breed, maar strek amper ’n kilometer ver al langs die kus. Ek het haar al probeer uitkoop, maar sy het net botweg geweier.’

‘Miskien sal dit die mense wat uiteindelik hier koop nie hinder om die pag gestand te doen nie.’

‘Dit sal ’n wonderwerk wees, maar ’n mens kan seker hoop. Maar dit daar gelaat. Nou, hoe lyk dit? Al besluit of jy kans sien vir die restourasie? Ek verstaan van die persoon wat jou aanbeveel het jy het vir Gawie Fagan gewerk.’

Ras knik. ‘Van tyd tot tyd. Ek was bevoorreg. Hy was sy tyd ver vooruit. En ja, ek stel belang in jou projek. Maar ek moet jou waarsku, goedkoop sal dit gewis nie wees nie.’ Hy wonder of Bodenstein besef hoe lank so ’n intensiewe restourasie kan duur.

‘Dit kos geld om geld te maak. Soos dinge nou staan, beteken die plaas vir my niks. My vrou sal nooit hier kom bly nie, boer is nie my nering nie en my dogters is al twee getroud en oorsee. Ek wil net die plek teen ’n ordentlike prys kan verkoop.’

Asof Inus Bodenstein nog geld nodig het. Die man ken glo nie die einde van sy skatte nie. Erfgeld is nie altyd swerfgeld nie. Inus is bekend daarvoor dat hy gewoeker het met die fortuintjie wat sy ma aan hom nagelaat het. Maar ongelukkig is gierigheid ’n siekte. En dis een waaraan die man hier voor hom ongetwyfeld ly. Dis nou behalwe dat hy kan lieg soos ’n ketter.

Inus skud sy kop. ‘Ek kan my gat skop ek het dit nie voor die brand reeds verkoop nie, maar ek het gewag dat pryse optel. Gehoop buitelanders sal binnekort weer Suid-Afrika toe kom. Donnerse Covid.’ Hy gee ’n grimmige snork. ‘Wys jou. You snooze, you lose. Maar dis in elk geval nie deesdae maklik om ’n plaas te verkoop nie en die opstal was reeds baie vervalle. Moes eintlik al lankal gesloop gewees het, maar nou ja, noudat een of ander werfetter gesorg het dat dit as ’n gebou van historiese, estetiese en kulturele waarde verklaar word, is dit nie meer moontlik nie. Maar as dit van meet af herstel word, sal dit darem waarde tot die plaas toevoeg en die geld wat die versekering moet uitbetaal, sal hopelik help om dit te kan doen.’

As die opstal ooit behoorlik verseker was en bewys kan word dit was nie brandstigting nie. Maar hy is die laaste een wat voortydig ’n speek in die wiel wil steek. ‘Jy het oor die foon gesê ek kan in die deel bly wat nie afgebrand het nie sodat ek die erfenisimpakverslag kan bestudeer en ’n voorlopige kwotasie uitwerk. Staan die aanbod?’

‘Dit staan. Soos jy kan sien, is daardie deel ook aan die agteruitgaan en sal ook nog gerestoureer moet word, maar Siela het skoongemaak ná die brand en vanoggend weer. Dis leefbaar. Jy sal net moet kyk of daar dringende herstelwerk nodig is. Dalk loodgieterwerk en so aan.’

‘Dis in die haak. Kan ek sommer vanaand al oorbly?

‘Ek glo nie daar is ’n bed opgemaak nie en jy sal die yskas moet aansit, maar ek het geen beswaar nie. My pa en stiefma was verlede jaar nog hier, dis nou voor hulle aan Covid dood is, maar ek kan nie eens onthou wanneer laas ek voor die brand hier was nie.’

‘Dis baie hartseer van jou ouers. Jammer oor jou verlies.’ Hoe diep Inus Bodenstein getreur het, sal net hy weet, maar daar moes êrens by hom as erfgenaam wel verligting wees dat hy uiteindelik met die plaas kan maak soos wat hy nog altyd wou, maar sy pa geweier het om toe te laat.

‘Albei was al in die tagtig en het komorbiditeite gehad. Toe die virus vat, het ons al geweet dis die begin van die einde.’ Hy skud sy kop. ‘Ons kon nie eens afskeid neem nie.’

En steeds dra die man nie ’n masker nie. ‘Enigiets anders waarvan ek moet weet? Soos mense wat toegang tot die plaas het en dies meer.’

Inus dink ’n oomblik na. ‘Daar is die Duikers. Pieta en sy vrou Siela sien om na dinge hier. Daar is ook Pieta se ouma, Kêna, en soms kom kuier Pieta se dogter, Cheryldene. Haar man, Ntando, sit egter nie sy voete op my plaas nie. Ek het hom verbied. Een van daardie wat glo in onteiening sonder vergoeding. Xhosa-pa gehad.

‘Nietemin, ek het die hele familie saam met die plaas geërf. Is al geslagte lank hier. Hulle werf is aan die park se kant maar ’n entjie van die grensheining af.’ Hy beduie in die suidoostelike rigting. ‘Jy sal dalk ook ’n man hier raakloop wat kom kyk waar ons nog ’n boorgat kan laat sink. My pa het hom nog opdrag gegee en ek kan dit nie oor my hart kry om hom nou weg te stuur nie. Hy sukkel glo finansieel. Sy naam is Jeff. Hy woon in ’n karavaan by Die Damme.’

‘Nog iemand van wie ek moet weet?’

Inus kry weer daardie ongemaklike kyk. ‘Ja, wel, ek weet dit gaan nou snaaks klink, maar daar is ’n vrou wat onderneem het om dinge hier te kom regmaak. Mariska. Sy mag dalk een of ander tyd hier uitslaan.’

Ras frons. ‘Watse dinge?’

‘Sy sê sy kan die stories die nek inslaan. Noem haarself ’n “sensitive” of iets. Sy laat geeste tot rus kom. Nie dat ek glo aan spoke en dinge nie, maar ek sal vir ’n voornemende koper kan sê die geeste is verjaag. Dis nou as hy dalk bygelowig is.’

‘En die huurpagvrou?’ Hoe sy navorsing oor die plaas nie die huurpag te berde gebring het nie, verstaan hy nie mooi nie. Ouma Kate het beslis nie daarvan geweet nie en dit kan net beteken dis geheim gehou.

‘Sover ek weet, is sy nog oorsee. Maar sy het haar eie ingang en ’n serwituut vir ’n pad na haar huis. Wat my pa waaragtig vir haar laat plavei het.’ Hy skud weer sy kop ergerlik. ‘Stupid ou bogger.’

Inus gee ’n stel sleutels en afstandbeheerder vir die hek aan. Hy verduidelik wat is waarvoor en gee die sekuriteitskode voor hy sy hand uitsteek. ‘Nou maar gaaf, Ras. Ek moet gaan. Hermanus is nie heeltemal om die draai nie en al die stop-and-go-punte van Stanford af maak dit erger. Sal jy verder regkom?’

‘Ek is seker ek sal. Ek stuur vir jou my insette ten opsigte van die verslag en ’n kwotasie vir die restourasie sodra ek kan. Dankie vir die lêer. Die ou foto’s van die plaas, sketse en huisplanne van destyds is vir my goud werd.’

‘Daar is ’n paar lugfoto’s ook by. Sê maar net as daar nog iets is waarmee ek kan help.’

‘Ek maak so.’

Ras wag tot Inus se Mercedes-viertrek buite sig is voor hy na die bewoonbare deel stap.

Nêrens word vermeld in watter vertrek die befaamde vensterruit was nie, maar sy eerste raaiskoot sou die kombuis wees. Dit duur nie lank voor hy sy vermoede bevestig het nie.

Verbluffend dat die ruit nou nog hier is. En nog meer verbluffend dat hierdie deel van die huis – ruit en al – soveel brande vrygespring het. Dis asof die ruit, soos die gang wat die twee vleuels verbind, ’n wil van sy eie het om behoue te bly. Hy streel liggies oor die handgeskrewe inskripsie in die stowwerige glas.

1871. Jaar van pyn en lyding. B. Brewis

1871. Presies honderd en vyftig jaar gelede. En Catherine Brewis née Wilcox, ouma Kate se hoeveelste grootgrootjie, is klaarblyklik steeds kwaad. Vir Bert. Vir die bloed wat hy hier laat vloei het. En nie net hy nie.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Boekuittreksel Book excerpts Book extracts Chanette Paul LAPA LAPA Uitgewers Murasie


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments