C

‘Jy mag niks geniet nie, want jy het iets verskrikliks aangevang’: Lees ‘n uittreksel uit Liewe mamma deur Esther Verhoef
 More about the book!

Liewe Mamma deur die Nederlandse skrywer Esther Verhoef is ’n angswekkende roman oor ’n vrou se skynbaar perfekte lewe wat kruis met dié van ’n jong gewoontemisdadiger.

Helen is ‘n opgeleide teatersuster wat haar werk geniet. Sy woon ’n pragtige huis. Haar man maak verskriklik baie geld. Die drie kinders doen goed vir hulself. Op ’n Vrydagaand gaan sy altyd gimnasium toe, want haar lewe het ’n vaste ritme. Sy kom by die huis en betrap ’n inbreker. Uit selfverweer skiet sy hom dood … en haar gesin se lewe is nooit weer dieselfde nie.

Alles is perfek, totdat dit eendag nie meer is nie.

  • Ook beskikbaar in e-boekformaat op Kobo en Amazon

Lees die uittreksel uit Liewe Mamma:

***

Liewe Mamma

Elke oggend wanneer ek wakker word, geniet ek die geur van die lakens, die najaarson wat deur die dakvenster skyn en die gerusstellende voëlgeluide wat van buite af kom. Ek hoor hoe die kinders in die gang beweeg en in die badkamer is daar die gekibbel van kinders wat gereed maak vir skool.

Ek rek my uit, baai in die heerlikheid daarvan, en dan oorval die neerdrukkende donkerte wat my sorgeloosheid met alle geweld wil stukkend slaan my weer. ’n Stemmetjie in my kop fluister: Jy mag niks geniet nie, want jy het iets verskrikliks aangevang.

Dikwels slaag ek wel daarin om myself te oortuig dit is net ’n klein probleempie, iets wat tydelik verskriklik sal voel maar beslis nie vir altyd sal aanhou nie. Ek is al taamlik goed daarmee, selfs miskien bedrewe. Ek kry dit ook toenemend reg om myself te oortuig dat hierdie aaklige herinneringe niks met my te doen het nie, byna asof ek ’n getuie was van ’n ernstige motorongeluk of ’n rooftog in ’n winkel. Ingrypend, hartverskeurend vir iemand anders, maar nie vir my nie.

Ek hou die meeste van die laaste gedagte.

Alles lyk dan ook asof dit soos gewoonlik aangaan en asof niks gebeur het nie: die huishouding, skool en werk. Maar daardie pikswart herinneringe is in my siel geanker en ek dra dit met my saam, onsigbaar vir die buitewêreld.

DRIE WEKE VROEËR

VRYDAG

1

Brian vat Ralf se laptop af en sit dit op sy skoot. Hy maak asof hy sy vriend se flouerige beswaar nie raaksien nie – of hom nie daaraan steur nie.

Ralf is gewoond daaraan dat Brian hom ignoreer. Dit is trouens nutteloos om hom teë te gaan wanneer hy so pas dwelms gebruik het. Hy vat ’n sluk van sy Red Bull en laat rus sy kop teen die verslete kussings van die bank. Kyk op na die plafon van die buitegeboutjie, waar die spinnerakke soos verflenterde stukkies materiaal om die buislig gevorm het. Die saamgeperste plafonplate lyk soos ’n bol ineengestrengelde wurms. Hy knyp sy oë toe, want hy het ’n helse hoofpyn – nie net van die lang nag nie, veel eerder sy ma se gekerm. Sy het hom verlede nag seker dertig keer gebel en tallose boodskappies gestuur. Stalkster. Hy het dit eers vanoggend gesien – sy telefoon was deur die nag af.

Teen sesuur het hy doodmoeg by die huis gekom. Voor hy sy kamer en warm bed kon bereik, het sy ma hom ingewag. Sy het in die kombuis gesit met sakke onder haar bloedbelope oë en ’n halfleë wynbottel op die tafel. Nou is hy onder huisarres, gehok. Asof hy nog ’n baba is!

Hy is verdomp al agtien en hy het ’n kar.

Hoekom meng sy so in sy lewe in?

Hy kan maar netsowel op sy eie gaan woon; êrens in Rotterdam of Den Haag ’n woonstel of huis saam met ’n paar vriende huur. As hy net die geld daarvoor gehad het.

Sy ma het voor hom kom staan en onophoudelik op hom geskreeu; byna nie ’n oomblik opgehou sodat sy kon asemhaal nie. Sy pa het op die lawaai afgekom maar hom soos gewoonlik nie daaraan gesteur nie.

‘Jou ma ken jou die beste,’ het hy gesê en werk toe vertrek.

Sy ma het geen idee wat in sy lewe aangaan nie. Hy het seker al ’n duisend keer snags uit die huis gesluip en saam met Brian of ander vriende Den Haag of Antwerpen toe gery waar hy dinge ervaar het waarvan sy net vaagweg kennis neem op die TV-programme waarna sy soos ’n zombie sit en kyk. Nee, van die dinge wat hy ervaar en doen wanneer hy by sy vriende is, het sy nie die vaagste benul nie. Tog is hy seker sy weet van alles wat in sy lewe aangaan.

Boonop kan sy Brian nie voor haar oë verdra nie.

‘Hoekom soek jy nie vir jou vriende van jou eie ouderdom nie?’ vra sy dikwels. Of: ‘Sy houding staan my nie aan nie.’ Dan haal hy maar net sy skouers op. Sy hoef mos nie met Brian saam te lewe nie?

Party van sy vriende het hom wel teen Brian gewaarsku, maar hy dink hulle is waarskynlik net bang vir hom.

Jammer vir hulle. Of hulle nou daarvan hou of nie, Brian is sy vriend. Hy is oukei. Miskien nie vir almal nie, maar wel vir hom.

Allemansvriend is niemand se vriend.

2

‘Dit ook nog.’ Terwyl Helen haar fiets uit die fietsloods trek, voel sy die eerste reëndruppels. Sy slaan haar kraag op en ry kop omlaag langs die valboomhekke verby na die hoofpad toe. Dit was die hele dag sonnig en droog, maar noudat sy klaar gewerk het, is dit asof ’n wolk oor die stad oopgeskeur het. Sy vloek binnensmonds toe sy ’n voetganger wat in die middel van die fietspad ’n sambreel oopmaak, net-net misry. Toe vul die reuk van nat teer en klam grond haar neusgate. Sy dink aan die tatoe wat sy ’n paar maande gelede op haar voorarm laat aanbring het. Baie subtiel. Van ver af lyk dit soos ’n grys streep, maar as jy nader kom, word die woorde duidelik leesbaar: Tel jou seëninge.

Daar is slegter dinge wat met jou kan gebeur as om nat te reën. Sy kry elke dag met veel erger dinge te doen. Die angstigheid wat haar karakter begin domineer het nadat sy ’n ma geword het, word vererger deur die stryd wat sy ander mense elke dag voor haar oë sien voer. Pasiënte word ingespuit, maak hulle oë toe en verdwyn – niemand weet waarheen nie. Wat oorbly, is ’n slap, willose liggaam waaruit die siekte gesny moet word. Soms is die operasie nie geslaagd nie; baie dikwels daal die persoon se bloeddruk gevaarlik laag, hou die hart op klop en kan geen middel of poging om die pasiënt te red, hom weer terugbring vanaf daardie plek waarheen hy gegaan het nie.

Die dood maak nie onderskeid nie. Nie wat jou ouderdom, geslag of ras betref nie. Die dood maak ook geen verskil tussen mooi, lelik, vet of maer mense nie. Hy neem wie hy wil sonder aansiens des persoons.

Dus slaak sy altyd ’n sug van verligting as haar dogters en seun heelhuids van die skool of van een of ander partytjie of geselligheid af tuiskom. Geen geluid is vir haar gerusstellender as wanneer die swaar houtvoordeur toegemaak word nie.

Helen neurie ’n liedjie van die Beatles wat op haar iPod is. Sy hou nie juis van die Beatles se musiek nie, behalwe hierdie een liedjie, wat haar ma voorheen altyd gesing het as sy haar wou opvrolik.

‘Little darling, I feel that ice is slowly melting. Little darling, it seems like years since it’s been clear. Here comes the sun. Here comes the sun and I say it’s all right.’

Sy asem die vogtige lug diep in. Die bande van haar Batavus maak sisgeluide op die fietspad. In die verte sien sy reeds die rand van die bos, die struike en bome langs die ou spoorlyn. Byna tuis.

3

Brian tik ’n adres op Google Maps in. Met vinnige, ongeduldige bewegings zoem hy in op die lugfoto. Die beeld vries bokant ’n vrystaande huis aan die buitenste rand van ’n woongebied. Dié het die grootste tuin van almal. Dit word deur ’n ligblou reghoek met sonstoele omring.

‘Nice,’ fluister Ralf.

‘Kan ek jou iets sê?’ Brian buig sy kop nader. Sy klein bruin ogies skitter – Brian se linkeroog is ietwat kleiner as sy regteroog. Die gevolg is dat hy altyd befoeterd en uitdagend lyk. ‘Weet jy dat die mense kontant in die huis het? Baie kontant?’

Ralf beweeg nie. Hy probeer sy gesig uitdrukkingloos hou. Hulle het al so dikwels hieroor gepraat: ’n manier om vinnig geld in die hande te kry. ’n Rooftog. Nie op ’n winkel of ’n besigheid waar daar oral kameras en dikwels agter die toonbank ’n vuurwapen is nie, maar by mense in hulle huis. By hulle is daar al daardie vinnige geld in die vorm van horlosies, goud, diamante en kontant wat hulle net kan gryp. As jy net weet waar om dit te gaan kry.

‘Hoe sal jy dit weet?’ Ralf probeer sluk, maar daar is ’n knop in sy keel wat dit onmoontlik maak.

‘Oë en ore.’ Brian draai terug na die skerm toe. Hy laat die lugfoto geleidelik uitzoem sodat ’n mens kan sien die huis is geleë in ’n doodloopstraat, deels omsoom deur bosse en struike. ‘Perfek,’ fluister hy.

4

De Wildenbergh was al byna honderd jaar oud toe daar aan die begin van die jare negentig ’n volledige woongebied langsaan gebou is. Daarom is hulle tuin ook groter as dié van die ander huise. Sy en Werner het net aan een kant bure: ’n kinderlose argitekegpaar met wie hulle min kontak het. Aan die ander kant en agter grens die tuin aan ’n woud, struike en slote. Daaragter is ’n dyk wat met populiere en struike begroei is waaroor daar eens ook ’n spoorlyn geloop het. Die motorpad wat nou oor die dyk loop, word skaars gebruik. Niemand kyk ooit in die tuin in nie. Daar is immers niks anders as groenigheid en vryheid om te sien nie. Om op so ’n plek te woon laat jou voel asof jy permanent met vakansie is.

Helen het dié voormalige rykmansboerdery geken. Sy het lank genoeg daarlangs fietsgery in die tyd toe die stede en dorpe in hierdie streek nog nie tot teen mekaar uitgebrei het nie. As kind het sy al gedink die huis is pragtig en indrukwekkend met sy groot, hoë vensters en die buitengewone voordeur, en haar bewondering vir die plek het nooit afgeneem nie. Toe dit sewe jaar gelede in die mark kom, het sy Werner vinnig oorreed om dit te koop. Thom en Sara was in graad vyf en ses, en Emma in graad twee. Hulle het dus grootgeword in die huis waaroor hulle ma in haar jeug gedagdroom het.

Helen ry met haar fiets onder ’n digte, donker laning boomtoppe deur. Eike, populiere en berkebome wat al daar staan so lank as wat sy kan onthou. Anderkant die dyke verlaat sy die geplaveide pad en neem ’n uitgeryde paadjie wat skuins afwaarts loop. Dis ’n smal sandspoor tussen die struike en die meentgrond van die munisipaliteit. Baie fietsryers van hulle woonbuurt gebruik dit in plaas van die hoofpad wat ’n paar honderd meter verder lê. Dit loop uit in ’n doodloopstraat; links daarvan staan volgroeide haselneut- en meidoringbome en aan die ander kant twee groot huise: Frank en Otto se strak wit villa en ’n entjie verder De Wildenbergh – die naam van die huis is in mosaïek op die voorgewel verewig.

Helen stoot haar fiets by die oprit op en maak die hoë houthek tussen die huis en die garage oop.

Sy sit haar fiets onder die afdak op die terras. Thom en Emma se fietse staan reeds daar. Emma se skooltas lê nog steeds op die bagasierak by die handvatsels. Sugtend haal sy dit af en gaan via die agterdeur by die huis in.

In die opwaskamer lê Thom se skooltas op die vloer – ten minste het hy dit in die huis ingebring. Verderaan lê Emma se jas, drie en ’n halwe paar skoene, ’n bottel AA en ’n kosblik. Die TV in die kombuis is ingestel op Comedy Central en oor alles skel die blikkerige klank van musiek uit ’n slimfoon.

Helen verhef haar stem. ‘Hallo? Gaan julle nog hierdie spulletjie opruim?’

Geen reaksie nie.

Sy hang haar jas op en stap by die kombuis in. ‘Dis nie lekker om so by die huis te kom nie, dame en heer.’ Sy sit Emma se skooltas met groot gebaar op die eettafel neer. ‘Dit was nog op jou fiets.’

Emma kyk van haar skootrekenaar af op. Haar oë is pikswart omlyn. ‘Was daar vandag enige sterfgevalle in die hospitaal?’

‘Waarskynlik, maar nie in die afdeling waar ek werk nie.’

Emma draai terug na haar skerm toe. Sy het onlangs grimering begin gebruik, maar is nog nie bedrewe in die aanwending daarvan nie. Daar is klonte maskara op haar wimpers en donker strepe onder haar oë.

Helen wil iets daaroor sê, maar besef betyds sy moet haar mond hou. Die lewe in ’n huis vol tieners is soos ’n wandeling deur ’n mynveld. ‘Waar is Thom?’

Emma haal haar skouers op.

‘Het jy nie huiswerk nie?’

‘Eers Maandag.’ Emma se aandag is verdeel tussen haar skootrekenaar en haar selfoon. Haar duim gly oor die gebarste skermpie.

Thom kom by die kombuis ingestap. ‘Haai, Ma,’ sê hy en sit sy arms om haar.

Helen soen hom op sy kroontjie en streel ongeërg oor sy rooi krulle, wat glad onder haar vingers voel. Haar vriendinne se seuns het byna oornag afsydig geword, maar Thom het sy liefdevolle self gebly, selfs al is hy reeds vyftien en moet hy al twee keer ’n week skeer.

‘Sara het my laaier gesteel,’ sê Thom.

‘Geléén,’ help Helen hom reg.

Thom staan ’n entjie weg van haar af. ‘As ek haar nie daarvoor vra nie, kry ek dit nie weer terug nie. Dit word steel genoem. En nou is sy seker weer by Jackie?’

Helen knik. Haar oudste dogter, wat hierdie somer sewentien geword het, het dadelik ná skool na haar beste vriendin toe gery en gaan daar kuier en oornag. Helen neem aan dat sy Sara weer Sondag sal sien; vir haar is De Wildenbergh ’n tipe alles-in-een-oord. Volgende jaar gaan die kind in Leiden studeer en dan sal sy net naweke huis toe kom om haar wasgoed te laat doen. Helen wil nie te veel daaraan dink nie.

‘Mamma, ek wil ook ’n tatoe hê,’ klink dit van agter die skootrekenaar op.

Helen kyk verbaas op.

Emma streel oor haar regtersy. ‘Hier wil ek dit hê. ’n Tak met pienk en rooi blomme.’

‘Goeie idee.’

Blydskap en ongeloof wissel mekaar op Emma se gesig af. ‘O, Mamma, régtig?’

‘Ja, hoekom nie? Ek sou sê jy moet dan sommer terselfdertyd ’n slang in jou nek laat doen, heeltemal tot hier . . .’ Sy trek met haar wysvinger ’n streep vanaf Emma se borsgleufie tot agter haar oor.

Emma se gesig val. ‘Moenie simpel wees nie, Mamma.’

‘Jy het daarmee begin. Ons kan daaroor praat as jy twintig is.’

Emma skuif die skootrekenaar van haar af weg. ‘En wat dan van Sara? Sy gaan môre ’n tatoe kry.’

Helen bly vasgenael staan waar sy is. Emma en Sara verskil wel vier jaar van mekaar maar hulle kom nietemin goed oor die weg.

‘Moenie so na my kyk nie,’ sê Emma dapper. ‘Sy gaan môre saam met Jackie Antwerpen toe en dan gaan albei dieselfde tatoe kry.’

‘Dis selfs beter.’ Helen haal haar telefoon uit haar handsak en druk Sara se nommer.

‘Mamma het tog ook ’n tatoeëermerk.’

‘Ek is veertig, Emma. Jou suster is sewentien.’

‘Die nommer wat u geskakel het, is nie beskikbaar nie . . .’

Teen haar beterwete probeer Helen nog ’n keer om Sara te bel. Vies verbreek sy die verbinding en stuur vir Sara ’n boodskap. Net om seker te maak dit kom by haar dogter uit, stuur sy vir Jackie ook een: Kan jy vir Sara vra om my vanaand te bel? Tatta, Helen.

Helen masseer haar neusbrug en maak haar oë toe. Sy het so uitgesien na vanaand. ’n Skuimbad, ’n glas goeie wyn. Rus. Sy sou graag die aand saam met Werner wou deurbring, maar Vrydagaande werk hy gewoonlik laat of gaan hy ná ete terug werk toe.

Thom kyk na die stoof. ‘En nou, Mamma? Wat gaan ons actually eet? Dis al amper vyfuur.’

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Esther Verhoef LAPA LAPA Uitgewers Liewe Mamma Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments