C

Was Hans van Rensburg regtig ’n verbete Afrikaner-fascis? Lees ’n uittreksel uit Afrikaner-Sondebok? deur Albert Blake!
 More about the book!

Ossewabrandwag-leier Hans van Rensburg word dikwels as ’n verbete Afrikaner-fascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks, skryf Albert Blake in sy boek Afrikaner-Sondebok? wat pas benoem is vir ’n ATKV-Woordveertjie!

Van Rensburg se lewensverhaal strek oor sewe dekades en hy was by al die belangrikste historiese gebeure van 20ste eeu betrokke – van die Anglo-Boereoorlog tot die apartheidsregering. Maar hy was ook in vele opsigte dalk ’n gerieflike sondebok vir die Smuts- en Nasionale Party-regerings…

Lees ’n uittreksel:

Verspilde Afrikanerbloed

DIE REBELLIE VAN 1914 WAS ’n burgeroorlog waarin Afrikaners talle mede-Afrikaners vermink en doodgemaak het. Dié geweldadigheid het ook ’n tol van die kleindorpse gemeenskap van Winburg in die Vrystaat geëis.

Op 12 November 1914 doen regeringstroepe ’n verrassingsaanval op rebelle in die omgewing van die klein nedersetting by Mushroom Valley tussen Winburg en Marquard. Die rebelle was gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog aan die kant van die voormalige vyand, Brittanje.

Die 16-jarige Hans van Rensburg van Winburg en sy pa, Josh, is daardie dag saam met ’n groep regeringsmagte. Die afdeling perderuiters waarvan die twee Van Rensburgs deel was, het oor ’n blinde hoogte na ’n klipkraal gejaag. Dit was duidelik dat daar kort tevore ’n bloedige geveg plaasgevind het. Binne en buite die kraal het die liggame gestrooi gelê – sommige ineengestrengel, ander uitgestrek.

Die dooie rebelle kon net van die regeringstroepe onderskei word deurdat hulle nie wit bande om hul linkerarms het nie. Een ding het al die dooies gemeen gehad, skryf Hans lakonies in sy memoires: Hulle was stil, doodstil.

Die eerste liggaam wat hy van naderby beskou het, was ’n man wat met sy kop half skuins vooroor teen die kraalmuur gelê het. Die doodskoot het sy een oog weggeskiet. ’n Gekweste perd wat daar naby gelê en onophoudelik gerunnik het, is uit sy pyn verlos toe ’n ruiter wat dit nie langer kon verduur nie, van sy perd af spring en die dier ’n genadeskoot gee.

Hierdie grusame toneel het Hans van Rensburg aan die Nag van Bartolomeus, waarvan hy in sy kleintyd gehoor het, herinner. In daardie nag eeue tevore het Katolieke in ’n orgie van waansinnige vervolging Protestante vermoor.¹

‘Toe gebeur iets wat ek, jonk soos ek was, nooit sal vergeet nie,’ skryf hy. Sy pa en van die ander het van hul perde gespring en vinnig na die gesneuweldes gehardloop om uit te vind wie daar lê. Hy kon sien hoe hulle hul asem ophou en die angs op hul gesigte voordat hulle ’n dooie se liggaam omdraai. Dit was nie meer belangrik wie vriend of wie vyand was nie. Die dooies was skielik almal húl mense, want familielede en vriende uit die omgewing kon aan enige kant geveg … en gesterf het.

Die onmenslike gruwels wat die slagveld blootlê, het nie dieselfde uitwerking op almal wat dit beleef nie – anders sal hierdie gruwels nie so gereeld herhaal word nie. Wat Van Rensburg daardie dag op die gebroke vlaktes van die Vrystaatse hartland beleef het, sou letsels laat wat hom tot sy dood sou bybly. Die trauma wat hy beleef het, sou gedurende sy leierskap van die Ossewabrandwag in die onstuimige jare van die Tweede Wêreldoorlog ’n ingrypende invloed op sy beskouing van geweld hê, en op die nodigheid om menseverlies te vermy.

Dat die jong Hans van Rensburg deel was van ’n Empire-mag wat die rebelle se Afrikanerideale wou onderdruk, sou ook by hom spook toe hy in latere jare aan die wrewel en wantroue van sekere republikeinsgesinde Afrikaners blootgestel is. Hy is daarvan beskuldig dat hy in die Rebellie Afrikanerideale met geweld wou help vernietig – dieselfde ideale waarin hy later met oorgawe sou glo en waarvoor hy sou stry.

1

Verborge skandvlekke 

’n Joiner en ’n hendsopper 

IN DIE NIE TE VERRE verlede nie het die meerderheid Afrikaners nog jaloers en heilig oor volksake gewaak. Daar was min verdraagsaamheid vir andersdenkendheid en enige aktiewe teenkanting teen Afrikanernasionalisme is as verraad beskou.

In ’n groot historiese ironie is daar ’n lang geskiedenis van afsydigheid teenoor die Afrikaner-nasionale bewussyn onder Hans van Rensburg se voorsate aan sy pa se kant. Van hulle was gekant teen die republikeinse ideaal en sommige was selfs blatant vyandig teenoor die ontwakende Afrikanernasionalisme.

Die omvang van hierdie deel van die Van Rensburg-familiegeskiedenis is stil gehou. As Hans van Rensburg daarvan bewus was, het hy dit doelbewus in sy memoires en elders verswyg. Sy seun, Johan, en ander familielede maak ook nie daarvan melding in hul beskrywings van hom nie, maar dalk is dié inligting doelbewus van hulle weerhou.¹ In ’n gemeenskap waar afvalligheid van die Afrikanernasionalisme – veral gedurende die Anglo-Boereoorlog – ’n skandvlek op ’n familie was, is dit egter heeltemal te verwagte.²

In die vroeë 1840’s het Van Rensburg se grootoupa, Johannes Frederik Janse van Rensburg, wat weens sy lengte ‘Lang Hans’ genoem is, sy gesin in die Winburg-omgewing gevestig nadat hulle vanaf Zwartruggens in die Graaff-Reinet-distrik getrek het.³

Lang Hans was ’n regte korrelkop. Vanuit die staanspoor het hy steun vir die Britse teenwoordigheid in die gebied getoon en afsydig gestaan teenoor burgers wat teen Haar Majesteit se beheer gekant was. Voor die vestiging van die Vrystaatse republiek het hy en ander lojaliste hulle aktief daarvoor beywer dat Britse jurisdiksie oor die gebied uitgebrei word. Vir hulle was Britse beheer die enigste versekering vir ordelike bestuur. Ná die totstandkoming van die Vrystaatse republiek het Lang Hans lid van die volksraad geword waar hy by tye ’n omstrede rol gespeel het.⁴

Lang Hans het sy stempel in die Winburgse gemeenskap afgedruk, maar nie altyd sonder konfrontasie nie. Ná ’n twis met die plaaslike NG predikant het hy nooit weer sy voete in die kerk gesit wanneer die dominee op die preekstoel was nie. Dit sou nie die laaste van die Van Rensburgs se konflik met die NG Kerk wees nie en dit sou later bepaalde gevolge vir sy agterkleinseun Hans inhou. Lang Hans het tot sy dood in 1880 ’n leiersrol in Winburg en die omringende gemeenskappe gespeel.⁵

Hans van Rensburg se oupa Johannes Frederik (Freek) van Rensburg kon nes sy pa soms stroomop wees.⁶ Hy het ook die Winburg-distrik in die volksraad verteenwoordig, maar dit is veral as sakeman wat hy sy merk gelaat het. Hy het die familieplaas Trommel, suidoos van Winburg, in ’n vooruitstrewende boerdery omskep. Hy het ook ’n florerende algemenehandelaarswinkel op die plaaswerf bedryf wat as ’n soort halfwegstasie met ’n poskantoor vir reisigers op pad na die Oos-Vrystaat gedien het. Die jong Hans sou baie skoolvakansies op Trommel deurbring.⁷

***

Kyk ook:

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Afrikaner-Sondebok? Albert Blake ATKV-Woordveertjies 2022 Book excerpts Book extracts Hans van Rensburg Jonathan Ball Uitgewers Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments