C

Waarom woon Zia se familie ’n primitiewe lewe in die bos? Lees ’n uittreksel uit Uitverkies deur Noreen Nolte
 More about the book!

In Uitverkies deur Noreen Nolte – die naaswenner van LAPA se Jeugromankompetisie in 2021 – is Zia moeg vir haar ouers se selfopgelegde isolasie in die bos. Sy verlang na water en elektrisiteit, klere wat pas en winkelbrood.

Maar waarom woon hulle so? En hoekom moet hulle elke Maandag vroegoggend kom teikengooi?

Lees die uittreksel:

Hoofstuk 1

Zia staar stip na die kruis teen die stam en die stemme agter haar vervaag. Sy verskuif haar gewig effens vorentoe, meer op haar tone, en blaas saggies haar asem uit. Dan vlieg die mes – ’n seker silwer pyl – en doef in die hout vas. Die effense sing van die trilling van die lem, netjies in die middel van die teiken, laat haar glimlag.

Sy word skielik weer bewus van die mense agter haar.

‘Kolskoot!’

‘Al weer!’

‘Zia! Jy het hom, jy het hom!’ Dit is Simon, haar broer, se stem, en sy draai om, net betyds om sy high five te ontvang.

‘Ja, peanut. Wat het jy dan gedink?’

‘En met daardie gooi is Zia ons wenner,’ maak haar pa dit amptelik.

Dit is ’n vaste reëling dat hulle elke Maandag vroegoggend moet kom teikengooi. Zia wen gewoonlik loshande, wat afstand en akkuraatheid betref. Dit help natuurlik dat sy elke dag oefen. Die verskoning om ’n ruk op haar eie in die bos te wees, pas haar, en al is sy tingerig gebou en van ongeduld aanmekaargesit, kán sy mes gooi. Die oomblik se fokus, die gekoördineerde bewegings, en die bevrediging van die lem wat sekuur die teiken tref, werk om een of ander rede net vir haar.

Almal begin gesels-gesels terugstap na die skuilings toe, maar die kinders drom nog vir ’n oomblik om haar saam, traag om met hulle werk te begin. Suzanne is tien, met lang blonde krulle. Sy en Simon is onafskeidbaar en as hulle die kans kry, volg hulle Zia soos ’n stertjie. Connor is, soos altyd, stil in die agtergrond. Hy het een oggend, ’n paar dae ná hulle begin skuilings bou het, vuil en stokalleen aangedwaal gekom. Hy het nie ’n woord gepraat nie en letterlik ’n week lank aan Mischa, wat hom eerste gesien het, vasgeklou. Al wat hy tot vandag toe kan onthou, is ’n ontploffing en dat hy daarna heeltemal alleen was – en toe maar begin stap het. Hoe die kleuter so lank sonder kos en beskerming oorleef het, weet niemand nie.

Simon bly om haar rondspring, ongeduldig om weer haar aandag te kry.

‘Ek wil dit ook regkry! Wat doen ek verkeerd, Zia? Sal jy my help?’

Zia kyk af in sy smekende blou oë en sug. Simon het eenvoudig nog net nie die geduld om stil genoeg te raak en te fokus nie. Teikengooi is die een ding waarin hy slegter vaar as selfs Suzanne. En hy is lui vir oefen; hy wil alles dadelik regkry. Hy is te gewoond daaraan dat alles maklik kom, dink sy, en stap na die boom toe om haar mes los te wikkel. Simon is een bondel spiere en al is hy soveel jonger as sy, is hy klaar vinniger en sterker. En hy maak van álles ’n kompetisie, wat flippen irriterend is.

‘Zia! Asseblief, asseblief, groot asseblief!’ sanik hy agter haar.

Zia skud haar kop en glimlag. Hy is haar kleinboet en sy is tog lief vir die klein pes.

‘Okay, ek sal jou gou ’n bietjie help,’ gee sy in met die omdraai.

‘Julle moet nie te lank draai nie. Daar is baie te doen by die huis,’ sê haar pa, wat eers die teikens afgehaal het. Hy kyk na haar, glimlag, en vee oor haar hare asof sy nog klein is.

‘Goed gedoen, Zi-Zi. Jou gooie was spot on.’

Hy draai om en begin wegstap. Zia voel hoe die bekende opstand in haar kriewel, en hoewel haar verstand vir haar sê nie nou nie, wen haar ongeduld.

‘Maar die vraag is, hoekom is dit enigsins belangrik?’ vra sy vir haar pa se rug. Haar woorde sny deur die gemoedelike atmosfeer. Hy steek vas, draai om en kyk woordeloos na haar.

‘Dis mos net “’n speletjie”,’ krap Zia verder. Haar ma het ook nou omgedraai.

‘Zia, wat wil jy eintlik sê?’ vra sy met ’n sug. Zia voel hoe haar bloed begin kook. Asof hulle nie weet nie!

‘Ek wil die waarheid weet, Ma! Ek is amper sestien en ek is moeg vir hierdie … hierdie “speletjie”. Ons maak asof ons almal een happy family is! ’n Groep vreemdelinge wat maar net verkies om so geïsoleerd en primitief in die bos te lewe, soos … soos flippen ape. Hoekom? Dís wat ek wil vra. Ek wil weet hoekom!’

Haar ma se gesig versag.

‘Zia … Ek hoor. Maar dit is nie nou die tyd of die plek vir ’n sinvolle gesprek daaroor nie,’ sê sy en beduie na Simon.

‘En wanneer gaan dit miskien die regte tyd en plek wees?’ vra Zia kwaad.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 2022 LAPA Jeugromankompetisie Afrikaans Book excerpts Book extracts Jeugroman LAPA LAPA Uitgewers Noreen Nolte Uittreksel Uitverkies YA Young Adult


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments