C

[2020 kykNET-Rapport-boekpryse] Lees ’n uittreksel uit Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake
 More about the book!

Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake is onlangs benoem vir die 2020 kykNET-Rapport-boekpryse in die niefiksie-afdeling.

Blake se biografie oor die Olimpiese bokser en swaargewigkampioen Robey Leibbrandt werp nuwe lig op hierdie enigmatiese historiese figuur en wat sy fanatisme aangevuur het.

Die boek begin met ’n blik op Leibbrandt se kinderjare, waar hy homself as ’n kranige jong bokser bewys het en nie geskroom het om vir jonger kinders op te staan nie.

Lees ’n uittreksel:

***

EEN

VORMINGSJARE – BESKERMER VAN SWAKKES

Dit was ’n vuisgeveg wat in Grey-kollege se annale verewig sou word. Die fris geboude skrynwerker, met sy bors halfkaal en moue hoog opgerol, het sonder waarskuwing op die jong seun Robey Leibbrandt afgestorm. As hy gedink het hy gaan die skoolseun ’n drag slae gee, het hy hom lelik misgis.

Leibbrandt se boksondervinding het hom geleer om sy teenstander se wilde houe maklik te ontduik. Met sy eerste hou het hy die skrynwerker katswink geslaan. Maar toe takel drie van die man se maats hom.

Die vorige dag het ’n skoolmaat by Leibbrandt kom kla dat ’n skrynwerker wat aan ’n gebou naby die skool se suidelike hek gewerk het, hom afgeknou het. Leibbrandt is saam met die seun na die man en hulle het afgespreek om mekaar die volgende middag op ’n plek tussen die bome langs die Bloemfonteinse dieretuin te ontmoet. Die saak sou met hul vuiste besleg word.

Nuus oor die beplande kragmeting het soos ’n veldbrand versprei en meer as 300 skoolseuns het op die afgespreekte plek saamgedrom. Leibbrandt het reeds daar gewag toe ’n vragmotor opdaag, vol skrynwerkers wat heelwat ouer as hy was.

Leibbrandt moes ’n oormag trotseer en hy het baie houe ontvang, maar hy het uiteindelik meer uitgedeel. Hoe die skrynwerkers ook al probeer het, hulle kon nie die oorhand kry nie. Nadat hy nog een platgeslaan het, het die ander bes gegee, op die vragmotor gespring en weggery.

Onder die skoolseuns was Leibbrandt ’n groot held, maar vir hom was die gevolge minder positief. Dit sou hom bybly dat sy skoolmaats hom ‘skandelik in die steek gelaat’ het deur nie saam te baklei toe hy deur die groep skrynwerkers getakel is nie. Baie jare later het hy in sy outobiografie geskryf dat sy arm maats van Tempe, waar die Leibbrandts gewoon het, dit nooit sou toegelaat het nie.¹

Dié ervaring het nie net sy gedagtes oor lojaliteit beïnvloed nie, maar dit en ander soortgelyke ondervindings in sy jeugjare het hom geleer dat geweld ’n aanvaarbare manier is om probleme op te los. ‘Wat ek die beste en die gouste geleer het, was om my vuiste te gebruik,’ skryf hy.²

In die patriargale wêreld van sy vormingsjare in die 1920’s was manlikheid ononderhandelbaar. ’n Seun is geleer om sy man te staan. In sy outobiografie vertel hy trots van die talle vuisgevegte waarin hy ander seuns teen boelies moes verdedig. Vir Leibbrandt en baie ander seuns van sy geslag is hul status deur hul vernuf met hul vuiste bepaal.

 

Sydney Robey Leibbrandt is op 25 Januarie 1913 op Potchefstroom gebore as die derde van John en Maggie Leibbrandt se sewe kinders. Volgens hom was sy kinderjare ’sorgvry en ongebonde’.³

Die huislike omstandighede waarin hy grootgeword het, was in baie opsigte verteenwoordigend van die gemiddelde Afrikanergesin van die tyd. Geld was skaars en wat beskikbaar was, moes spaarsaam vir basiese noodsaaklikhede aangewend word. Verhoudings binne die Leibbrandt-gesin was stabiel en heg.

Leibbrandt se verhouding met sy pa was goed, maar soms ook kompleks. ’Nooit het ek my probleme met my vader bespreek nie. Ek het altyd my eie besluite geneem en self die verantwoordelikheid gedra vir die resultate van daardie besluite … Vleitaal het hy nie geken nie, nie eens teenoor sy vrou en kinders nie,’ skryf Leibbrandt.⁴

Sy pa was ’n introvert wat nie met sy hart op sy mou geloop het nie. Dit dui waarskynlik daarop dat hy nie openlik liefde betoon het nie, maar volgens Leibbrandt het hy omgegee vir sy gesin en binne sy vermoë vir hulle gesorg. Hy het met ’n ysere, maar regverdige, ouerhand gesag uitgeoefen, soos dit ook tipies van die era was.

Leibbrandt het groot respek en ontsag vir sy pa gehad en het volgehou dat hy sy sterk eienskappe van hom gekry het. Sy pa het ongetwyfeld sekere van sy waardes soos beginselvastheid, vaderlandsliefde en trots by sy seun ingeskerp.

Daar was egter ook wesenlike verskille tussen pa en seun. Anders as sy pa was Leibbrandt, hoewel by uitstek ’n individualis, ook ’n ekstrovert met ’n grootheidswaan.

Leibbrandt beskryf sy ma as ‘’n gebore pedagoog, ’n fynbesnaarde en welopgevoede dame. Sy was ’n wonderlike moeder vir haar kinders’ wat hulle geleer het dat ‘selfrespek meer waarde het as rykdom’.⁵ Sy het hulle baie vryhede gegee en hulle selde vermaan. Hulle moes van vroeg af selfstandigheid leer.

Kort ná Leibbrandt se geboorte het die gesin na Graaff-Reinet verhuis, waar hulle tien jaar lank gewoon het. Leibbrandt is op vyfjarige ouderdom skool toe omdat sy ouer boetie Meyder nie sonder hom skool toe wou gaan nie. Meyder was toe reeds besonder geheg aan sy jonger broer.

Leibbrandt het reeds as jong seun tekens van selfstandigheid getoon. Sy ma het hom altyd mark toe gestuur, waar hy geleer het om tot die grootmense se ergernis oor die pryse te kibbel. Hy was van kleins af hardkoppig en moeilik. Al was daar ’n gesonde emosionele band tussen hom en sy ouers, was hy geneig om onafhanklik van hulle sy eie rigting in te slaan.

Leibbrandt het ook vroeg sy rebelse streke getoon. Hy was skaars tien jaar oud toe hy tydens ’n Voortrekkerkamp in 1923 ’n opstand aangestig het. Nadat hulle deur ouer seuns wat as monitors oor hulle aangestel was belet is om te speel, het Leibbrandt die kleineres opgesteek om weg te loop. Meyder en nog vyf het by hom aangesluit en tot groot ontsteltenis van die onderwysers het hulle in die veld gaan wegkruip.

Hulle is ná ’n reusesoektog, gelei deur Japie Heese (die stigter van die Voortrekkerbeweging in Suid-Afrika), gekry. Elkeen is met ’n pak slae gestraf.⁶

Leibbrandt se Afrikanerskap is in die Afrikaanse gemeenskap van Graaff-Reinet geslyp. Die eerste suiwer Afrikaanse laer- en hoërskool in die destydse Kaapland is in hierdie tyd op dié dorp deur plaaslike kampvegters vir Afrikaans gestig. Onder hulle was prominente Afrikaners soos die hoërskoolhoof, dr. G.W. Eybers, en die NG predikant, ds. J.F. Naudé, pa van die anti-apartheidsaktivis Beyers Naudé.⁷

Tissa Eybers, dr. Eybers se vrou, het as laerskoolonderwyser ’n belangrike invloed op Leibbrandt se beskouing van Afrikanernasionalisme gehad: ‘In my optrede van later jare het mev. E. Eybers onwetend ’n reuse-aandeel gehad met haar geskiedenisklasse in my vormingsjare,’ skryf hy later.⁸

Volgens hom was haar vertellings van die smart in die konsentrasiekampe ‘so aandoenlik dat sowel die onderwyseres as leerlinge in trane was voordat die les verby was’.⁹

Japie Heese het weer vir Leibbrandt patriotiese gedigte leer voordra waarvoor hy pryse op kunswedstryde ontvang het. Die emosionele beskrywing in Jan F.E. Cilliers se gedig van die Afrikanerrebel Jopie Fourie se teregstelling in 1914 het ’n blywende indruk op Leibbrandt gemaak. Die impak van Fourie se verhaal op hom kon later gesien word in sy uitdagende uitsprake dat hy bereid was om sy lewe vir sy volk op te offer. (’n Interessante feit is dat Leibbrandt etlike maande lank ná sy hoogverraadsaak in dieselfde gevangenis as Fourie, Pretoria-Sentraal-gevangenis, in die dodesel aangehou is.)¹⁰

As instrukteur in die Verdedigingsmag is Leibbrandt se pa gereeld verplaas. In die proses sou Leibbrandt vyf skole bywoon. In Maart 1924, toe hy elf jaar oud was, het die gesin na Port Elizabeth verhuis. Aan die begin van 1925 was hulle egter weer terug op Potchefstroom waar hulle hul oorspronklike huis in Kortstraat 22 betrek het.

Leibbrandt het 18 maande lank in ’n sinkgebou op die ou skouterrein skoolgegaan. Hoër Volkskool Potchefstroom is later daar opgerig. Hy het altyd met deernis van sy geboortedorp gepraat: ‘Daar is seker min plekke wat ek ken waar die seuns so maklik en lekker baklei het soos op Potchefstroom. Niemand het ooit gedink om van skollie-metodes gebruik te maak nie. ‘Jy wen soos ’n held of verloor soos ’n man’, was die ongeskrewe leuse van die dorp. In my ou geboortedorp was ek so tuis soos ’n sandgogga in die woestyn.’¹¹

In Julie 1926 het die Leibbrandts-hulle in Bloemfontein in ’n gewese militêre huis in Tempe gevestig en die Leibbrandt-seuns is na Grey-kollege gestuur. Grey-kollege is ’n parallelmediumskool vir seuns in Bloemfontein en is die oudste Suid-Afrikaanse skool noord van die destydse Oranjerivier. Reeds in die tyd wat Leibbrandt daar skoolgegaan het, het Grey die tradisie van die Britse ‘public schools’ gevolg.

Jock Murray Meiring, skoolhoof van Grey-kollege in daardie jare, het daarin geslaag om ten spyte van die behoudendheid van die tyd Grey een van die liberaalste skole in die land te maak. Daar kon jong Afrikaners, Engelssprekendes, Libanese, Portugese, Grieke en Jode saam skoolgaan en met mekaar skouers skuur.¹² Die joernalis Michael Green het later opgemerk: ‘[I]t says something for Grey College that it could produce at opposite ends of the political spectrum, a Robey Leibbrandt and a Bram Fischer.’¹³ Bram Fischer, die latere advokaat, kommunis en anti-apartheidstryder, het ’n paar jaar voor Leibbrandt gematrikuleer.

Op Grey het Leibbrandt in sport uitgeblink en dadelik ’n aanleg vir boks getoon. ’Sarge’ Walker, die skool se gimnastiekinstrukteur, was Leibbrandt se eerste boks-mentor. Sy belangstelling in gimnastiek en liggaamsopvoeding is ook in dié tyd aangewakker.

Reeds in sy eerste jaar op Grey is hy as die skool se bokskampioen gekroon, al het hy ’n skrale 44 kg geweeg en was hy net 13 jaar oud. Daarna wou die ander skoolseuns nie meer teen hom boks nie. Hy het by Tom Holdstock se boksklub aangesluit en baie goed in bokstoernooie gevaar. Volgens Leibbrandt is dit aan Holdstock se strenge afrigting te danke dat hy nooit tydens sy latere amateur- en beroepsloopbane planke toe gestuur is nie.¹⁴

Sy reputasie in die bokskryt het hom ’n held onder die seuns gemaak. Hy het toenemend ’n reputasie gekry as iemand wat vir swakkeres optree: ‘Almal by die skool het met hul moeilikhede na my gekom. Ek was landdros en folterbank gelyk. Die afknou van jonger en kleiner kinders op skool was uit die bose en streng verbode. Die wet het ek self geproklameer en self tot uitvoering gebring. So het dit gebeur dat ek in baie gevegte betrokke geraak het waarna ek nie gesoek het nie.’¹⁵

By ’n kadetkamp het hy hom byvoorbeeld ook oor weeskinders ontferm deur vir hulle kos te reël.¹⁶ So het Leibbrandt in die waan begin leef dat hy die beskermer van onderdruktes was.

Om te volhard in die rol van beskermer moes hy egter konstant met sy bakleivermoë vrees by ander inboesem. Sonder dat hy dit besef het, het hy ’n boelie geword juis deur ander boelies op te dreun. Uiteindelik sou hy sukkel om te onderskei tussen sy rol as ’n beskermer van swakkeres en as ’n boelie.

Die vele legendes oor sy streke as skoolseun wat steeds voortleef, getuig van sy dikwels roekelose en waaghalsige houding. Die storie van hoe een van sy skoolmaats hom uitgedaag het om uit die venster van die skool se tweede vloer te spring, word steeds vertel. Hy het die uitdaging vir ’n tiekie aanvaar. Met ’n tweede uitdaging is die beloning na ’n sikspens verhoog. Dié keer was hy minder gelukkig en het hy sy been gebreek.¹⁷

Hoewel Leibbrandt nie in sy outobiografie oor hierdie voorval skryf nie, vertel hy wel breedvoerig van ’n bisarre boksgeveg waaraan hy deelgeneem het. Gedurende die eerste helfte van die vorige eeu het ’n verskynsel na vore getree wat sy oorsprong in Australië gehad het. Mense het in sg. boksvertonings teen kangaroes te staan gekom.¹⁸

In 1928 was daar groot opgewondenheid onder die Grey-seuns toe so ’n boksvertoning by ’n plaaslike skou sou plaasvind. Die vyftienjarige Leibbrandt het ook die skou bygewoon. Toe die kangaroe se gesette begeleier vrywilligers vra om teen die dier te boks, het die Grey-seuns Leibbrandt aangehits om in die kryt te klim. Dit was ’n eensydige geveg met Leibbrandt wat die arme dier met houe gepeper het. In ’n stadium het die kangaroe hom egter ’n onverwagse pynlike skop in die lies gegee. Daarna het die Australiese begeleier die geveg kortgeknip want Leibbrandt was briesend en daarop uit om hom te wreek.¹⁹

Leibbrandt is in 1929 vir die senior Vrystaatse boksspan gekies en het die provinsie by die Suid-Afrikaanse kampioenskapstoernooi in Kaapstad in die liggewigafdeling verteenwoordig. Hy was sestien jaar oud en in standerd nege –hopeloos te jonk vir ’n senior bokser. Met die inweeg voor die toernooi is gevind dat hy ’n raps oor die afsnygewig is en gevolglik in die weltergewig afdeling moes deelneem. Pleidooie dat hy hom aan die toernooi moet onttrek, het op dowe ore geval. Sy eerste geveg was teen Fred Ellis, ’n Olimpiese bokser, vyf jaar ouer as hy. Soos te wagte kon wees, was die geveg ’n fiasko. Leibbrandt is in elke opsig oorheers en verniel. In die amateurgevegte van daardie tyd is geen kopskerms gebruik nie en die gevolge van so ’n geveg kon lewensgevaarlik wees.²⁰ Genadiglik het die skeidsregter die slagting voor die einde van die geveg beëindig.

In die komplekse legkaart van Leibbrandt se persoonlikheid was sy besondere boks- of bakleivermoë ’n belangrike element. Dit het van hom ’n bepaalde soort mens gemaak en het ook sekere nadelige gevolge vir sy ontwikkeling as volwassene gehad. Daarvan getuig die talle latere fisieke konfrontasies wat gevloei het uit sy oortuiging dat geweld ’n oplossing vir sekere probleme is.

Leibbrandt het oor buitengewone werkywer beskik en van jongs af geen begrip vir ledigheid getoon nie. Gedurende een skoolvakansie het hy as ’n arbeider vir ’n bouaannemer gewerk. Hy moes elke oggend amper 13 km loop om by die werkplek uit te kom. Vir ’n week se werk het hy ’n loon van £1 verdien, vir hom ’n aardige bedrag. Daarmee het hy noodsaaklike fietsonderdele wat sy pa nie kon bekostig nie, gekoop.²¹

Een ding was van vroeg af al duidelik – Leibbrandt was nie soos die gemiddelde kind nie. Hy was in baie opsigte anders en het van jongs af heelwat eksentrieke gewoontes ontwikkel.

Hy het reeds sedert sy skooljare ’n obsessie met ’n gesonde en perfekte liggaam ontwikkel wat gemaak het dat hy tussen 1929 en 1937 nougeset ’n Spartaanse leefstyl en eetgewoontes begin volg het. Dit was ongewoon vir die konserwatiewe gemeenskap waarin hy grootgeword het. Hy het dit nie by iemand geleer nie, maar self daarop besluit.

Sy vegetariese dieet het geen vleis, koffie, tee of soetgoed ingesluit nie. As jong man was hy ’n geheelonthouer totdat die Duitsers hom leer bier drink het. Daarna sou hy steeds ’n matige drinker bly.

Hy het ook ’n buitengewone belangstelling in liggaamsoefening, natuurgenesing en gesondheidsleer getoon. ’n Besoek aan ’n dokter was volgens hom ‘benede my opvatting van forse manlikheid’.²²

In die geveg met die skrynwerkers het Leibbrandt byvoorbeeld sy regterduim gebreek, maar niks vir sy ouers gesê nie. Weens die gebrek aan mediese behandeling het die duim skeef aangegroei en het dit vir die res van sy lewe soos ‘’n kombuishoender se toon gestaan’.²³ Die duim sou hom later oneindige las in sy boksloopbaan besorg.

As alternatief het hy hom tot natuurgenesing gewend wat hom na die soms vreemde voorskrifte van die gewilde Vrystaatse kragman en avonturier Tromp van Diggelen gelei het. Van Diggelen (1885-1967) het sekere eetgewoontes en oefeninge voorgeskryf en het na bewering in Suid-Afrika alleen meer as 100 000 ’pasiënte’ gehad.²⁴

Om sy ingewande te ‘reinig’ en ‘skoon’ te hou, het Leibbrandt byvoorbeeld gebakte dryfsand geëet. Om sy maaggasse te absorbeer het hy klein stukkies houtskool heel gesluk.

Wanneer hy gaan slaap het, het hy homself doelbewus enige gemak ontsê. Hy het nie op ’n bed geslaap nie, maar op die vloer op planke en hy het die donsvere van sy kussing met klapperhaar vervang. Hierdie vreemde gewoontes het veral tydens die Britse Rykspele en die Olimpiese Spele opslae in die buitelandse pers gemaak.

Volgens Leibbrandt het hy sy selfbeheersing reeds op skool tot die uiterste probeer beproef en veelseggend bygevoeg dat selfkastyding vir hom geen nuwigheid was nie.²⁵

As skoolseun het hy by geleentheid tot 18 dae op ’n slag gevas terwyl hy met sy daaglikse boksoefeninge voortgegaan het. Toe sy fiets tydens ’n vastydperk breek, moes hy elke oggend boonop vyf kilometer skool toe loop en in die middae in die bloedige Vrystaatse son terug. Tydens die vastydperk het hy geen vaste of vloeibare voedsel ingeneem nie. Wanneer hy lighoofdig geraak en swak begin voel het, het hy ’n glas warm water gedrink.

Later het hy geskryf dat dit onverklaarbaar is dat hy nie weens sy vastye ’n fisieke knou gekry het nie, maar dat die teendeel gebeur het. ‘Ek het wonderlik gevoel. Ek was ’n nuwe mens.’²⁶

Hy het baie vroeg in sy lewe ’n lewendige belangstelling in liggaamsoefening ontwikkel en elke geskrif oor die onderwerp waarop hy sy hande kon lê, gelees.

Strawwe oefeninge was vir hom ’n plesier. In ’n tyd toe langafstandoefening nog relatief onbekend was, het hy tot 30 km op ’n dag gedraf.²⁷ ’Die strewe na ’n gesonde en goed ontwikkelde liggaam, was by my ’n obsessie,’ het hy self geskryf.²⁸

Leibbrandt se strewe na die perfekte liggaam sou later aansluit by die Nazi’s se idee van ’n suiwer en perfekte ras.

~~~

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags 2020 kykNET-Rapport-boekpryse Afrikaans Book excerpts Book extracts Geskiedenis Jonathan Ball Uitgewers Robey Leibbrandt Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments