C

Probeer Herman Lensing se resepte uit Huiskos vir Bobotiefrikkadelle, Gerookte varkboud en Sjokolade-karameltert
 More about the book!

Penguin Random House SA het onlangs drie smullekker resepte uit Huiskos deur Herman Lensing gedeel.

Huiskos is ook in Engels beskikbaar as Home Cooking, en bevat meer as 80 resepte, van ontbyt tot hoofgeregte, van bykosse tot vleisgeregte, van koeke, koekies en beskuit tot nageregte (soos trifle, roomys en selfs basaarpoeding).

Elke hoofstuk weerspieël Herman se liefde vir kos en vir mense, met staaltjies waarin jy jou kan verkneukel.

Probeer gerus die drie resepte uit Huiskos:

~~~

Bobotiefrikkadelle

in ’n romerige sous

HERMAN ONTHOU…

Die heel eerste keer wat ek betaal is om vir iemand kos te kook was op hoërskool toe Upington se plaaslike Woolworths ’n nuwe baadjie gekry het. Ek en my hotelskoolonderwyser het die geselligheid saam aangepak. Ek wou afshow en het besluit om bobotie in springrolls voor te sit – glad nie my eie idee nie; ek het dit jare terug in ’n fênsie restaurant in Stellenbosch gesien. Jis, maar het dit grênd gelyk! Dis toe dat ek die magic ontdek het van klassieke resepte wat in ’n ander rok aangetrek word. Die gaste het aan my lippe gehang; ek was so slim! Sedertdien het ek al verskeie bobotiegeïnspireerde geregte gemaak. Die lekkerte van bobotie is die speserye wat met min moeite groot geur gee.

Genoeg vir 4

1 ui, fyngekap

3 knoffelhuisies, fyngekap

30 ml kerriepoeier

15 ml appelkooskonfyt

30 ml blatjang

25 ml bruinasyn

15 ml borrie

500 g maer beesmaalvleis

1 ryp piesang, fyngedruk

1 appel, gerasper

100 ml amandelsplinters

1 eier

sout en varsgemaalde swartpeper

45 ml olyfolie

30 ml geroosterde masala

410 ml-blik klappermelk

geelrys en tamatieslaai, vir voorsit in ’n romerige sous

Meng die ui, knoffel, kerrie, konfyt, blatjang, asyn, borrie, maalvleis, piesang, appel en amandels. Voeg die eier by en meng deur. Geur goed met sout en peper. Vorm frikkadelle so groot soos jy dit verkies. Verhit die olyfolie in ’n pan tot warm. Braai die frikkadelle 1–2 minute per kant of tot goudbruin. Voeg die masala en klappermelk by. Meng deur en verlaag die hitte totdat dit stadig prut. Laat die sous 10–12 minute prut of tot die frikkadelle gaar is. Sit voor met geelrys en tamatieslaai.

Wenk: Jy kan ook die kerriesous maak en dit in ’n oondbak skep. Pak die rou frikkadelle in die sous. Bak 20–30 minute by 180 °C.

Peter AJ Simpson III sê … Kerrie en rys. Dit voer my terug na my kleintyd van sorgelose veiligvoel-geliefdvoel-kinderdae.

~~~

Gerookte varkboud

Met glaseersel

HERMAN ONTHOU…

Vir my sal gerookte varkboud altyd op sy beste smaak die dag ná Kersfees. Veral as jy hom in papierdun skywe sny en dan op goeie, tuisgebakte brood voorsit. Ek sal nooit vergeet hoe ek die fotosessie vir my heel eerste Kersfeesstorie by SARIE moes doen nie. Dit was in Oktober 2009. Ek wou alles perfek doen, want dit was my eerste kans. Ek het die gerookte varkboud by ’n bekende slagter bestel en gesê hy moet so groot soos ’n berg wees. En die slagter het dit gedoen: ’n 5 kg-varkboud daag by my huis op. Ek het geen pot of bak waarin ek dit kan kook nie, dis net te groot! Al waarop ek my hande kon lê, was die geel enemmelskottel waarin ek gewoonlik deeg knie. Maar hy moes toe maar werk. Al vyf die gasvlamme is aangesit en die ham is in die geel bad aan die kook gekry. Dit het ure lank gekook, glaseersel is opgesit en die foto was perfek. Dié skottel sal my altyd aan my eerste SARIEKersfees herinner.

Genoeg vir 8 – 10

Ham

1 groot gerookte ham (gammon), met been en vel

2 uie, geskil en gehalveer

4 lourierblare

10 swartpeperkorrels

’n hand vol heel kruienaeltjies

Glaseersel

500 g-bottel heuning

60 ml korrelmosterd

500 ml nartjiesap (of lemoensap)

skil en segmente van 4 nartjies (of lemoene) met glaseersel

Ham

Plaas die ham in ’n groot kastrol. Voeg die uie, lourierblare en peperkorrels by. Bedek met water en bring oor hoë hitte tot kookpunt. Kook sowat 30 minute per 500 g, minus 30 minute vir die tyd wat die ham moet bak. (Die 5 kg-ham het 4½ uur lank gekook.) Haal die ham versigtig uit die water en trek die vel af terwyl dit nog warm is sodat die vetlaag wys. Plaas in ’n oondroosterpan. Gebruik ’n skerp mes en sny ’n diamantpatroon in die vetlaag. Druk ’n naeltjie in elke vetdiamant. (Jy kan dit alles doen die dag voor jy die ham gaan voorsit.)

Glaseersel

Verhit die oond tot 180°C. Plaas al die bestanddele behalwe die nartjiesegmente in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Laat prut 1 minuut en verwyder van die hitte. Gooi die hele mengsel oor die ham. Plaas die ham oop in die oond en rooster vir 30 minute. Skep elke 10 minute van die glaseersel in die pan oor. Bak tot die ham goudbruin is. Plaas dit op ’n mooi dienbord en strooi die nartjiesegmente oor. Sit voor.

~~~

Sjokolade-karameltert

met ses bestanddele

HERMAN ONTHOU…

Die wonder van my werk is dat ek op baie vreemde plekke moes kook en kosmaak. Mense sal my nie glo nie: langs ’n stopstraat, op die grond by die Vryfees in Bloem, op ’n hawemuur, langs die vuilgoedhoop, in die veld tussen honderde rooimiere. Dit het selfs al gebeur dat ’n vark my op my kuit byt terwyl ek moes kook! Maar die beste plek om te kook en die eenvoud van ’n resep te verstaan, is wanneer jy in jou hotelkamer voorbereiding vir môreoggend se demonstrasie moet doen. Want die lys van apparate tot jou beskikking is min of meer so: ketel, koppies, teelepels, kroegyskas en as jy gelukkig is ’n onbytpapbakkie (maar dis luuks!) So vlieg ek Pretoria toe vir ’n kosdemonstrasie vir Pretoria FM. Geland, inkopies gedoen en ek besef die tert is op die spyskaart en ek moet een hê om te wys hy is gestol en dan versier. Dan begin jy kook: koekies word fyngemaak in ’n Checkers-sak met jou skoen se hak. Room maak jy warm deur dit in ’n koppie te gooi en die Koppie in die kokende ketel te plaas. Sjokolade smelt jy op dieselfde manier, en karamel en room word ook in die ketel gesmelt. Alles geroer met ’n teelepel en ’n vurk. So as iemand ooit kla dat hy niks in sy huis het om nagereg te maak nie, hier is ’n resep!

Maak 1 x 22 cm-tert

Kors

200 g-pakkie tennisbeskuitjies

100 g botter, gesmelt

10 ml karamelgeursel

Vulsel

360 g-blik karamelkondensmelk

200 g donker sjokolade, grof gekap

180 ml room

40 g botter

Kors

Maak die koekies in ’n voedselverwerker fyn. Voeg die botter en geursel by en meng tot die tekstuur van klam seesand. Voer ’n 30-cm tertpan met die mengsel uit en laat dit in die yskas stol.

Vulsel

Roer die kondensmelk tot glad en skep onderin die kors. Plaas die sjokolade, room en botter in ’n glasbak. Plaas dit oor ’n pot met kookwater om dit te laat smelt; roer tot glad en gooi in kors bo-oor die kondensmelk. Plaas vir sowat 2–4 uur in die yskas tot gestol. Sit voor.

Lizel Nicholson sê … Huiskos laat my dink aan die liefde as my ouma my styf vashou.

~~~

Categories Afrikaans Cookery Non-fiction South Africa

Tags Bobotiefrikkadelle Gerookte varkboud Herman Lensing Home Cooking Huiskos Penguin Random House SA Recipes Resepte Sjokolade-karameltert


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments