C

Lees ’n uittreksel uit Oopmond deur Jan Vermeulen, wenner van LAPA se Jeugromankompetisie 2017
 More about the book!

Het jy ’n storie om te vertel? Wil jy graag deelneem aan LAPA se jeugromankompetisie vir 2021? Dis nog nie te laat nie! Inskrywings sluit 31 Oktober 2021, met prysgeld ter waarde van R50 000 op die spel.

Indien jy inspirasie nodig het, lees gerus ’n uittreksel uit Oopmond deur Jan Vermeulen, wenner van LAPA se Jeugromankompetisie 2017!

Oor die boek

Madelaine Taaibosch vermoed die skenkerhart wat in haar bors klop, is ’n gebroke hart. Die dokters verseker haar daar is niks met die hart verkeerd nie, maar sy begin vreemde dinge sien. Dinge uit die verlede. Dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Die speurtog na die waarheid oor haar skenker laat haar stadigaan besef dat party harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind.

Lees die uittreksel:

~~~

Die afsitter se skoot eggo tussen die pawiljoene.

Madelaine Taaibosch se eerste wedloop sedert haar hartoorplanting begin teen ’n ligte suidooster. Sy spring saam met nog sewe middelafstandatlete weg.

In die eerste draai voel sy ’n pynlike steek tussen haar blaaie.

Nie weer nie, Here, bid sy. Asseblief, nie weer nie.

Vir ’n oomblik is sy so duiselig dat sy amper op die tartanbaan struikel. Sy herwin haar balans, maar sy het reeds na die agtste plek teruggesak. Sy is nou twee tree agter die bondel.

Natalie Korf met die lenige lyf en blonde seunsnit is los voor.

‘Natalie het haar hartoorplanting gehad toe sy net veertien jaar oud was,’ het coach Vaughn vir Madelaine gesê. ‘Sy hou die rekord vir die vinnigste 5 000 meterwedloop vir oorplantingsatlete in die land. As jy ernstig is hieroor, is sy die een wat jy sal moet klop. Maar onthou, dit het haar vier jaar gevat om tot hier te kom. Jou nuwe hart sit nou maar eers sewe maande in jou borskas.’

‘Ek is reg hiervoor.’ Madelaine het haar lang, swart kartels in ’n stywe poniestert gebind. ‘Ek gaan haar en al die ander hel gee.’

‘Nee, vat dit kalm. Ons bou nog jou krag op,’ het haar afrigter geprotesteer.

‘Op die baan weet ek nie van kalm vat nie, Coach,’ het sy hom uitgedaag.

‘Asseblief, Madelaine, vandag moet jy net in jou eie tyd klaarmaak. Dis ons eerste doelstelling.’

Die wind stoot uitdagend teen haar lyf. Ten spyte van die borspyn, sweef haar kaal voete ritmies oor die baan. Sy probeer byhou, maar haar bene voel lammerig. Teen die volgende draai sak sy nog ’n paar treë uit.

Hier is groot fout …

~~~

Ook deur Jan Vermeulen:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Jan Vermeulen LAPA LAPA Jeugromankompetisie LAPA Uitgewers LAPA-jeugromankompetisie 2021 Oopmond Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments