‘Vroue se rol het verander, ja. Ons is beslis nie meer slagoffers nie’: Gerda Taljaard gesels oor haar roman, Vier Susters
More about the book!
The Penguin Post het onlangs met Gerda Taljaard gesels oor haar jongste roman, Vier susters, wat die tradisies van die historiese en die plaasroman omkeer.
Die roman speel af in 1945 en vertel die verhaal van Ivy, Sophié, Beatrice en Kietie – vier susters met uiteenlopende rolle in die stryd tussen Sap en Nat.
Lees die onderhoud:
~~~
PP: Die susters het almal uiteenlopende persoonlikhede. Het jy ’n gunsteling?
GT: Ek het nie ‘n gunsteling nie, nee. Elkeen van hulle het iets waarvan ek hou, en waarvan ek nie hou nie. Ek het hulle gebaseer op my ouma en haar susters. Sy het hulle altyd so op haar krom vingers afgetel en ‘n storie oor elkeen vertel: Kattie, Pieta, Ousus en Griet. Hulle lewe, maar ook hulle dood, was aangrypend.
PP: Wat dink jy is die rol van die vrou in die hedendaagse samelewing? Het dit verander oor die jare?
GT: Die Anglo-Boereoorlog het Afrikanervroue bevry van hulle ingeperkte rolle van moeder en eggenote deurdat hulle die mas moes opkom toe die mans weg is oorlog toe, en natuurlik in die kampe waar hulle deur vindingrykheid moes oorleef. In my familie was die vroue nog altyd die sterkeres: dis die mans wat swak was, wat hulle aan drank vergryp het, vroeg dood is, of die gesin versaak het.
Vroue se rol het verander, ja. Ons is beslis nie meer slagoffers nie.
Ek dink dis die geval met meeste vroue van alle bevolkingsgroepe – hulle mag onderdruk word, maar dis hulle wat uiteindelik terugslae oorleef en dan alleen die pot aan die kook hou. In baie gemeenskappe het vroue se omstandighede verbeter, maar in ander is dit steeds haglik. Vroue se rol het verander, ja. Ons is beslis nie meer slagoffers nie.
PP: Daar is wonderlike voorbeelde van plaas- én historiese romans in Afrikaans. Watter een sal jy sê is jou gunsteling of het die skryf van hierdie roman beïnvloed?
GT: Ingrid Winterbach se Niggie is sonder twyfel ‘n gunsteling. Sonja Loots se Sirkusboere ook. Maar ek dink dis eerder Anna M. Louw se Die onverdeelde uur en van haar kortverhale wat Vier susters beïnvloed het.
PP: Beskou jy Vier susters ook as ’n politieke roman?
GT: Kry ‘n mens iets soos ‘n ‘politieke roman’? Historiese romans lewer altyd politieke kommentaar deur die verlede op die hede van toepassing te maak, dus is daar beslis politieke elemente hier teenwoordig. Die Boereoorlog sou noodwendig aanleiding gee tot Afrikanernasionalisme, en Afrikanernasionalisme sou noodwendig aanleiding gee tot apartheid, en apartheid tot opstand, en opstand tot bevryding en ongelukkig ook tot ontnugtering.
~~~
Lees ook:
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Gerda Taljaard Interviews Onderhoud Penguin Random House SA The Penguin Post Vier susters