C

Lees nou ’n uittreksel uit Fortuine deur Ebbe Dommisse – onlangs benoem vir ’n ATKV-Woordveertjie en ’n kykNET-Rapportprys!
 More about the book!

2022 is sover ’n besonderse jaar vir Fortuine deur Ebbe Dommisse. Die gewilde boek oor die wel en wee van Afrikaner-magnate is onlangs benoem vir die kykNET-Rapportprys: Niefiksie en vir ’n ATKV-Woordveertjie!

Gaan Fortuine met al die pryse wegstap? Hou die spasie dop om uit te vind. Intussen, lees gerus ’n uittreksel!

Lees die uittreksel:

~~~

1

Die voorgeslagte 

OP DIE LYSTE van die wêreld se rykste mense is daar betreklik min Afrikane. Die meeste miljardêrs in Afrika, met sy oorvloedige natuurlike hulpbronne, kom uit Suid-Afrika. Dié land se omvangryke mineralebronne van veral goud en diamante het die aanvanklike basis vir Suid-Afrika as ’n moderne nywerheidstaat gelê.

Tog word ’n Afrikaan as die rykste mens van alle tye beskou. Hy was Mansa (keiser) Musa I van Mali wie se Middeleeuse rykdom op $400 miljard geskat word; byna dubbel soveel as die geraamde fortuin van die rykste van alle moderne families, die Rothschilds. Dit is ook amper drie keer soveel as die rykdom van die voorloper onder hedendaagse superrykes, die Amerikaner Jeff Bezos, grootbaas van Amazon, die wêreld se grootste internetkleinhandelaar.

Bezos, met bates van $112 miljard, was in 2018 boaan die tydskrif Forbes se lys van die rykste miljardêrs op die planeet, gevolg deur Bill Gates van Microsoft ($90 miljard) en die bobaasbelegger Warren Buffett ($84 miljard).

In Januarie 2021 het Bloomberg egter berig dat Bezos verbygesteek is deurdat die gebore Suid-Afrikaner Elon Musk met bates van $184 miljard die rykste mens in die moderne geskiedenis geword het, volgens die groep se Billionaires Index.

Mansa Musa (1280-1337) was die heerser van die Malinese Ryk, ’n Islamitiese staat wat so groot soos Wes-Europa was en onder meer die hedendaagse Ghana en Mali in Wes-Afrika omvat het. Sy fabelagtige rykdom was te danke aan die produksie van meer as die helfte van die wêreld se sout en goud waarmee florerende handel met veral Egipte gedryf is. Mansa Musa het legendaries geraak met ’n pelgrimstog in 1324 oor die woestyn na Mekka met ’n karavaan waarvan die gelyke nooit tevore gesien is nie. Dit het onder meer bestaan uit 12 000 diensknegte, almal gekleed in brokaat en Persiese sy, terwyl Mansa Musa te perd gery het agter ’n stoet van 500 diensknegte wat elkeen ’n staaf goud van sowat 3 kilogram op die skouers gedra het. Hy het biblioteke laat bou, ’n universiteit in Timboektoe, wat ’n sentrum van geleerdheid sowel as ’n handelstad van besonderse kulturele belang geword het, asook groot moskees waarvan sommige 700 jaar later steeds staande is. Sy koninkryk en rykdom het ná sy dood egter vervaag omdat sy opvolgers nie ’n burgeroorlog en invallende veroweraars kon afweer nie. Gevorderde handelsroetes en handelsbande was dus reeds eeue gelede in die noorde van Afrika sterk op dreef.

In die suide van die vasteland was daar eweneens tekens van gesofistikeerde ekonomiese bedrywighede, soos veral die Zimbabwe-ruïnes (bekend as Groot-Zimbabwe) en die oorblyfsels van die heuwelstad Mapungubwe in Limpopo in Suid-Afrika aandui. Navorsers meen dat Mapungubwe (Heuwel van die Jakkals) van 1200 tot 1300 die sentrum was van ’n koninkryk wat met goud en ivoor handel gedryf het met China, Indië en Egipte. Een van die artefakte wat daar gevind is, ’n goue beeldjie van ’n renoster, dui aan dat die inwoners honderde jare gelede al goud gesmelt het.

Wat die ruïnes van Groot-Zimbabwe betref, meen argeoloë dat die vernaamste vestiging daar tussen 1200 en 1500 plaasgevind het. Onsekerheid bestaan steeds oor wie die klipgeboue opgerig het, hoewel daar vandag redelike konsensus is dat dit waarskynlik Shonasprekers was, en dat hulle onder meer met goud met uitheemse handelaars handel gedryf het. Die alombekende seepsteen-beeld van die Zimbabwe-voël wat in die ruïnes gevind is, is in die landsvlag opgeneem.

In albei gevalle het die inwoners van Mapungubwe en Groter Zimbabwe oplaas weggetrek, waarskynlik weens klimaatsverandering wat oeste en die voer van vee bemoeilik het.

Suid-Afrika se eerste kapitalis 

Ruilhandel en kommunale boerdery was algemeen in Suid-Afrika voor die vestiging van die eerste Europeërs in 1652 met die aankoms van Jan van Riebeeck, kommandeur van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), om ’n maritieme aanvullingsdiens te vestig. Die VOC was in werklikheid die eerste aandelebeurs ter wêreld deurdat aandele vir openbare deelname uitgereik is. Die VOC het ook die wêreld se winsgewende dividende uitbetaal. Die handelskepe se vaarte na die Ooste was inderdaad ’n vroeë proses van globalisering.

Die vraag na vars vleis en groente en vars water was die aanvanklike aanleiding tot die inskakeling van die Kaap van Storms, later herdoop tot die Kaap die Goeie Hoop, by die handelsroete tussen die Ooste en die Weste. Die strategiese ligging van die Kaapse nedersetting wat Van Riebeeck gevestig het, het op die lang skeepvaart tussen Europa en die Ooste vars water en voorrade gebied vir die skepe.

Hoewel die Kaapse seeroete tot met die opening van die Suez-kanaal in 1869 een van die belangrikste handelsroetes in die wêreld was, was Suid-Afrika teen 1870 oorheersend ’n landbouland, met slegs 20 dorpe met meer as 1 000 inwoners. Vanaf ongeveer 1681 het verskeie slagters onder die VOC-bewind, wat vryburgers toegelaat het om te boer, hul eie sake bestuur. ’n Slagter was inderdaad die eerste kapitalis van Suid-Afrika: Henning Hüsing (soms ook gespel Huising of Huisen), wat die rykste man aan die Kaap geword het.

Hüsing het uit Hamburg as gewone soldaat na die Kaap gekom en as plaaskneg en beeswagter begin werk nadat hy sy ontslag as soldaat gekry het. As vryburger het hy teen 1678 in die Hottentots-Hollandberge vee begin teel. As heemraad van Stellenbosch het hy ’n kontrak met die VOC aangegaan om vleis aan die plaaslike hospitaal en besoekende skepe te verskaf, en naderhand saam met sy vennoot die vleiskontrak vir die garnisoen verkry.

Hy het Adam Tas in die burgerlike opstand teen goewerneur Willem Adriaan van der Stel in 1706 gesteun en is as een van die samesweerders in hegtenis geneem. Nadat die Amsterdamse owerheid die nedersetters in hul saak gelyk gegee het, het Hüsing gaan woon op sy plaas Meerlust; die latere spogplaas van agt geslagte Myburghs waar hy 100 000 wingerdstokke gehad het.

Die inventarisse van ander boere aan die Kaap, veral in die tydperk van die Hollandse besetting tot 1806, toon ook ’n samelewing wat baie welvarender was as wat sommige geskiedskrywers meen.

Die leefstyl was sodanig dat Ryk Tulbagh, goewerneur van die Kaap de Goede Hoop, in 1755 die sogenaamde weeldewette uit Batavia aangepas het om oordadigheid (‘prag en praal’) onder die amptenary te beperk.

Daar was wel armoedige boere, veral onder die grensboere. Maar in ’n ontleding van 2 500 inventarisse van die besittings van boere wat vir die mark geproduseer het, het prof. Johan Fourie van die Universiteit Stellenbosch hulle met inwoners van Engeland, Nederland en die Chesapeake in Amerika vergelyk. Die destydse boere aan die Kaap, wat onder meer die Kaaps-Hollandse boustyl gevestig het, het nie net baie meer skape en beeste besit nie, maar ook boeke en skilderye.

Buiten dat dit ’n besondere kultuurerfenis aantoon, is dit ook ’n belangrike weerlegging van sommige beskouings van vermeende armoedige Afrikaners wat die rassistiese apartheidsbeleid van die 20ste eeu kon uitdink. Een voorbeeld van hierdie beskouings is Allister Sparks wat geskryf het: ‘Die geestesgesteldheid van Afrikaners is gevorm deur ses generasies wat verlore was in Afrika: ’n volk wat die enorme ontwikkelinge van die 18de-eeuse Europa heeltemal misgeloop het … ’n volk wat in diepe eensaamheid agteruitgegaan het na ’n selfs eenvoudiger bestaan as hul Europese voorvaders, ’n volk wat, sekerlik, die eenvoudigste en agterlikste fragment van die Westerse beskawing in moderne tye was.’

Sparks het waarskynlik soos baie ander Engelse historici nie genoegsame toegang gehad tot geskiedkundige bronne in Nederlands, wat die oudste skryftaal in Suid-Afrika is, nie. Hy het met sulke ruwe veralgemenings ook nie kennis geneem daarvan dat ’n Engelse koloniale goewerneur, sir Theophilus Shepstone, as die grondlegger van segregasie in Suid-Afrika beskou word nie. Soortgelyke rassebeskouings het eweneens in ander lande gegeld en die segregasiebeleid in die Verenigde State het tot die tweede helfte van die 20ste eeu voortgeduur.

~~~

Lees ook:

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa South African Current Affairs

Tags ATKV-Woordveertjies 2022 Book excerpts Book extracts Ebbe Dommisse Fortuine Fortunes Jonathan Ball Uitgewers kykNET-Rapportprys: Niefiksie Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments