C

Liefde is die antwoord in vier splinternuwe Romanzas – nou beskikbaar by LAPA Uitgewers!
 More about the book!

Nuut by LAPA! Vier nuwe liefdesverhale deur Didi Potgieter, Lizelle von Wielligh, Ida Bester en Judy Troskie …

Hart van goud deur Didi Potgieter

Is liefde genoeg om werklik te kan vergewe?

Op die oog af lyk dit of daar niks is wat Stella Smith nie kan doen nie. Sy kan dans met ’n skinkbord vol drankies, haar stempel afdruk as sy saam met ’n gewilde country groep sing, ’n lekkende kraan en stukkende pyp regmaak, blomme rangskik en selfs kerkorrel speel. Daar is egter iets wat sy nie kan doen nie: om normaal op te tree as Kyle White in die vertrek is.

Kyle het sy toekoms en sy loopbaan deeglik beplan. Hy is op pad San Francisco toe. Daar sal hy nie net die seun van ’n goewerneur wees nie, maar ’n talentvolle argitek in eie reg. Ridgeway is net ʼn vinnige stop voor dan, maar die ongelooflike sexy kroegmeisie Stella maak gevoelens in hom wakker en krap sy planne deurmekaar.

Ongelukkig spook Stella se verlede nog te veel by haar om die toekoms met albei hande aan te gryp. Sy voel ook nie gereed om te deel wat vyf jaar gelede op Ridgeway gebeur het nie – al vertel die tatoeërmerke op haar liggaam ’n groot deel van die storie.

Oor die outeur

Didi Potgieter woon op Potchefstroom. Haar eerste Romanza, Leer my liefhê, verskyn in Januarie 2014 en daarna sien vele ander Romanzas, Super-Romanzas en novelles die lig. Met soveel onvertelde stories in haar kop en hart, hoop sy om nog lank liefdesverhale te skryf. Didi wen in 2018 die ROSA Imbali-toekenning met Liefde vir ’n Ridder en in 2021 vir As dit voel soos liefde. Didi was ook al drie keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys vir romanse.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Soeter as nougat deur Lizelle von Wielligh

Ware liefde het nog nooit so soet gesmaak nie …

Fouché steur hom nie aan sy pa se deurmekaar praatjies in die hospitaal nie. Tot die aand toe sy pa sterf en hy ’n skokkende ontdekking agter in sy pa se Bybel maak. Watter tipe verhouding het sy pa met bloedjong Elmarie Coetzee gehad?

Elmarie is nederig, lief vir die Here, het ’n oop hand vir die armes en hoë morele waardes. Onbewustelik krap sy Fouché se planne om haar te ontmasker deurmekaar. Hoe beter hy haar leer ken, hoe moeiliker vind hy dit om te glo sy is skuldig. Boonop begin hy sy hart op haar verloor. Dít terwyl hy baie goed weet liefde is niks anders as ʼn seepbel wat wag om te bars nie.

Wanneer die waarheid eindelik uitkom, is die skade onherroeplik. Sal Elmarie hom kan vergewe en glo dat hy werklik lief is vir haar?

Oor die outeur

Lizelle von Wielligh is op haar gelukkigste in die natuur waar sy naby aan haar Skepper is. Haar dag begin gewoonlik met ʼn wandeling deur die denneplantasies. Só voed sy haar siel en kry haar gedagtes vrye teuels om haar stories te beplan. Sy het ʼn BCompt-graad (rekeningkunde) aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi. Haar roeping om liefdesverhale te skryf, sal sy egter vir niks verruil nie. Deur karakters te skep, kry sy kans om in ander mense se skoene te staan. Dit het haar ʼn deernis en liefde vir haar medemens gegee en haar geloofslewe verryk.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Lulu en die liefdesghoeroe deur Ida Bester

Liefde is altyd die moeite werd om voor te veg …

Ná ’n verhoudingsdroogte van twee jaar, raadpleeg arbeidsterapeut Lulu du Randt ’n man wat hom uitgee vir ’n verhoudingsraadgewer.

Onbewustelik skop sy Kobus Botha, alias Romeo Montague, se voete heeltemal onder hom uit met hul eerste ontmoeting. Hy trap tydens die sessie só klei dat Lulu eerder op die rak sal bly sit as in sy kamtige spreekkamer.

Dit neem nie lank nie voordat sy besef dat die einste Kobus baie beter vaar in die liefde se praktiese sy as met die teorie. Kobus se vriende maak die lewe ook nie vir hom makliker wanneer dit kom by sy verhouding met Lulu nie. Sy word Kobus se grootste uitdaging en hy werp alles in die stryd tot geluk. Maar is dit genoeg om Lulu se hart te wen?

Oor die outeur

Ida Bester was van kleintyd af versot op woorde en vreemde tale. Sy het onder meer by die Suid-Afrikaanse ambassade in Frankryk en die RGN gewerk, was ’n hoërskool-taalonderwyser en het vliegtuigplanne uit Frans vertaal. Terwyl haar man universiteitsdosent en koorleier was, het hulle al die kontinente op die aardbol besoek. Ida en haar man het op ’n wildplaas afgetree, waar hulle graag hul vier kinders en kleinkinders trakteer. Sy is lief vir skryf, lees, kuier saam met vriende, en fotoalbums maak.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Sneeuvlokkies en rooiwyn deur Judy Troskie

Liefde is die antwoord …

Amelia besef haar besluit om te gaan kyk waar haar wortels tussen die Rooiberge in die Noord-Oos-Vrystaat begrawe lê, is onverstaanbaar vir haar aangenome familie. Sy wil egter antwoorde gaan soek. Wie was haar biologiese ma regtig en waarom het geen familie haar probeer opspoor na haar ma se skielike dood toe sy nog ’n baba was nie?

Tussen die stofstrate van Clarens vind sy egter meer as waarop sy gereken het en verloor haar hart onverwags in die proses. Dirk word daardie iemand êrens wat sy so heldhaftig in haar dagboek aangeteken het, maar nooit gedink het sy eendag gaan ontmoet nie. Net jammer sy is nie seker waar ‘klitsgras Christie’ in sy lewe pas nie.

Oor die outeur

Judy Troskie het grootgeword op die destydse Wes-Transvaalse vlaktes. As alleenkind het haar verbeelding sy eie prentjies begin teken wat jare later in haar volwasse lewe voortgesit is in die geboorte van lewende karakters in haar verhale. Sy het hulle geskep, asem ingeblaas en dan teruggestaan om slegs hulle lewensdans neer te pen. Die afgelope drie jaar woon sy en haar man in Phalaborwa en die simbiose van die bos sorg vir die nodige inspirasie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Didi Potgieter Hart van goud Ida Bester Judy Troskie LAPA Uitgewers Lizelle von Wielligh Lulu en die liefdesghoeroe New books New releases Romanza Sneeuvlokkies en rooiwyn Soeter as nougat


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments