Rekordgetal inskrywings, meer drukname op kortlyste
Die 2020-benoemdes vir die kykNET-Rapport-boekpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe prosa insluit, is pas bekend gemaak. Die pryse het vanjaar die meeste inskrywings ooit gelok.
‘Afgesien van die rekordgetal inskrywings vir die boekpryse is meer drukname as ooit vantevore verteenwoordig op die kortlyste – welkome aanduidings van die lewenskragtigheid van sowel die Afrikaanse letterkunde as die Afrikaanse uitgewerswese,’ sê die sameroeper, Hettie Scholtz.
Die pryse word jaarliks toegeken vir uitnemende Afrikaanse fiksie en niefiksie wat gedurende die vorige kalenderjaar verskyn het. Dit blyk aansporing te wees vir skrywers in Afrikaans om steeds vernuwend en verbeeldingryk gestalte te gee aan verhale wat erkenning verdien as waardige toevoegings tot die Afrikaanse letterkunde.
Altesaam 94 inskrywings is ontvang vir die drie kategorieë van die kykNET-Rapportpryse (fiksie, niefiksie en film), en 15 inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke. Uitgewers het onder andere 20 meer romans as ooit vantevore in die sewe jaar van die bestaan van die kykNET-Rapportpryse ingeskryf.
Die rekordgetal inskrywings in beide die fiksie- en filmkategorie het meegebring dat dié twee kortlyste uitgebrei is tot vyf titels.
Die kortlyste vir kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar word apart aangekondig.
Die kortlyste vir vanjaar se boekpryse is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
- In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer (Penguin Random House)
- Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
- Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
- Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Tafelberg)
- Die verevrou deur Jan van Tonder (Human & Rousseau)
KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE
- Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake, (Jonathan Ball)
- Boodskapper van die gode deur Murray la Vita (Lapa)
- Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe (Protea Boekhuis)
KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM
- Klikbek deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
- Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
- Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
- Smit Motors deur Réney Warrington (Lapa)
- Grensgeval deur Marita van der Vyver (Penguin Random House)
JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERK (ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE)
- Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit (Human & Rousseau)
- Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp (Tafelberg)
- Strafjaart deur Theo Kemp (Penguin Random House)
Die wenners word aanlyn aangekondig, en wel op Saterdag 19 September om 18:00. Die skakel na die aankondiging sal beskikbaar wees op Rapport en kykNET se Facebook-bladsye.
Vanjaar bevind beide Zirk van den Berg en Johan Jack Smith hulle op twee kortlyste: die kykNET-Rapportprys vir romans sowel as die filmprys. Van den Berg met Ek wens, ek wens en Johan Jack Smith met sy debuutroman Zola.
Waar verlede jaar se inskrywings gekenmerk is deur groot diversiteit, is boeke van bruin of swart skrywers in Afrikaans, afgesien van Bettina Wyngaard se Jagter, vanjaar afwesig, sê Hettie Scholtz. ‘Daar is egter rede tot optimisme danksy die verskyning in 2020 van ’n paar stewige pennevrugte waarin skrywers hulle eie stories in hulle eie taal oopskryf, soos Brian Fredericks met sy kortverhaalbundel As die Cape Flats kon praat. Die Jakes Gerwel-stigting se mentorskapprogram vir opkomende skrywers werp ook reeds vrugte af – te oordeel na ’n werk soos Engela Ovies se treffende debuutroman Draairivier. Nog ’n groeipunt is die nuwe kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Skool vir Tale by Rhodes Universiteit wat opkomende skrywers onderlê in die skep van werke in al die variëteite van Afrikaans.’
KEURDERS
Die keurders vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was Elmari Rautenbach, joernalis en hoof van die Woordfees se skrywersprogram; Kirby van der Merwe, skrywer en vertaler; prof Thys Human van NWU en die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven. By niefiksie het die joernalis Martie Meiring, dr Irma du Plessis (Universiteit van Fort Hare), prof Bill Nasson (US) en die rolprentvervaardiger Herman Binge die stiplees gedoen. By die inskrywings vir film het Tina Kruger van kykNET die geledere van filmkeurders Gerrit Schoonhoven en Herman Binge versterk. Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede prosawerk was Alida Potgieter, ouduitgewer; Danie Marais, skrywer en joernalis; en prof Steward van Wyk van UWK.
KOMMENTAAR DEUR DIE KEURDERS
Een van die kenmerke van vanjaar se inskrywings is dat skrywers hulle nette wyd gegooi en veral die krag van die verbeelding op soms meesterlike wyse ingespan het, soos Harry Kalmer in In ’n land sonder voëls, Kerneels Breytenbach in Hond se gedagte en Etienne van Heerden in Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Daarby het Carina Stander se fyn verweefde fantasieverhaal Die wonderwese onder andere een van die mooiste slotsinne in Afrikaans opgelewer.
Vir Elmari Rautenbach is ’n verdere kenmerk hoedat ons steeds worstel met die verlede en hoe dit ons hede bepaal. ‘Dit is opvallend hoe goed dit ingespan is in Sidney Gilroy se Klikbek en hoe fyn en nietemin brutaal Die verevrou van Jan van Tonder die impak van oorlog op die bedrading van die menslike psige uitbeeld, hoe verlede en hede in die onderskatte Die slaghuis op mekaar inspeel – op ’n wonderlik afstandelike manier, maar met soveel wat ongesê bly.’
Ten spyte van ongemak by van die keurders oor die aktuele problematiek van kulturele toe-eiening in ’n handvol romans, voel Kirby van der Merwe dat veral Lize Albertyn-du Toit dit regkry om voorbehoude te oorstyg deur die plaasroman in Afrikaans op sy kop te keer in Die kinders van Spookwerwe waar plaaswerkers van meet af aan sentraal staan met die eienaar van die plaas ’n randfiguur. ‘Die kinders van Spookwerwe is die Afrikaanse Grapes of Wrath met Mieta Kaliempie die argetipiese aardmoeder wat sterk herinner aan Ma Joad.’
Daar is ook waardering uitgespreek vir die wyse waarop debutant Johan Jack Smith die grense van die speurverhaal en roman noir (met ’n kopknik in die rigting van die Skandinawiese tradisie) soomloos aan die hand van eg Suid-Afrikaanse gegewe laat vervloei in Zola.
Die keurders is dit eens: Om hierdie jaar ’n wenner vir fiksie aan te wys, gaan allesbehalwe ’n maklike of voor die hand liggende taak wees.
By niefiksie is daar sprekende voorbeelde van uitstekende navorsing in die titels op die kortlys, en Murray la Vita is geloof vir sy humanistiese benadering in Boodskapper van die gode, ryk aan interstekstuele verwysings. Dit is opvallend dat daar steeds by die oorwig niefiksieboeke vanjaar ’n soeke is na gemeenskaplike waardes en ’n dringendheid in die besinning oor Afrikaner-identiteit. Hiervan is Willie Esterhuyse se Oorlog en vrede en Dana Snyman se Soekmekaar goeie voorbeelde. Ook Azille Coetzee se In my vel het beïndruk met haar diep, eerlike besinnings, en Witwolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding deur Stefaans Coetzee en Alita Steenkampbied ’n roerende perspektief op ’n klein storie uit die Struggle-jare.
Ook hier het die afwesigheid van die verwysingswêreld en belangstellingsterrein van ’n groot gros Afrikaanssprekendes opgeval. Vir Irma du Plessis belemmer dit die reikwydte van die gesprek in Afrikaans en benodig ons dringend ’n meer geïntegreerde leserspubliek sodat moeilike, broodnodige gesprekke, insluitend intertekstuele gesprekke, kan plaasvind.
Wat die filmprys betref, het die beoordelaars soos in die verlede ’n smorgasbord gehad om van te kies en te keur.
EINDE