Boeke is die beste geskenke – en hierdie vyf is perfek vir onderwysers en ouers!

Bederf die boekwurms in jou lewe met die perfekte geskenk hierdie feesseisoen. Hier is vyf van die beste boeke vir onderwysers en ouers:

Loer na die lys:

Praat jy!Praat jy! deur Thérèse Hulme

Praat jy! vertel die stories van Thérèse Hulme en die jongmense wat sy oor ’n tydperk van sewentien jaar aan die skryf gekry het in van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe in die Wes-Kaap. Laat haar narratiewe benadering jou inspireer om ook uit niks uit ’n skryfkultuur in jou klas te vestig.

Dis veral die stories, gedigte, dramateks en rymkletse van die jong skrywers van haar piemp– en Yoh!-skryfgroepe wat jou verbeelding én die van leerders in jou klas sal aangryp!

‘Wanneer jy vir leerders geleenthede skep om die outeurs van hul lewe te raak sal wonderwerke gebeur,’ skryf Thérèse in hierdie uittreksel uit Praat jy! – nou ook in Engels beskikbaar as My Word!

***

Tyd is 'n b**ksemTyd is ‘n b**ksem en ander belaglik lekker tekste deur Marieta Nel

’n Splinternuwe versameling van die beste gedigte, kortverhale, dramas en volksliteratuur vir die hoërskool! Marieta Nel is ’n voormalige onderwyseres en ’n kenner op die gebied van letterkundeopvoeding op skoolvlak. In hierdie bundel lees jy stories, gedigte en dramatekste deur Zelda Bezuidenhout, Fanie Viljoen, Wendy Maartens, Hannes Barnard en nog meer.

Hierdie versameling is perfek vir onderwysers en leerders – en vir beide huistaal en eerste-addisioneletaal sprekers. ’n Aparte studiegids sal ook vir onderwysers beskikbaar wees wat addisionele inligting oor die tekste bevat.

***

Druk speelDruk speel deur Leon van Nierop

Hoe gemaak wanneer jy filmstudie as ’n genre in jou klas moet behandel? Druk speel is spesiaal geskryf om onderwysers te help om die hoe en wat van filmanalise beter te kan verstaan. Nie net help filmstudie met leerders se verbetering van visuele geletterdheid nie, maar dit bevorder ook kritiese denke. Volkleurfoto’s van Suid-Afrikaanse films word gebruik om filmiese aspekte te verduidelik.

Leon van Nierop is ’n bekroonde skrywer wat reeds 26 romans geskryf het, asook verskeie radiovervolgverhale, TV-reekse en dramas, ’n kabaret, bindingstekse vir musiekopvoerings, rolprentdraaiboeke, rubrieke, boek- en rolprentresensies, kortverhale en akademiese werke.

***

Jou kind en verlies deur Solet Scheeres

’n Mens wil glo dat kinders nie verdriet ervaar nie, maar hulle beleef dit wel. Selfs as ’n mens dit regkry om kinders teen die ergste hartseer te beskerm, sal daar tog ’n keer kom wat hulle een of ander vorm van verlies ervaar en daaroor sal rou.

Dié boek bevat wenke, idees en ’n leesgids vir ouers, onderwysers, familie en vriende van kinders van alle ouderdomme. Die aktiwiteite in die boek help om spelenderwys ’n ruimte vir heling vir kinders te skep.

Die pragmatiese en sensitiewe raad het ook ten doel om volwassenes ’n woordeskat te gee wanneer verdriet hulle tot stilte ruk. Lees ‘n uittreksel uit Jou kind en verlies.

***

Help! My kind is andersHelp! My kind is anders deur Christien Neser

Om ’n tipiese kleuter groot te maak is geen grap nie. Hoe dan gemaak as jou kind ‘anders’ is? Wat as hy hiperaktief en aandagafleibaar is? Wat as jy vermoed sy’s op die outismespektrum? Hoe gemaak met lae spiertonus en ’n swak pengreep? Wat as hy ’n taalagterstand het, lispel of hakkel? En sê nou sy het nie leerprobleme nie, maar sukkel met angs?

In Help! My kind is anders beantwoord ’n span kundiges dié en vele ander vrae waarmee ouers vandag worstel. In 30 boeiende gevallestudies vertel ouers en terapeute saam hul ware verhale van deursettingsvermoë en hoop.

‘Die eerste sewe jaar van dié reis is van kritieke belang,’ skryf Christien, ‘n opgeleide spraakterapeut, in hierdie uittreksel. Ook beskikbaar in Engels as Help! My Child is Atypical.

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Christien Neser Druk speel Festive Gifts 2022 Geskenke Gifts Help! My kind is anders Jou kind en verlies LAPA LAPA Uitgewers Leon van Nierop Marieta Nel My Word! News Praat jy! Solet Scheeres Thérèse Hulme Tyd is 'n b**ksem en ander belaglik lekker tekste


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments