C

Wat is beter – ’n Man in my Kerskous of ’n lekker boek? Vier feestelike Romanzas is nou beskikbaar!
 More about the book!

Nuut by LAPA (en net betyds vir onder die Kersboom) – vier nuwe liefdesromans deur Dina Botha, Elsa Winckler, Madelie Human en Marilé Cloete!

Die Kersfeeslysie deur Dina Botha

Dis baie moeilik om ʼn superma te wees …

Dis baie moeilik om ʼn superma te wees as jy enkellopend is. Elani Davis is ook nie die uitsondering nie. Berge skottelgoed, wavragte wasgoed en ’n baba is besig om haar onder te kry. Boonop kry sy nie die diens wat sy van Rent-a-nanny verwag nie.

Iewers moet sy egter ’n streep trek en konfronteer die eienaar van die oppassers, Marion Pelzer. Wat toe nie ’n vrou is soos sy verwag het nie, maar ’n man. ʼn Baie, baie aantreklike man wat blykbaar niks van kinders weet nie. Elani gee hom ’n snipperige tikkie raad: As hy ooit ’n sukses van sy besigheid wil maak, moet hy liefs sy teikenmark leer ken.

Marion aanvaar die uitdaging en toe Elani haar voordeur oopmaak, staan Marion op haar drumpel, gereed vir sy eerste les. Marion vind gou uit dat dit alles behalwe kinderspeletjies is, maar hy besef ook hoe graag hy vir ewig oppasser in dié huis wil speel.

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

In sterre geskryf deur Elsa Winckler

Niemand het weerstand teen die liefde wanneer Kersfeesklokke lui nie …

Tessa Steyn is mal oor Kersfees. Soos in gaan-voluit mal: die musiek, die boom, die engeltjies, die kerse, die ligte, die klokkies, álles. Na ’n kort kuier in Johannesburg, vlieg sy George toe, die naaste lughawe aan Buffelsbaai waar haar mense elke jaar Kersfees hou. Aan die grompot langs haar in die vliegtuig, gaan sy haar nie steur nie. Gelukkig gaan sy hom nooit weer sien nie.

Veearts Sias Reynecke haat Kersfees. Hy is net op die vliegtuig omdat sy suster ’n huis vir hulle twee vir Kersfees op Buffelsbaai gehuur het. Dis nou as hy daar aankom sonder om iets aan die irriterende beeldskoon vroumens wat langs hom in die vliegtuig beland het, te doen. Hopelik sien hy haar nooit weer nie.

Maar soos Tessa se ouma, Liesbet, verduidelik: Sommige dinge is reeds lank terug in die sterre geskryf en niemand het weerstand teen die liefde wanneer Kersfeesklokke lui nie.

Oor die outeur

Elsa Winckler is ’n internasionaal gerekende romanseskrywer met talle boeke op haar kerfstok. Sy kom uit ’n agtergrond in opvoedkunde, en is op 40 weer terug universiteit toe om ’n Honneurs en MPhil te voltooi. Haar man is haar studenteliefde en na 44 jaar saam, drie interessante kinders en ’n kroos kleinkinders, maak hy nog altyd haar knieë lam, soos dit ’n goeie held betaam. Kenmerkend van Winckler se werk is haar onafhanklike, hardekwas heldinne, wat sy heerlik afspeel teen sterk maar sensitiewe helde.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

‘n Man in my Kerskous deur Madelie Human

Sy is allergies vir mans, en hy het al sy vingers verbrand met ’n vrou …

Berna Erasmus is allergies vir mans. Haar ma was ’n orkaan wat haar eie lewe en die mense om haar s’n met haar leefwyse verwoes het, en hierdie appeltjie gaan beslis sorg dat sy ver van daardie boom af val.

Haar tannie wat haar grootgemaak het en haar beste vriendin span saam om haar en die aantreklike Ryno Viljoen vir ses weke in hulle strandhuis op Meeubaai saam te gooi. Hulle reken sy moet romanse beleef voor sy dertig word en dalk op die rak bly sit, maar sy verkies haar liefdeservaring tussen die bladsye van ’n boek.

Ryno het ’n duur les geleer met slinkse vroumense en hy gaan hom nie weer laat ore aansit nie; hy fokus liewer op sy studies en sy loopbaan. Die ongekunstelde Berna laat hom egter dinge voel wat hy nooit verwag het nie. Is dit net ’n ingebore beskermingsdrang, of is dit dalk die ware Jakob?

Oor die outeur

Skryf was nog altyd ’n deel van Madelie Human se lewe, maar sy het eers op vyftig ernstig begin skryf. ’n Vriendin het haar uitgedaag om fiksie te skryf, en romanse was die logiese keuse omdat dit haar gunstelinggenre is om te lees. In 2008 publiseer LAPA haar eerste Romanza en dit wen ’n Woordveertjie. Madelie is nou ’n gevestigde skrywer met meer as dertig Romanzas op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Weer begin deur Marilé Cloete

Daar is meer as reën in die lug …

Anet Schreuder sal enigiets vir haar susters doen en laat haar dus by Reinet se troue teensinnig afpaar met Steve Turner, die een strooijonker. Sy is effens bevooroordeeld teen die Engelse, maar gelukkig hoef sy hom nie weer te sien nie.

Impulsief besluit sy om ’n tydjie op haar nuwe swaer se plaas agter te bly, maar niemand het haar vertel Steve gaan die plaas vir die bruidspaar oppas solank hulle op wittebrood is nie. Nog minder kon dié dorpsjapies weet dat die droogte in die Karoo deur groot reën gebreek gaan word terwyl hulle onbepland saam op die plaas is.

Hulle het ook nie noodwendig beplan om verlief te raak nie.

Oor die outeur

Marilé Cloete is Alta Cloete se romanse-skrywersnaam. Marilé het laat in haar lewe begin skryf. Dit bring groot uitdagings, maar ook nuwe visie, energie, vriende en bevrediging.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Man in my Kerskous Afrikaans Die Kersfeeslysie Dina Botha Elsa Winckler In sterre geskryf LAPA LAPA Uitgewers Madelie Human Marilé Cloete New books New releases Romanza Weer begin


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments