C

‘Een kunstenaar in die familie is meer as genoeg, dankie’: Bloedbande-outeur Jeanette Stals beantwoord vier vinnige vrae
 More about the book!

Bloedbande, die vierde boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks na KatoogVermis en Dag drie, het vroeër vanjaar by LAPA Uitgewers verskyn.

Die skrywer het al aksie-verhale, geskiedkundige romans én liefdesverhale die lig laat sien, en in die blitsonderhoud gesels sy oor die boeke, mense en dinge wat haar inspireer.

Lees die onderhoud:

~~~

Wat het jou geïnspireer om te begin skryf?

Boeke wat my van kleins af weggevoer het na ’n heerlike verbeeldingswêreld. Ook my pa se kant van die familie was baie lief vir stories vertel en die kuier saam met hulle was een groot lekkerte.

Watter raad het jy vir voornemende skrywers?

Eers ’n vraag: Ek neem aan dat jy graag lees? Want goeie boeke bied heerlike voorbereiding en opleiding wat tot ons almal se beskikking is. Dink nietemin mooi of jy daardie pad wil loop – dis soms eensaam en dit verg toewyding. Indien dit sonder twyfel is wat jy wil doen, wees nuuskierig en stel jouself oop vir die lewe in al sy fasette; leer om mense en situasies meer as net oppervlakkig waar te neem. Ontwikkel jou eie, unieke karakters en vra jouself af wat die implikasies sal wees indien dit of dat met hulle gebeur. Gaan sit dan en skryf hierdie unieke stories neer. Hou aan en aan en aan …

Wie is jou gunstelingskrywer?

Daar is baie. Gewoonlik is die skrywer van die boek wat ek pas gelees en geniet het, my gunsteling – tot ek weer ’n ander boek lees! Soos Robert Wilson op die oomblik, maar Connelly en Deon Meyer sal ook altyd daar wees.

Wat wou jy word toe jy klein was?

Kan nie onthou nie, sou graag wou dink iets waaghalsig soos ’n vlieënier. Maar dis natuurlik nie die geval nie, want toe ek ’n kind was, was die opsies vir vroue beperk. Seker maar ’n juffrou, of ’n verpleegster. Of iets meer dramaties soos aktrise. Ek was wel baie lief om te teken en ’n suster wat tien jaar ouer as ek is het kuns studeer by die Johannesburg Tegniese Kollege. Toe sy ’n taamlik Boheemse lewensuitkyk ontwikkel, het my pa my mooi laat verstaan één kunstenaar in die familie is meer as genoeg, dankie.

~~~

Lees ook:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Bloedbande Interviews Jeanette Stals LAPA LAPA Uitgewers Onderhoud


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments