C

‘Kophou, Luna’: Lees ’n kort en kragtige uittreksel uit Bloedbande deur Jeanette Stals!
 More about the book!

Die vierde boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks, Bloedbande, het onlangs die rakke getref! LAPA Uitgewers het ’n kort uittreksel op hul Facebook-blad gedeel.

Speurder-sersant Luna Joubert van die Stellenbosch polisiediens is terug – en dié keer probeer sy om ’n eienaardige dubbele moord op te los sonder enige leidrade of getuies.

Sal Luna die antwoorde kry waarna sy soek?

Lees die uittreksel:

~~~

Speurder-sersant Luna Joubert kyk af na die twee mense op die teëlvloer – lyke. Ses jaar in hierdie beroep en sy het al heelwat gesien, maar nog nie soveel bloed soos hier nie.

Sy sluk die naar wat in haar keel opstoot, terug.

Kophou, Luna.

Voor haar voete lê ’n man en vrou, elk in hul eie rooi poel op die wit teëls.

Dokter Small, die forensiese patoloog, sal kom bevestig dat hulle dood is, maar dis blote formaliteit. Die lykswa word hier benodig.

Die twee mense is enkele meters van mekaar met ’n skerp voorwerp om die lewe gebring. Die vrou het kort hare wat uitpof om haar kop en gedeeltelik oor haar gesig val. Bolyf in die plas bloed, lê sy half onder die oorhang van die toonbank. Met die val daar beland, of skuiling probeer soek?

Waarskynlik geval, want met so ’n wond … Haar liggaam is inmekaargetrek, een hand onder haar ingevou en die ander arm gestrek. Die hand is oop, palm na bo asof sy verwag iemand gaan iets vir haar gee. Maar sy sal nooit weer enigiets ontvang nie. Luna gly haar oë oor die vrou se lyf en bene. Sy het ’n gemaklike langbroek aan met ’n los hemp bo-oor, tekkies aan die voete. Voor die aanval het sy seker tuis ontspan, was miskien met peuselwerkies besig.

Die wit tekkies is stowwerig, gronddeeltjies kleef aan die sole.

Kort tevore buite? Dalk in die tuin gewerk.

Luna neem ’n paar tree na links en kyk na die vloer agter die toonbank. Bloedspore tot by die agterdeur. Daarnaas ook grondspore, minder gedefinieer.

Waarskynlik die vrou s’n. Die huis is netjies; mens sou verwag sy sou haar voete afgevee het. Of sy het nie kans gehad nie …

~~~

Lees ook:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Bloedbande Book excerpts Book extracts Jeanette Stals LAPA LAPA Uitgewers Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments