C

Hoe verander ’n wetsgehoorsame burger in ’n godfather-figuur? Henk Breytenbach gesels oor sy jongste roman, Kroonwild
 More about the book!

Waar kom die inspirasie vir ’n verhaal soos Kroonwild vandaan? Hoeveel navorsing verg dit? Henk Breytenbach gesels oor sy jongste roman, distopiese fiksie en sy skryfproses.

Wat was die inspirasie vir Kroonwild?

Ek lees wyd en syd wat koerante en die media oor die algemeen aan betref, en dit wil vir my voorkom asof daar ’n groeiende mate van rassespanning in die land is. Op grondvlak kom ek dit egter nie agter nie, so ek weet nie of die polarisasie (soos ek dit in die media beleef) bloot net sensasie is nie. Nietemin, die dinge steek in ’n ou se agterkop vas, en by braaie en kuiers moet mens alewig hoor van die ‘goeie ou dae’ en hoe sleg als nou is.

‘Toe word ek die een oggend wakker met die hele storie in my kop’ 

Toe word ek die een oggend wakker met die hele storie in my kop – oor hoe die wêreld sou lyk as ons nou inderdaad terug in die ‘goeie ou dae’ sou wees, maar hierdie keer met die rolle omgeruil. Daai perspektiefverskuiwing gee mens nogal ander insigte oor wat ‘goed’ of ‘sleg’ is, en hoe wensbaar enige rasgebaseerde beleid is.

Hoe verskil Kroonwild van jou ander spanningsverhale?

My eerste twee boeke, Kodenaam: Icarus en Moordlys, het meer die klassieke spanningsformule gevolg, alhoewel die protagonis heel teësinnig by die misdade betrek word. Vic Nel is nie ’n speurder of polisieman nie, maar wel ’n opdrifsel uit die ou inligtingsmagte. Kroonwild, aan die ander kant, is moeiliker om te klassifiseer. Daar is nie ’n moord of misdaad wat opgelos moet word nie, met geen liefdesintriges nie. Wél liefdesverraad en teleurstelling.

‘Alhoewel dit ’n spanningsverhaal is, sou ek sê dis ’n bildungsroman eerder as ’n krimi.’

Die storie handel oor hoe ’n wetsgehoorsame burger, Paul van Heerden, ’n misdadiger word omdat onregverdige en rassistiese wetgewing hom bloot nie met ’n keuse laat nie. Die uitbou van sy kriminele netwerk waar hy dan van ’n gewone middeljarige databasistegnikus met ’n effense pens verander in ’n tipe ‘godfather’-figuur, vorm die ruggraat van die storie. Daar is heelwat aksie met die nodige bloed en derms in die boek, die bedoeling was darem nou nie vir ’n droë akademiese verhandeling oor politieke en sosiale verval nie! Alhoewel dit ’n spanningsverhaal is, sou ek sê dis ’n bildungsroman eerder as ’n krimi.

Het jy baie navorsing gedoen vir Kroonwild? Vertel ons meer.

Ek het redelik baie nageslaan oor infrastruktuurverval- en herbou in post-koloniale en na-oorlogse state, en ’n interessante gevallestudie was hoe die twee Koreaanse state verskillende rigtings ingeslaan het na hulle twee opponerende politieke filosofieë aangeneem het. Dan het ek ook ’n paar boeke oor die propaganda van die Tweede Wêreldoorlog in die hande gekry, waar die aanhoudende herhaling van die Groot Leuen en die verontmensliking van die verbeelde ‘vyand’ opgebring word as die belangrikste aspekte van staatsbeheer in die afwesigheid van sinvolle staatsbestuur.

‘Die idee was om die metamorfose van ’n goeie, betroubare familieman na ’n geharde misdadiger uit te beeld.’

Ek het nooit gedag die geskrywery gaan my in daardie rigting instuur nie, maar dit is om die beurt geweldig interessant en ontstellend. Ek sien baie van die stappe in eers die skep van ’n verbeelde ‘vyand’, en dan die verontmensliking daarvan, in uitlatings van ’n paar van ons grootste politieke partye, en dit stuur rillings in my ruggraat af … so al asof die instruksies in een of ander handleiding stapsgewys gevolg word. Kroonwild stel ’n wêreld voor waarin daardie weg tot die logiese einde gevolg word.

Wat kan lesers verwag in Kroonwild?

Die idee was om die metamorfose van ’n goeie, betroubare familieman na ’n geharde misdadiger uit te beeld, waar sy morele verval stapsgewys gebeur en elke keer aan die leser geregverdig kan word. Dit was ’n interessante oefening om met ’n simpatieke, goeie karakter weg te spring en uiteindelik te besef waarin hy verander het, maar dat my lojaliteite steeds by hom lê. Ek dink dit spreek weer tot ’n universele waarheid, dat niemand nét goed, of nét sleg is nie. Ons moet net die moeite doen om na hul verhale te luister.

‘Ek dink dit spreek weer tot ’n universele waarheid, dat niemand nét goed, of nét sleg is nie.’

Laastens, wat is vir jou die beste aspek van wanneer jy ’n boek skryf?

Die beste vir my, maar ook die mees frustrerende, is wanneer die storie sy eie loop neem. Ek tob vir maande oor verskillende idees en gedagtes vir ’n spesifieke storie, en kry dan die uitleg so half en half in my kop. En wanneer die storie mooi ryp in die kop is, kry ek als reg en gaan sit en begin tik. Net om op bladsy twee te sien hoe die ding sy eie rigting inslaan en ek maar net as passasier saamry. Dis geweldig lekker, ek sit en lees die storie soos dit gebeur. Die tik is bloot ’n toevalligheid. En voor ek my kan kry raak die werklikheid net ’n klein swart spikkeltjie iewers in my bewussyn, en ontvou ’n nuwe wêreld wat nog nooit bestaan het nie, voor my. Dis vreeslik lekker, maar soos ek gesê het, ook frustrerend. Dit maak beplanning betreklik moeilik.

Kroonwild is nou beskikbaar by LAPA.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Distopiese fiksie Henk Breytenbach Interviews Kroonwild LAPA LAPA Uitgewers Wênkbrou


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments