C

Skud af die koue en verslind vier nuwe liefdesverhale, nou beskikbaar by LAPA Uitgewers!
 More about the book!

Nuut by LAPA! Vier nuwe liefdesverhale deur René van Zyl, Kristel Loots, Dina Botha en Corné van Rooyen.

Sprokie vir ’n plaaskind deur René van Zyl

Is die vrees vir verwerping sterk genoeg om in die pad van hul geluk te staan?

Geneviève van Vuuren, oftewel Jenny, se sprokieshuwelik word onverwags deur haar verloofde afgestel. Kwaad, hartseer en teleurgesteld besluit sy impulsief om saam met haar suster en swaer met ʼn kampeerwa deur Italië te gaan reis.

Alles verloop goed, totdat die losbol wêreldreisiger, Reinhard Prinz, hulle op die laaste nippertjie vergesel. Al wat Geneviève met Reinhard in gemeen het, is die feit dat hulle albei as kinders deur ’n ouer verlaat is. Nie een van hulle vertrou die teenoorgestelde geslag nie en is ook nie van plan om van mening te verander nie.

Al probleem is die aantrekkingskrag wat vinnig duidelik raak. Geneviève en Reinard is nie blind vir hul gevoelens nie, maar ook nie gereed om dit met mekaar te deel nie. Is die vrees vir verwerping sterk genoeg om in die pad van hul geluk te staan?

Oor die outeur

René van Zyl is ’n oudjoernalis, skrywer en blogger wat teen die hange van die Magaliesberg in Hartbeespoort vir haar ’n nessie uitgegrawe het. Sy geniet dit veral om plaaslike gemeenskapsmusiekblyspele te skryf en op die planke te bring. Haar buite-die-boks-predikantman, twee dogters en seun is die groot liefdes in haar lewe en ook haar grootste inspirasie. Haar seun, die oudste, is breingestremd en die lewe saam met hom het haar geleer om daaglikse uitdagings met genoegsame humor aan te pak. Haar skryfwerk hou haar kreatief besig in hierdie soms uitdagende lewe. Sy het sedert 2018 reeds nege Romanza’s en ’n SuperRomanza uitgegee. Storm vol Liefde (SuperRomanza) het die Rosa Imbali toekenning vir uitmuntende skryfwerk in 2020 gewen. Haar eerste enkeltitel is Die Alfadokument, ’n samesweringsroman, wat ’n nuwe genre vir die Afrikaanse mark inlei en het reeds baie goeie resensies ontvang. René glo onwrikbaar in die liefde en gelukkige eindes.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liewe Lisa deur Kristel Loots

Net liefde kan jou dan red …

Lisa is ʼn liewe mens, ’n ware engel. Om altyd gaaf en goed te wees, vát aan ’n mens. Veral sedert haar pa uit hul lewens is en die sedige oom Johan se kerkskoene soms onder haar ma se bed staan.

Lisa hang haar engelvlerke op toe sy vir Darius Skietekat, oom Johan se seun, ontmoet. Oor een ding stem Lisa en Darius saam – hul ouers hoort nie bymekaar nie. In Lisa se ma se huis is daar baie vertrekke, maar nie genoeg om die Bothas en die Skietekatte uit mekaar se hare te hou nie. Al wat Lisa vra, is om uitgelos te word. Dis háár lewe, háár ape, háár sirkus, en Darius Skietekat hoef nie daarmee saam te stem nie. Dit sluit haar verhouding met Henco in.

As Lisa net die spoke van die verlede kan agterlaat en antwoorde kan kry oor wat werklik daardie noodlottige aand op die see gebeur het. Darius wil haar help, maar is dit ’n goeie idee? Om uit te vind jy het jou lewe lank met ’n leuen geleef en dan te vergewe, is soms te veel gevra. Net liefde kan jou dan red.

Oor die outeur

Kristel Loots bly knus agter die boereworsgordyn in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy hier – en elders – raakloop. ‘Gewone’ voorstedelike vroue, soms met voorskote om die geronde heupe, ander tye weer modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat vir niks skrik nie. Of oor ‘anderste’ vroue, verskillende vroue, vroue met issues. Want menswees en veral vrouwees en die vele fasette daarvan fassineer haar. Vroue is stunning en dikwels die hoeksteen wat huis en haard aanmekaar hou en elke vrou het ’n storie. Roxy is Kristel Loots se tiende liefdesroman. Haar lesers verlekker hulle aan Loots se humoristiese skryfstyl wat soms aan die tragikomedie raak. Kristel skryf ook verhale en artikels vir verskeie vrouetydskrifte. Meer as 40 romans van haar het al onderskeidelik by LAPA Uitgewers, Tafelberg en Carpe Diem Media verskyn.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Net vir ’n seisoen of twee deur Dina Botha

’n Seisoen of twee is beter as niks …

Marcelle ontmoet vir Sebastian by ’n partytjie. Nog nooit het sy so ’n vreemde, aantreklike en onbeskryfbare arrogante mansmens ontmoet nie. Voordat Sebastian nog haar naam weet, maak hy alreeds ’n afspraak met haar. Nie eens die feit dat sy skynbaar getroud is skrik hom af nie. Hy maak dit duidelik dat hy in haar belangstel en vasberade is om haar te besit – maar net vir ’n seisoen of twee.

Marcelle is nie heeltemal blind vir sy aantreklikheid of bestand teen sy sjarme nie, maar ingee gaan sy beslis nie. Wanneer ’n ramp haar sakeonderneming tref, leer sy ’n ander kant van Sebastian Rigter ken. Sy ontmoet die ware man. Die een wat Sebastian self nog moet ontdek. Haar opinie oor hom verander teen haar eie beter wete en sy verloor haar hart. Al is sy en Sebastian net tydelik. ’n Seisoen of twee is beter as niks.

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Vryval na liefde deur Corné van Rooyen

Met die liefde het sy haar deeglik misgis …

Janneke Lombard werk vir die aantreklike joernalis, skrywer en avonturier, DeWet Combrink. Sy hou van haar werk en is gewoond daaraan om hom te vergesel waar hy ook al gaan werk. Maar om saam te gaan vakansie hou? Daarvoor is sy nie aangestel nie. Ook nie om sy suster se drie kinders op te pas nie. Hoe meer tyd Janneke egter saam met DeWet en die kinders deurbring, hoe meer raak sy bewus van haar gevoelens vir die man. Gevoelens wat beslis nie tussen ’n werknemer en haar baas hoort nie.

Sy het lankal besluit dat sy nie weer wil seerkry nie – liefde en seerkry gaan immers hand-aan-hand. De Wet mag dalk belangstel in haar lyf, maar is dit genoeg? Boonop is die verhouding tussen hom en sy eksvrou duidelik nie heeltemal verby nie. Vir hom is Janneke dalk net nóg ʼn avontuur. Daarom besluit sy om haar afstand te hou. Maar met die liefde het sy haar deeglik misgis, want nie haar hart of haar liggaam kan van hom af wegbly nie.

Oor die outeur

Corné van Rooyen is gebore in Pretoria, maar verhuis later na Paulpietersburg, ’n klein dorpie in KwaZulu-Natal, waar sy steeds woon. Ná skool het sy deeltyds gewerk en studeer deur Unisa waar sy haar LLB-graad verwerf het. Sy was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Corné van Rooyen Dina Botha Kristel Loots LAPA Uitgewers Liewe Lisa Net vir 'n seisoen of twee New books New releases René van Zyl Romanza Sprokie vir 'n plaaskind Vryval na liefde


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments