Boeke is die beste geskenke … en hierdie drie is perfek vir geskiedenisliefhebbers!

Bederf die boekwurms in jou lewe met die perfekte geskenk hierdie feesseisoen. Hier is drie van die beste geskiedkundige boeke in Afrikaans vir 2022:

Loer na die lys:

Die Anglo-Boereoorlog in Kleur deur Tinus le Roux

Tonele en rolspelers uit die Anglo-Boereoorlog kry nuwe lewe in hierdie unieke versameling foto’s wat lewensgetrou ingekleur is. Dit bring vars perspektief op een van die belangrikste historiese gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Lesers sal talle ikoniese foto’s in Die Anglo-Boereoorlog in Kleur raaksien, maar ook verskeie wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Honderde boeke het die afgelope 120 jaar oor die oorlog verskyn, maar dit is die eerste een in volkleur.

Luister hoe vertel die skrywer van sy skattejag na foto’s in hierdie potgooi en kyk hoe verduidelik hy die inkleurmetode in hierdie video. Ook in Engels beskikbaar as The Boer War in Colour.

***

Terreur en bevryding deur Leopold Scholtz

Wie vandag se ANC, sy beleid en regeerstyl wil verstaan, moet feitlik ’n eeu terug begin delf. ’n Deel van die antwoord lê in sy verhouding met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die invloed van die kommunisme, asook die ANC/SAKP se optrede in ballingskap, skryf die politieke kommentator en historikus Leopold Scholtz.

In Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP, die kommunisme en geweld (1961-1990) toon hy aan hoe die SAKP reeds in 1928 opdrag van die Kremlin ontvang het om die ANC te infiltreer.

‘DIE SAKP was een van die mees Kremlin-getroue kommunistiese partye ter wêreld,’ vertel die skrywer in hierdie video. Hy gesels verder oor sy boek met Lindie Koorts in Pagecast.

***

Afrikaner-sondebok? deur Albert Blake

Ossewabrandwag-leier Hans van Rensburg word dikwels as ’n verbete Afrikaner-fascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks, skryf Albert Blake in sy boek Afrikaner-Sondebok? wat in 2022 benoem is vir ’n ATKV-Woordveertjie.

Van Rensburg se lewensverhaal strek oor sewe dekades en hy was by al die belangrikste historiese gebeure van 20ste eeu betrokke – van die Anglo-Boereoorlog tot die apartheidsregering.

‘Daar was nog nooit ’n biografie oor Hans van Rensburg nie,’ sê Albert in hierdie video. ‘Deur die dekades na sy dood en sedert die Tweede Wêreldoorlog het soveel verskillende uiteenlopende weergawes oor hom en die Ossewabrandwag verskyn, dat die beeld van Hans van Rensburg dikwels verwring is.’ Lees ook ‘n uittreksel uit Afrikaner-sondebok?

 

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaner-Sondebok? Albert Blake Die Anglo-Boereoorlog in Kleur Festive Gifts 2022 Geskiedenisliefhebbers Gifts Jonathan Ball Publishers Kersfeesgeskenke Leopold Scholtz News Terreur en bevryding Tinus le Roux


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments