C

‘Toe val die jong soldaat’: Lees ’n aangrypende uittreksel uit Tenk deur Pieter Stoffberg
 More about the book!

Penguin Random House SA het ’n boeiende uittreksel gedeel uit Tenk deur Pieter Stoffberg – ’n klinkende stuk historiese fiksie wat lig werp op een van die grootste veldslae met Suid-Afrikaanse tenks in Angola.

Daar is soldate wat sterf en vermink word. Ander breek onder die spanning. Almal keer terug met wonde in hul gemoed.

Lees die uittreksel:

~~~

Oktober 1987 – Die sein

I

Die wind is in sy hare en in die lug is ’n intensiteit wat Leon Marais nog nooit tevore ervaar het nie. Het hy dit al ooit so mooi gesien? Natuurlik nie hiér nie. Miskien in die Drakensberge waar swaar reënwolke tussen hoë pieke saampak en die son deurlaat om presies op ’n vyftigsentkolletjie te skyn, maar nee, nie hier in Angola nie.

Hier is die hemel oop en hoog bo jou, die vaalblou lug waar jy die ewig­heid in kan kyk sonder om iets te sien.

Leon klou aan die rand van die Bevelsratel se toring vas, want hulle breek ’n pad oop deur die ongerepte bos. Die Ratel skeur bome uit die grond, trap struike en bossies minagtend plat en vaar wiegend soos ’n skip op ’n onstuimige see deur slote en dongas.

‘Majoor!’ Nico Wheeler, sy kompanieklerk, stamp aan Leon met sy kopskerm in ’n uitgestrekte hand.

Hy vat dit, maar hou dit eers net vas. Wanneer het hy dit afgehaal? Hoe­kom? ’n Mens moet dit altyd op jou kop hê. Daarsonder het jy nie kontak met die res van die bevelgroep nie en kan jy bevele nie ontvang of opdragte gee nie. Kan jy nie oorlog voer nie.

Tog talm hy om die helm op te sit. Hy hou van die koel wind op sy gesig; die lug wat hy inasem, is vars en skoon en les sy dors soos helder water uit ’n koue bergstroom.

‘Majoor?’

Leon haal diep asem, sak terug in sy stoel en sit die kopskerm op. Dit bring hom onmiddellik terug na die werklikheid.

Die son het in ’n oogwenk hoogoondwarm geword en hang amper loodreg bokant die Afrika-bos.

Hy verstik in dieseldamp en stof terwyl die oorfone knars en krap en gons: ‘Kontak! Kontak!’ skree iemand.

Leon se hart skop, maar hulle sien nog niks.

Links is ’n Ratel langs hulle. Regs nog een, maar g’n vyand nie. Hulle is in die voorste linie. Nog bosse maak voor hulle oop en dan sien hy die vuilwit streep van die Portugese pad … en ’n vyandelike tenkafweerkanon van die vyand, ingegrawe om die pad te dek.

Hulle kom só vinnig op die doelwit af dat Fapla nog nie eens die kanonloop se trompkous afgehaal het nie.

Sy kanonnier begin skiet sonder dat Leon bevel gee. ’n Paar Faplas skar­rel deur die bome en die volgende oomblik begin die ammunisie in die vyandelike kanon ontplof. Van die soldate op die grond skiet nog op hulle, maar in die storm wat om hulle ontketen is, hoor Leon kwalik die koeëls wat teen die Ratel se wand klap.

In linie met die ander Ratels om hulle, neem hulle nuwe grondgebied in. Met elke tree verander die toneel. Voetsoldate met Browning-masjien­gewere word deur brisantskote aan flarde geskiet.

Vir die eerste keer sien Leon die veelbesproke Russiese T34-tenks. Hulle is sowaar die eerste Suid-Afrikaners wat in konfrontasie met dié tenks is. Sy maag trek saam. Gaan hulle dit ooit kan hanteer?

Hulle trek los op die T34 reg voor hulle. ’n Muur van vuur stuit die tenk se vooruitgang.

Rook. Vuur. Vuurwerke.

Die tenks is nie opgewasse teen hul Ratel 90’s nie. Hierdie Russiese veg­voertuie wat in die Tweede Wêreldoorlog soveel dood gesaai het onder die Duitsers, is ’n ou generasie wapentuig.

Een ná die ander tenk word verwoes. Die ontploffings loop hulle vooruit en vlamme volg hulle soos ’n spoor.

Hulle kry al die vyand se verdedigingstellings presies nes aan hulle gesê is. Geen vyandelike vliegtuie in die lug nie. Hul eie verkenningsvliegtuie het al die tyd in die wêreld om te verken en inligting in te samel.

 

‘Dit word stil in sy kop. Hy is nie meer bewus van die geraas nie. Ruik nie die stof nie, voel nie die hitte nie. Die aanval is al wat tel.’

 

Drie Faplabataljons in ingegraafde stellings val een vir een voor Leon en sy manne.

’n Suid-Afrikaanse F1-Mirage verskyn in die lug en bestook die vyand. Soos in ’n oorlogsfliek word ’n tenk raak geskiet. Dit ontplof deur sy skuttoring wat soos ’n vonkelwynprop van die romp afdop terwyl witwarm vlamme en vonke en rook twintig of dertig meter in die lug in klim.

Iets om te aanskou.

Dan trek vyandelike lugafweer op die Mirage los. Die lugafweerkanon met sy 23 mm-dubbelloop kan duisend-tweehonderd skote per minuut skiet. ’n Mens kan die individuele skote nie uitmaak nie, hulle is só vinnig, alles vloei ineen. Klink miskien soos ’n laken wat skeur, net duisend keer harder.

Of ’n telefoonboek.

Dit het Leon eenkeer in ’n kroeg in Saldanha gehoor – ’n kragman wat telefoonboeke met sy hande middeldeur skeur.

Hulle was almal daar om een tafel: hy, Connie van Wyk, GT van der Merwe en Dries van Ellewee. Hy kan hulle nou weer voor hom sien, hoe hy self beduie en lag. Dan staan hulle op en klim op die tafel, al vier van hulle. Hulle hou aan mekaar vas om regop te bly, stamp hulle bekers teenmekaar dat die bier spat en oor hulle hande en arms drup.

Dit alles sien hy duidelik, maar hoe ’n bier proe, kan hy glad nie onthou nie.

Dit word stil in sy kop. Hy is nie meer bewus van die geraas nie. Ruik nie die stof nie, voel nie die hitte nie. Die aanval is al wat tel. Die verplette­ring van die vyand word ’n dwelm. Verdoof alles.

Die detail het vervaag, die groot prentjie oorheers nou.

Totdat hy skutter Stapelberg sien. Alles verlangsaam. Die troep voor Stapelberg beweeg tussen die vyand se tenks in. Ingegrawe in oorwoë ver­dedigingstellings, kan hulle nie roer nie. Kan nie wegkom nie. Die troep spring op die romp en pluk aan die Russiese tenk se toringluik. Laat ’n handgranaat binnetoe val en nael om weg te kom. Die luik klap weer oop toe die handgranaat ontplof.

Gitswart rook borrel uit soos vlermuise wat wyd uitsprei en die son demp. Geweldige ontploffings verlig die tydelik verduisterde wêreld vir ’n oomblik, maar dan neem die vlermuise dit alles weer in besit, bedek die tenk in ’n krioelende, olieswart lykskleed.

Tussen al die geweld deur, hou Leon sy oog op Stapelberg. Hulle haal hom in. Nie te vinnig nie, want hy hardloop amper dieselfde spoed as die Ratel. Hulle is vyf treë agter hom, en dan drie …

Toe val die jong soldaat.

Sy kop is die een oomblik ooghoogte met die Ratel en dan op die grond in ’n dam bloed. Leon verdraai sy lyf. Kyk verbysterd agtertoe tot hy Stapel­berg nie meer kan sien nie.

Iets ruk in sy binneste, hy maak ’n geluid waaroor hy nie beheer het nie.

Hy kyk op. Sien die vyand weghardloop. Party het hulle wapens neerge­gooi, maar die meeste is steeds gewapen.

Leon gryp sy R5 en lê aan op een van hulle. Skiet hom in die rug …

~~~

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Boekuittreksel Book excerpts Book extracts Historical fiction Penguin Random House SA Pieter Stoffberg Tenk Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments