C

‘Ek sal eerder gif drink as Engelse tee oor my lippe neem’ – Lees ’n uittreksel uit Vier susters deur Gerda Taljaard
 More about the book!

Penguin Random House SA het onlangs ’n uittreksel uit Vier susters deur Gerda Taljaard op The Waddle gedeel.

Hierdie roman vertel die verhaal van vier susters en hoe die Tweede Wêreldoorlog hul onderlinge verhoudings beïnvloed. En dan kom ’n Italiaanse krygsgevangene op hul geboorteplaas aan.

Lees die uittreksel:

~~~

DIE PAARTJIES WAT BEATRICE EN BOAS IN AUCKLANDPARK ONTMOET, is anders as dié in Westdene. Hulle hou skemerkelkie-aande, nie vleisbraaie nie. Hulle is nie mollig nie. Hulle eet min en drink baie. Wanneer hulle wel eet, peusel hulle aan stukkies kaas en kwarteleiers op stokkies, en in hulle drankies dryf olywe. Die mans vloek gesellig en die vroue dra Langbroek en drink en rook soveel soos die mans.

Hulle is nie winkeliers en poskantoorwerkers nie; hulle is regsgeleerdes en rekenmeesters, en al is meeste van hulle Afrikaners, verkies hulle om Engels te praat. Hulle het ’n broertjie dood aan geselsies oor armblankes en hulle ouers se geteem oor die Boereoorlog.

Hulle kritiseer Hertzog se besluite en ondersteun Malan se sentimente. Hulle luister nie na Boeremusiek nie, maar na Benny Goodman en Glenn Miller.

Beatrice en Boas probeer inpas deur dieselfde soort partytjies as hulle nuwe vriende te hou, dieselfde tuinmeubels en breekgoed te koop, en deur woorde te gebruik soos ‘super-duper’, maar hulle plaasmaniere, tafelgebede en die streng dissipline waarmee hulle Henkie grootmaak, verraai hulle.

Boas is nie een wat drink nie en Beatrice kan haarself nie sover kry om ’n broekpak te dra nie.

Die ou minderwaardigheidsgevoel wat Beatrice laas as student by die konservatorium ondervind het, kom weer oor haar. Sy is nie wêrelds of modieus of slim genoeg nie.

Hierdie gevoel word versterk toe Boas se pa sterf en sy ma vir byna ’n jaar by hulle in die ‘troukoek’ intrek.

Ma Trui is ’n lang, skraal vrou met stompiestande wat steeds flenniebloemers en ’n korset onder haar lang rokke dra en heeldag loop en tabakpoeier snuif. Sy praat hard, soos haar gewoonte was toe sy nog op die plaas was en met haar buurvrou oorkant die rivier moes kommunikeer.

Sy is bygelowig en hardlywig en sy neurie hallelujaliedere wanneer sy kerriepens kook.

Sy het massiewe, skurwe hande waarmee sy wors stop, seep kook en vir Henkie pak slae gee, en sy noem vir Beatrice ‘Beatrix’. Saans wanneer hulle boekevat, gaan sy op haar knieë en raak tranerig, waarna Boas haar moet ophelp.

‘Hulle is nie winkeliers en poskantoorwerkers nie, hulle is regsgeleerdes en rekenmeesters, en al is meeste van hulle Afrikaners, verkies hulle om Engels te praat.’

Wanneer Beatrice in die kombuis werskaf, hou ma Trui haar heeltyd dop – nie vir een oomblik kyk haar bleek oë weg van waar Beatrice vleis insout of aartappels skil of dikmelk versoet nie. Maar sy bied nie haar hulp aan nie.

Op ’n keer sê sy: ‘My seun is goedig, maar dom. Jy is slimmer as hy, uitgeslape. Jy sal hom verpletter.’

Beatrice se hande raak stil, maar sy sê niks.

Toe gaan ma Trui aan: ‘Boas was ’n sagte kind, baie sag. Hy kon nie eens iets vir die pot skiet nie. Sy pa se loesings het hom siek gemaak. Vir weke aaneen in sy slaap geloop en deurmekaar gepraat. Ek moes hom naand na my suster op Nylstroom stuur.’

Ma Trui vat ’n turksvy uit die vrugtebak op die kombuistafel en vryf die dorinkies met haar kaal hand af voor sy dit afskil. ‘Ek sal nie toelaat dat jy dieselfde aan hom doen nie.’

Beatrice hervat haar kombuistake: ‘Ek is lief vir Boas, Ma.’

‘Ha! Wat weet jy van lief wees? Liefde verrinneweer jou en maak ’n dwaas van jou.’ Haar stem weergalm deur die kombuis.

Sy sny die turksvy in skyfies en kou dit aan die kant van haar mond waar sy nog tande het. ‘Wie is Henkie se pa?’

Beatrice se gesig word warm. ‘Ekskuus?’

‘Jy het my gehoor. Seuns trek op hulle pa’s en Henkie lyk g’n snars na Boas nie.’

Beatrice verroer nie ’n ooglid nie. ‘Wil Ma ’n koppie Ceylon-tee hê?’

‘Ek sal eerder gif drink as Engelse tee oor my lippe neem.’ Met ’n sug staan sy van die tafel af op en stap singend uit die kombuis.

~~~

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Gerda Taljaard Penguin Random House SA Uittreksel Vier susters


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments