C

Gaan Libbi de Lange die keer haar tribe vind? Lees ’n uittreksel uit Kristel Loots se jongste roman, Die lang papawer
 More about the book!

Libbi de Lange is die langste meisie in die kontrei. In die hele wye wêreld, of so voel dit vir haar. Die lewe werk rof met iemand wat nie by die gewone inpas nie; die neiging is mos oral om die kop af te kap van ’n papawer wat aanhou uitstyg. As jy dan nog die dogter is van ’n pastoor van ’n volksvreemde kerk in die Knysna-bosse, is die verleentheid groot en die hoop min …

Lees die uittreksel uit Kristel Loots se jongste roman, Die lang papawer:

~~~

Een

Natuurlik het Libbi de Lange nie self haar naam gekies nie. Selfs op papier lyk dit belaglik – al daardie s. En dan nog die De Lange-deel wat haar elke dag van haar lewe koggel. Sy blameer die noodlot daarvoor. En haar pa. Én haar ma. Wat gaan staan en trou het en toe kind gekry het. Wat Libbi de Lange sou word. Dis altyd dieselfde storie. Waar sy gaan of staan, wat sy ook al doen, Lang Libbi de Lange maak amok en Lang Libbi de Lange word gespot.

Die oomblik toe sy uit die taxi geseil kom, is dit weer so. Sy word raakgesien. ’n Student wat op sy fiets verbygery kom en hom amper des dinges teen die telefoonpaal vasry. Sy kan hom natuurlik gerusstel as sy wil. Ja, ja, jy sien reg. Dis nie jou babelas wat jou laat hallusineer nie. Ja, ek weet, as wat jy sien waar is, moet jy jou ma bel en vertel. Want dan kan jy ook ’n unicorn in Woolworths raakloop.

Enigiets is moontlik.

Die arme ou herwin sy balans met moeite, maar nie sy waardigheid nie. Tog kyk hy nog een keer oor sy skouer na haar voordat hy die res van sy dag tegemoet gaan met ’n storie wat min mense sal glo.

‘Nee!’ roep Libbi hom uit pure moedswilligheid agterna. ‘Ek loop nie op stelte nie.’

Die fietsryer lig sy boude van die saal af op en leun vorentoe om te trap sodat hy so gou moontlik van haar af kan wegkom. Dalk tog ’n bietjie skaam omdat hy uitgevang is.

Nuuskierige agie.

Libbi sug. Sy het altyd dieselfde uitwerking op mense wat haar die eerste keer teëkom. Verbasing, eintlik verbystering, noem dit wat jy wil, skok is altyd deel daarvan.

Sy is verstom oor haar eie bitsigheid. Moet haar senuwees wees wat haar so giftig maak. Sy het gehoop vandag is die eerste dag van die res van haar lewe, dat daar waarheid steek in die gewone pep-talk-twak wat ’n mens gevoer word wanneer jou lewe van koers verander.

Maar nee. Sy sal wees wat sy is, solank sy leef. En sy sal aangegaap word. Miskien eendag in die hemel, ás sy die hemel haal, lyk al die engele eenders, vrouefigure gekroon met glinsterende stralekranse. Almal ewe mooi, ewe groot, ewe blond, ewe sexy; dis nou te sê as dit nog vir engele nodig is om sexy te wees.

Sy staan op die sypaadjie met haar twee tasse en sowat sestien plastieksakke en sy lyk verskriklik, sy weet. Sy voel ook verskriklik. Soos ’n verlepte papawer met ’n knak in die stingel. Niemand bied aan om haar met haar bagasie te help nie. Natuurlik nie, dit gebeur nie sommer met meisies soos sy nie.

‘Nou maar middelvinger vir julle,’ mompel sy. Sag, baie sag, want ’n mens wil tog probeer vrede hou op dag een van jou nuwe lewe. ‘Ons langerate dra ons eie laste en ons eie tasse.’ Daarom sluk sy ’n slag en vee die ergste sweet van haar voorkop af.

‘Waar is kamer 34?’ vra sy vir ’n meisie wat by die voordeur van die koshuis uitgestorm kom en in haar spore omdraai om ’n tweede keer na Libbi te kyk.

Dit sal beter gaan. Later wanneer almal hier gewoond geraak het aan haar. Sy sal nog steeds ‘the other’ wees, die unicorn in die land van diere met hoewe, anders, áltyd anders. Maar mense raak later gewoond aan die buitengewone sodat dit nie meer soveel saak maak nie.

‘Nommer 34 is daar bo iewers.’ Die meisie beduie met haar kop in die rigting van die trap. ‘Die kamers se nommer is op die deure. Kyk maar self.’

Libbie strompel met haar pakkasies teen die houttrap op en soek tot sy Nommer 34 kry. Dis belaglik dat sy so swaar dra. ’n Tas vol koekerige klere wat sy nie van plan is om ooit aan te trek nie. Ingepak om haar ma stil en tevrede te hou. Die kalerige toppies en sondige rokke wat sy skelm by Foschini gekoop het, onder die ander klere weggesteek.

Die kamerdeur is toe. Sy weifel, klop dan sag, beteuterd en stoot die deur oop.

Libbi steier ’n oomblik voor die chaos. Tasse, klere, sakke, boeke, tjipspapiere, leë koeldrankbottels en midde in die deurmekaarspul ’n meisie wat kruisbeen op die bed by die venster sit.

Die beste bed.

Natuurlik, ja. Haar kamermaat was eerste hier en het die leeueaandeel van die kamer ingepalm. Maar dis seker nie nodig dat haar klere ook oor die tweede bed gestrooi lê nie, is dit?

Sy’s nogal mooi, som Libbi dadelik op. Met hare wat kordaat orent staan. Haar kamermaat is eerder aan die kort kant, maar heeltemal binne normale proporsies.

Vir Libbi word dit ’n moeilike dag.

Die mense van haar dorp ken haar van jongs af en skok nie meer tot stilstand wanneer hulle haar sien nie. Die spottery is altyd daar, maar het ’n bietjie fut verloor.

Maar hier is sy opnuut ’n rariteit wat nie in die skare verdwyn nie.

Sy verwag teen dié tyd dat mense haar sal aanstaar, maar dit word gewoonlik nie presies so openlik gedoen soos deur die vreemde meisiemens op die bed voor haar nie. Die goedgemanierdes doen dit gewoonlik met meer finesse. Deur versluierde ooglede, of van agter ’n sonbril, daardie tipe van ding.

‘Goeie hemel … -besem!’ roep die meisiemens uit toe sy Libbi behoorlik bekyk het. ‘Presies hoe lank is jy?’

Dis wat eerste van Libbi de Lange raakgesien word – hoe sy uittroon bo alles en almal. Nie haar wenkbroue wat volmaak boog nie. Ook nie haar besemboshare wat baie vroue haar beny nie.

‘Baie lank,’ verseker Libbi haar, nie van plan om haar ware mate en gewigte uit te blaker nie. Sy kyk haar kamermaat in die oë soos sy haar voorgeneem het om te doen. Sodat sy nie presies so pateties lyk soos sy voel nie.

Dan sien Libbi dit, die effense luiheid van die meisie se linkeroog. Dis net-net genoeg van ’n afwyking om ’n amperse girlish look aan haar gesig te verleen.

Mans sal seker mal wees daaroor, raai Libbi. Die effense hulpbehoewende uitdrukking wat daardeur uitgestraal word. Genoeg om die ridder in die meeste mans te laat ontwaak.

Net wat sy nodig het! ’n Brose roosknop as kamermaat sodat sy slegter as gewoonlik afsteek wanneer hulle vergelyk word. Dis mos wat die hele wêreld doen.

Meet jou aan ander se standaarde, los geen ruimte vir andersheid nie.

Ag vrek! Libbi wou haar universiteitsloopbaan nie so bitterbek begin het nie; die aanvanklike reaksie op haar voorkoms wou sy so gou moontlik uit die weg kry sodat sy kon aangaan met haar lewe.

Nou sleep sy haar tasse oor die drumpel, hoop hier is iewers nog ’n plekkie waar sy haar klere kan uitpak. Het mos net soveel reg op die helfte van die kamer as hierdie mens met haar kort krullebol en kaal voete. Haar pa se geld, waarvoor hy al sy spaarvarkies moes oopbreek, is net soveel werd soos dié van wie ook al vir haar kamermaat se studie betaal.

‘Ek sien jy’t die beste bed.’ Libbi probeer ’n grap daarvan maak. ‘Lekker langs die venster met ’n behoorlike kopstuk. Myne lyk soos ’n ysterkatel waarop ’n tronkvoël slaap.’

‘Natuurlik, ja. If you snooze, you loose.’

‘En ’n kas wat tot bo teen die plafon strek.’

‘Lekker baie pakplek,’ stem die ander meisie saam.

‘Jy moet sê as jy nie by die boonste rakke kan bykom nie, hoor. Ek help graag.’

‘Ek sal so maak.’

Dié brose roosknop gaan haar nie laat intimideer nie, dis duidelik.

‘Ek is Libbi de Lange.’ Hoe gouer sy dit agter die rug kry, hoe beter. ‘Nie my idee van ’n grap nie; die besluit van my pa met sy trotse De Lange-bloed in sy are en my ma om my so te noem. Het gedink dit klink melodieus. Nie toe al geweet hul brose ou babatjie gaan soos ’n boontjieplant hemelhoog rank nie. Lag nou maar en lag klaar.’

‘Libbi de Lange?’ Natuurlik skaterlag die meisiekind. ‘Asof mens nie met die eerste kyk al kan sien jy loop met jou kop in die wolke nie.’

‘Die lewe deel soms vir ’n mens ’n Joker uit, jy weet?’

‘Jou enigste hoop is om ’n man te trou met e … ’n minder gepaste van vir jou.’

Libbi speel maar saam. ‘Dis my strewe in die lewe, ’n man met die regte van, dis hoekom ek op universiteit is.’

‘Dis altyd goed om ’n doelwit te hê wat verder strek as blote boekekennis. Dis waarvoor akademiese instansies daar is.’

Libbi hou van wat sy hoor. Haar kamermaat het klaarblyklik ’n sin vir humor.

‘Flooze hier, ook nie ’n naam wat ek vir myself sou gekies het nie.’ Sy aarsel. ‘Of juis verdien nie.’ Skielik is haar naam en van nie meer vir Libbi so ’n verleentheid nie. Die naam Libbi spel ten minste nie losse sedes uit soos Flooze sʼn nie. Nee, haar goeie maniere weerhou haar daarvan om iets te sê.

Flooze lig haar van die bed af. ‘Ons kan koffie maak,’ stel sy voor. ‘Ek het ’n blikkie Frisco van die huis af gebring. Volgende keer is dit jou beurt.’

‘Mag mens?’

‘Wat doen?’

‘Koffie maak?’

Libbi wou die universiteit en koshuis se reëls in die trein op pad hierheen gelees het – en het dit toe iewers laat lê. So streng kan dit tog nie wees nie, hulle is nou jong volwassenes, nie meer hoërskoolkinders nie. Haar ma gaan ’n oorval kry as sy die brosjures iewers sien lê, doodseker daarvan Libbi gaan die reëls oortree en geskors word nog voordat sy behoorlik begin studeer het.

‘Koffie maak, ja, maar nie kos kook nie.’

Dit pas Libbi. Sy is nie hier om te eet nie. Sy is hier om man te soek.

Nadat Flooze vir hulle koffie, sterk en swart sonder suiker (jig!), gemaak het, is die spanning nie meer so tasbaar nie.

‘Flooze is natuurlik nie die regte naam vir ’n ordentlike meisie soos ek nie,’ laat haar kamermaat hoor.

Libbi is nie seker of sy nou maar mag lag nie, want sy het Flooze met die eerste oogopslag nie as besonder ordentlik geklassifiseer nie.

‘My arme ma het haar lewe lank baklei teen die Bybelse naam waarmee sy belas is. Mooi Maria het Maklike Maria geword en sy wou haar dogter nie met ’n misleidend soete naam opsaal nie.’

‘Is dit ooit wettig om jou kind so te noem?’

‘Blykbaar. Staan so op my geboortesertifikaat. Flooze Fourie, moeder, Maria Fourie, vader, onbekend.’

Libbi krimp ineen. ‘Vader onbekend’ klink na sleg seerkry. Sy ken nie sulke mense nie. Nie in háár familie nie. Selfs op haar grootworddorp waar dinge soms woes gaan, kry jy nie sommer ’n ‘vader onbekend’ nie. Jy staan pa vir jou dade as dade met nagevolge gepleeg is.

Klaarblyklik is haar kamermaat tot haar verligting tog nie ’n sonstraaltjie nie. ‘Hoekom verander jy nie jou naam nie? Soos ek verstaan, is dit maklik om te doen. ’n Paar vorms invul, foto’s, ’n beëdigde verklaring, ensovoorts.’

Sy het dit self oorweeg om haar van te verander, maar die seerkry in haar pa se oë het haar gekeer. Pappa se prinsessie is nie aldag ’n maklike mantel om om jou skouers te dra nie. Sy wil graag haar beeld as Henoch en Sarie de Lange se dogter afskud noudat sy op universiteit is. Sowaar, sy het genoeg om mee te cope. Aan haar lang lyf kan sy niks doen en haar naam en van is ’n verdere bespotting waaraan sy nie kan verander sonder om onterf te word nie. Dan maar probeer ontslae raak van die stigma wat aan haar andersoortige ouers en hul gewoontes kleef.

‘Sal nie help nie, daar is te veel mense wat my en my naam en my ma ken, en al die shit wat daarmee saamgaan. Die naam Flooze Fourie sal op my grafsteen staan.’ Flooze klink beslis nie soos ’n pienkboekie-koekie wat sedeprekies van Helen Steiner Rice aanhaal nie.

‘In haar pikgietswarte hart is my ma iemand wat aan vrye liefde glo – en sommer baie daarvan. Om elke hoek en draai. My ma het seker gehoop my liefdeslewe sal so kleurryk wees soos hare, maar met meer sukses.’ Flooze sug. ‘Jy sien, my ma is so vet soos ’n vark. Vrek weet hoe ek verwek is. Geen wonder my pa het kort daarna pad gevat en is nog steeds missing nie.’

Eintlik het Libbi nie verwag om vandag al haar kamermaat se hele lewensverhaal te hoor nie, veral nie soveel wroeging nie.

‘En jou ma? Waar’s sy?’

Dit kan Libbi nie minder skeel of Flooze se ma op die maan is nie, maar sy wil werlik weet hoe ver the road less travelled vir Flooze strek. Met so ’n oënskynlike loslyf-ma, sal sy Libbi en háár mense se andersheid seker nog minder kan hanteer.

‘My ma is op ’n mission van haar eie. Probeer nog gou in beseringtyd ’n man of twee inpas voordat sy heeltemal van die radar af verdwyn.’ Flooze tik met haar wysvinger teen haar kop. ‘My ma is mal.’

Libbi lag. ‘Myne ook.’

Dis hoe die hele opset by die De Langes beskou word. ’n Klomp mal mense wat liefs vermy word. Met Henoch de Lange wat voor loop op ’n smal paadjie wat lei na ’n diep donker bos waar wie weet wat alles gebeur. En Sarie de Lange net ’n kortkop agter hom, soos dit ’n gehoorsame vrou betaam.

Libbi hoop sy en Flooze het nou genoeg familie uitgelê. Want sy het min wat sy wil vertel en baie wat sy geheim wil hou. Oor haar pa en ma en die hele ou De Lange-clan deur die jare. En dan is daar nog BoetaBen ook, oor hóm wil sy glad nie praat nie. Want dan sal sy heel moontlik aan die tjank gaan. Nie ’n goeie begin vir ’n vrolike en sorgvrye studentelewe nie.

Miskien sou die De Langes makliker in die massa kon verdwyn het as hulle in ’n stad of selfs in die middedorp van óf George óf Knysna hul ietwat vreemde bestaan gevoer het. Maar toe beland hulle in die flentertjie niemandsland tussen die twee dorpe. Dié tussenin ‘dorpie’ is eers spottenderwys Tussendorp genoem, maar die naam het in die volksmond bly voortbestaan. Dis ’n speldepuntklein plekkie op die padkaart met ’n ambiance van sy eie, ’n skool, ’n kerk, kliniek en biblioteek, alles wat nodig is om feitlik onafhanklik te bestaan.

Met net genoeg inwoners om ’n kleindorpse atmosfeer te behou waar skandes en skades nie sommer ongemerk verbygaan nie. Waar die regering van die dag se dinge en doene, die droogte, die jappies en die swetterjoel startups van die negentigs, toe oornag van jong rekenaarfundi’s miljoenêrs gemaak is, nie naastenby so belangrik of interessant is soos huismoleste by die bure nie. Dis hier waar tannies se teekoppies rinkel en tonge soos sweepslae klap wanneer stories uitgeruil word.

Vierkantige blokkies pas maklik in, maar daar is nie ronde gaatjies vir jou as jy opsluit neuk om ’n bolletjie te wil wees nie. Dan word jy eenkant toe gerol.

Libbi hoop die Baaise Universiteit is ver genoeg van die dorp om weg te kom van die ewige gefluister oor haar en haar mense.

‘Wil jy hê ek moet jou klere wat op my bed lê op die vloer gooi of het jy ’n ander plan daarmee?’ waag sy om te vra, die soetste moontlik geveinsde glimlag op haar gesig.

Flooze trek haar skouers nonchalant op. ‘Gooi maar op die vloer.’

Wat Libbi toe doen.

Nie aan haar kant van die kamer nie, maar by die res wat om Flooze se bed gebondel lê.

Sy sal vir haar ’n plekkie in die son moet oopkrap anders is hier nie ruimte vir haar, haar ekstra lang rokke, plat skoene én haar 486-rekenaar nie. Sy maak haar tas oop, begin uitpak.

Flooze staan nuuskierig nader. ‘Laat ek sien watter outfits jy het wat ek kan leen.’ Sy bekyk Libbi behoorlik op en af. ‘Jou rompe en langbroeke …’ Met ’n beskuldigende gmfff trek Flooze haar neus op. Toe plak sy haar ongenooid op Libbi se bed neer, en lewer kommentaar op die klere wat bo in Libbi se tas gepak is, die misnoeë onverbloem op haar gesig. ‘Waar kom jy aan dié goed? Jou ouma se trommel op die solder?’

‘My ma hou van ’n rokkie met ’n moutjie. Dis ordentlik genoeg volgens haar smaak, wat sy op my probeer afdwing.’ En waarin sy tot dusver geslaag het.

Eers toe Libbi die onderste klere in die kas begin hang, stel Flooze weer belang. Hou sy hier en daar ’n toppie voor haar en kyk in die spieël hoe sý daarin sal lyk. Vir ’n klereruilery sien Libbi nie kans nie, want wat sy in Flooze se chaotiese bondel klere sien, lyk nie baie skoon nie, sal nie veel van haar lyf toemaak nie, en is ook nie haar smaak nie.

Kyk, sy wil nie meer vaal en vervelig en toe tot bo wees nie, maar sy is wragtig vanself genoeg van ’n sirkusdier om nie nog met plastiekkrale en blinkers en fraiings aan haar lyf ook rond te paradeer nie. Dis Flooze wat die juwelekissie onder in die tas raaksien en uithaal.

Libbi bloos, vies dat sy die ding ingepak het. ‘Sentimentele waarde,’ mompel sy.

‘By jou ma gekry?’

‘My pa.’

Haar ma was nie gelukkig oor die dansende ballerinatjie wat op die maat van die ‘Dans van die suikerfeetjie’ uit Swan Lake in die rondte draai nie. Die porseleinbeentjies is seker te kaal, te skraal, te lank, te veel soos hare.

‘Maar, Ma, hulle het in die Bybel se tyd ook gedans. Met palmtakke.’

‘Dit was nie dieselfde nie, Libbi, en jy weet dit.’

Flooze maak die juwelekissie oop voordat Libbi kan keer. Sy lig die string geelwit pêrels uit en vroetel tussen Libbi se oorbelle rond. ‘Aanknipoorbelle? Het jy nie gaatjies in jou ore nie?’

‘Hulle het toegegroei.’ ’n Wit leuentjie, een waarvoor sy hopelik vergewe sal word.

’n Week lank, ’n volle week lank het sy haar ma probeer oortuig dat die bloue hemele nie op hul koppe sou val as sy vir haar in streng higiëniese omstandighede gaatjies in haar ore by die apteek laat skiet nie.

Totdat Libbi moed opgegee en haar kamerdeur toegeslaan het met boosheid in haar hart. ‘As die Liewe Heer wou gehad het ons moes gaatjies in ons ore hê, sou ons so geskape gewees het.’ Haar ma se finale woord.

Eintlik moet sy seker bly wees haar ma het enigsins toegelaat dat sy aanknipoorbelle dra, al was die goedkoop kostuumjuwele gewoonlik so klein en kleurloos dat dit skaars raakgesien is. Maar dis eerder die string krale wat Flooze se aandag trek as die oorbelle. ‘Is dit egte pêrels?’

Libbi knik. ‘Lelik, ek weet, maar blykbaar iets werd. Dít het ek regtig by my ouma geërf.’ Sy wou nie die krale gehad het nie, wil dit nou nog nie hê nie.

Jare lank het sy teen die pêrels vasgekyk. Geelwit en bonkig teen haar ouma se geplooide oumensnek. ‘Jou oupa se geskenk, kort voor hy dood is. Omdat hy my liefgehad het. Jy moet dit dra ná my dood, hoor. Sodat ’n man vir jou net so lief sal raak.’

Libbi wou nie haar ouma se drome in skerwe laat spat het nie, want dit was tydens haar laaste dae op aarde.

‘Hulle het die pêrels van my ouma se nek afgehaal.’ Sy weet nie waarom sy dit nou vir Flooze vertel nie. ‘Toe sy klaar dood was, net voordat die lykswa haar kom haal het. Groot bohaai gemaak omdat sy graag wou gehad het ek moes dit om mý nek dra.’

‘Gross! Het jy dit al ooit gedra?’

‘Een keer. Met my matriekafskeid. Omdat my ma my konsuis toestemming gegee het om Ouma se kosbare pêrels vir die spesiale geleentheid aan my te hang. Soos ’n bleddie albatros om die nek.’

Die vloekwoord het uitgeglip. Omdat sy die gewig van die pêrels om haar nek onthou. En die herinnering aan daardie aand nog loodswaar is. ‘Almal het aanvaar dit sou ’n helse voorreg wees vir my om met my ouma se verweerde pêrels soos Cinderella Gone Wrong daar op te daag.’

Van die ring wil sy vergeet. Die ring wat sy moes dra soos ’n duif wat tydelik vrygelaat is, maar veronderstel was om terug te vlieg, terug na die duiwehok by die huis.

Flooze lag. ‘Hierdie outydse pêrels wat soos oorryp mieliepitte lyk om jou nek?’ Sy voel vieserig daaraan. ‘Seker ’n voorreg wat jy nie gou weer sou smaak nie?’

‘Miskien weer met my troue,’ spot Libbi saam. ‘En dalk met die eerste kind se doop.’ Hoewel sy sal verkies om nie ’n enkele kind die wêreld in te bring nie.

‘En het die egte pêrels vir jou geluk of trane gebring?’

‘’n Vreeslike gespot en lelike matriekafskeidsfoto’s.’ Libbi ril. ‘Daardie moerske gespe het gebreek toe my metgesel vir die aand my na die tyd probeer deflower het.’

‘Die gespe lyk nogal soos die slot van ’n chastity belt.’

‘Hy’t puisies gehad en sy asem het sterk na knoffel geruik.’ Maar dit was nie ál wat haar maande daarna nog van alle mans afgesit het nie. ‘Niemand anders het my vir die afskeid gevra nie. Dit was óf saam met Thomas du Toit gaan óf alleen daar opdaag.’

‘Soos ’n propperse loser?’

Was dit nie vir die skande om in ’n blink aandrok en plathakskoene so alleen soos ’n meermin in die Karoo op die matriekafskeidfoto’s te verskyn nie, sou sy eerder sonder hom wou gewees het. Maar jou matriekafskeid is veronderstel om ’n vreeslike fanfare te wees. Memories are made of that.

In die loop van die aand het sy wel gewonder wat die ergste was: alleen, of saam met Thomas wat met sweterige hande aan haar geklou het, maar sy het uitgehou. Soos met ’n tandartsbesoek. Totdat Thomas haar in die hoek van sy pa se afgeleefde Jetta probeer vaskeer het. Die swaar pêrels om haar nek het losgekom en tussen hulle beland en haar kans gegee om onder hom uit te rol.

Miskien het haar ouma vanuit die hemel ’n wakende ogie oor haar probeer hou. Of dalk was dit tog die ring aan haar vinger wat haar die krag gegee het om Thomas redelik onsag van haar af weg te stoot en haar klere reg te trek.

Flooze het nog nie klaar deur die kissie gekrap nie. ‘En dié ring?’ Sy pas die ring dadelik aan haar vinger. ‘By ’n boyfriend gekry?’

Libbi hou haar hand na Flooze toe uit. ‘Gee hier dat ek dit kan bêre. Dis ’n simpel ring.’

Gelukkig stroop Flooze die ring dadelik van haar vinger af. ‘O, hel, die bliksem moes jou goed die moer in gemaak het as jy so oor die ring voel. Vat maar, dis in elk geval te groot vir my.’

Libbi los haar uit. Laat Flooze dink wat sy wil. Eerder dít as dat sy die waarheid weet. Sy neem die juweelkissie uit Flooze se hande. Hier is niks anders in haar tasse waaroor Flooze opgewonde raak nie. Nie haar pajamas met die blommotief om die hals nie, ook nie haar pantoffels van skaapvel wat sy teen afslag gekry het omdat gʼn ander vrou op die dorp sulke groot voete het nie. Of haar denimlangbroek wat nouliks by haar enkels kom.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Die lang papawer Kristel Loots LAPA LAPA Uitgewers Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments