C

‘Ons sal altyd alles slegs ten dele ken’: Spieëltjie, spieëltjie deur Jan Vermeulen is nou beskikbaar!
 More about the book!

Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël …

Doktor Olaf Demeyer herstel nog van sy vierdubbele hartomleiding en die trauma van vorige ondersoeke waarby hy betrokke was. Om die waarheid te sê, hy moes lankal aftree as forensiese profileerder van die SAPD.

Maar dan kom vra Lucida Winterbach sy hulp. Sy glo ’n moordenaar teiken studente van haar Elegant Queens Academy, ’n skool vir skoonheid en modelwerk. Al die meisies is minderjarig, met blinkoogdrome van skoonheidstitels en modelkontrakte. Tot van hulle naak op die bodems van swembaddens in die omgewing gevind word.

Olaf se lewenslange beskermingsdrang teenoor die weerloses motiveer hom om gehoor te gee aan haar versoek. Gou besef hy egter dat dit hier gaan oor soveel meer as die feite en bewyse wat ’n mens kan sien en hoor. Olaf twyfel aan sy oordeel en instinkte. Hy word geteister deur verwronge beelde van die meisies en homself.

Uiteindelik weet hy: Ons sal altyd alles slegs ten dele ken, en ons moet ’n manier vind om elke dag saam met dié wete te leef. Vir Olaf is dit daardie wete wat dreig om hom na jare in die bedryf van sy kop af te dryf.

Oor die outeur

Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibië gebore. Op veertien word sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 ’n BTh. en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 voltooi hy ’n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie.

In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2006 word sy kortverhaal ‘In Ma se Stoof’ in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat (Tafelberg) opgeneem. In 2017 wen sy jeugboek Oopmond LAPA se Jeugromankompetisie, en Baster is die naaswenner in 2019. Nagjagter verskyn in 2020. Jan en sy vrou Diana woon in die Oos-Kaap.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Jan Vermeulen LAPA LAPA Uitgewers Misdaadroman New books New releases Spieëltjie spieëltjie


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments