C

Kom, trek aan jou voorskoot en Bak dit self met 50 feestelike koekresepte in Marlene Schoeman se jongste kookboek
 More about the book!

’n Nuwe baba in die familie is altyd ’n vreugdevolle gebeurtenis en iets wat gevier moet word. Feesvierings kan egter ’n duur spulletjie word, veral as dit by gebak kom. Boonop is koekbak en versiering iets waarteen baie mense opsien.

In Bak dit self wys Marlene dat die mooiste laagkoeke nie ’n onbegonne taak hoef te wees nie. Sy verduidelik hoe om versiersel te kleur, ganache te maak, koeklae egalig deur te sny en verskeie lae op mekaar te stapel sonder dat dit omval. Kaalkoeke (naked cakes) en ombrékoeke word selfs vir die mees onervare bakster maklik gemaak.

‘Met die idees in hierdie boek wil ek wys dat jy nie ’n ervare of professionele bakker hoef te wees om mooi produkte op te tower nie.’

Daar is resepte vir elke smaak, van gewone vanielje- en sjokoladekoek, die immergewilde rooifluweel- en wortelkoek, geurige lemoen- en pynappelkoek, tot smullekker klam Hummingbird-koek. Verskeie versiersels en strope is ook ingesluit.

Met behulp van hierdie boek hoef jy jou nie weer te bekommer oor wat om vir watter geleentheid te bak nie, want daar is koekidees vir die bekendstelling van die baba se geslag, ooievaarstees, verjaardae en morskoeke (smash cakes) vir die belangrike klein mensie.

Kom, trek aan jou voorskoot en bak dit self.

Oor die outeur

Marlene Schoeman woon sedert 2014 in Ladybrand, digby die Maluti’s. Haar man, André, is haar grootste inspirasie en in haar mooi ateljee by hul huis kan sy haar kreatiwiteit en skeppingsvermoë na hartelus uitleef. As sy nie skryf of skilder nie, bak sy vir haar talle klante, of maak uit plastiese versiersel die voorwerpe en karaktertjies wat haar vorige boeke so gewild gemaak het. Sy doen ook landwyd suikerkunsdemonstrasies en is Bakels se plastieseversiersel-ambassadeur.

Marlene se passie vir haar kuns blyk duidelik uit alles wat sy aanpak. Sy glo dat net die beste goed genoeg is wanneer jy iets vir ander mense voorsit. Soos sy tereg sê: ‘Mense kan afskeep proe.’

Categories Afrikaans Cookery Lifestyle Non-fiction South Africa

Tags 50 feestelike koeke om baba te vier Afrikaans Bak dit self Cake Recipes LAPA LAPA Uitgewers Marlene Schoeman New books New releases Recipes


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments