C

Video: Probeer gerus Carmen Niehaus se resepte vir Hoenderschnitzels en Suurlemoen-meringuetert uit Lekker en goed

Beplan jy ‘n feesmaal? Hier is jou gratis resepte vir Hoenderschnitzels uit die boonste rakke en Suurlemoen-meringuetert uit Lekker & goed deur Carmen Niehaus.

Lekker & goed: Heerlike kos propvol heilsaamheid is Carmen se nuutste kookbook nadat sy reeds meer as 20 kookboeke uitgegee het. Dit is ’n lekker-eet-boek met ou bekendes en nuwelinge wat gesonder gemaak is om steeds heerlik te kan eet sonder om skuldig te voel – net soos Carmen aan huis eet.

Carmen se Hoenderschnitzels en Suurlemoen-meringuetert is twee ou staatmakers wat jy nou op ‘n gesonder wyse kan voorberei.

Probeer die resepte:

Hoenderschnitzels

Hoenderschnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne. Ek was nooit een vir enige diepvetgebraaide kosse nie. Maar met dié dat jy dit nou in die airfryer kan doen, gebruik jy bitter min olie. Wat meer is, dis binne ’n ommesientjie gaar; die kans vir droogbak is dus min.

Genoeg vir 4 | Bereiding: 10 min | Verkoeling: 30 min | Gaarmaak: 10 min

Bestanddele

  • 4 hoenderborsfilette
  • Sout en peper
  • mengsel van bruismeel en mielieblom (jy kan ook glutenvrye bruismeel gebruik)
  • 1 eier, geklits
  • broodkrummel-en sesamsaadmengsel (of slegs sesamsade)
  • ligte olyfolie

Metode

  1. Sny ’n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die kant van jou handpalm. Geur met sout en peper. Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die krummelmengsel. Plaas die hoender vir minstens ’n halfuur in die yskas dat die krummelmengsel goed aan die hoender kan kleef.
  2. Besprinkel die hoenderschnitzels alkant liggies met olie en plaas hulle langs mekaar in die laaitjie van die airfryer. Lugbraai vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
  3. Sit die hoenderschnitzels voor met ‘n groente-salsa gemaak met pitmielies, baba-tamaties, avokadostukkies, gekapte rooi ui en groen soetrissie en ‘n goeie handvol gekapte koljanderblare.

***

Suurlemoen-meringuetert

Ek het nog nie iemand teëgekom wat nie gek is na suurlemoen-meringuetert nie. Ook ’n staatmaker op al wat ’n koffiewinkel is se spyskaart. Vir hierdie lekker gesonder weergawe maak ek ’n hawermoutkors met klapper, die vulsel met egte suurlemoensap en jogurt, en die meringue, wat met versoeter gemaak word, word oor kookwater geklits om ’n heerlike malvalekkertekstuur daaraan te verleen. Ek hou van die surigheid van hierdie tert, maar as jy dit soeter verkies, gebruik 180 ml (¾k) suurlemoensap pleks van die volle 250 ml (1 k).

Maak 1 groot tert of 2—3 kleineres| Bereiding: 30 min | Baktyd: 40 min

Kors

  • 60 ml (¼ k) bruinsuiker of versoeter soos eritritol
  • 250 ml (1 k) hawermout, liggies gerooster indien verkies
  • 80 ml (⅓ k) fyn klapper
  • 60 ml (¼ k) klappermeel
  • Knippie bakpoeier
  • Knippie sout
  • 1 eier
  • 80–115 g klapperolie of botter, gesmelt

Vulsel

  • 250 ml (1 k) versoeter soos eritritol
  • 4 ekstra groot eiers
  • 250 ml (1 k) ongegeurde volroomjogurt
  • 180-250 ml (¾-1 k) vars uitgedrukte suurlemoensap
  • Gerasperde skil van 1 suurlemoen

Meringue

  • 3 eierwitte, by kamertemperatuur
  • 180 ml (¾ k) versoeter soos eritritol
  • Knippie kremetart
  • 15 ml (2 e) mielieblom
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n 23 cm-losboompan met kossproei of andersins 2—3 kleiner pannetjies of selfs ramekins.
  2. Plaas die bruinsuiker, hawermout, klapper en klappermeel saam met die bakpoeier en sout in die bak van ’n voedselverwerker. Pols tot fyn. Voeg die eier by en pols tot deurgemeng. Voeg net genoeg gesmelte klapperolie of botter by om ’n saamdrukbare deeg te vorm. Druk die deeg vas op die bodem en teen die kante van die pan. Verkoel sowat ’n halfuur in die yskas, prik die bodem liggies en bak dan 10 minute.
  3. Verlaag die temperatuur na 140 °C.
  4. Klits die versoeter, eiers, jogurt, suurlemoensap en -skil goed saam. Giet in die voorbereide kors en bak 10 minute. Verlaag die hitte na 90 °C en bak verder tot die vulsel net gestol, maar steeds binne nog effe sag is, sowat 20–30 minute. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
  5. Plaas die eierwitte, versoeter en kremetart in ’n glasbak oor ’n kastrolletjie met kookwater. Laat dit 3 minute prut terwyl gedurig geroer word en tot die versoeter opgelos is.
  6. Verwyder van die hitte en klits sowat 10 minute met ’n elektriese klitser tot lig en blink. Vou die mielieblom en vanieljegeursel in. Skep bolle meringue bo-op die suurlemoenvulsel en skroei effe met ’n blaasvlam.

Categories Afrikaans Cookery Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Carmen Niehaus Hoenderschnitzels LAPA LAPA Uitgewers Lekker en goed Lemon Meringue Recipes Recipes Resepte Suurlemoenmeringuetert Video


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments