‘Só kyk die leessnobs op hul neuse’ skryf Christelle van Rooyen-Wessels in The Penguin Post
More about the book!
Christelle van Rooyen-Wessels bely haar afhanklikheid.
Die bekende Engelse digter WH Auden het ’n paar dekades gelede na sy liefde vir speurverhale as ‘an addiction like tobacco or alcohol’ verwys.
Die speurverhaal, volgens die digter, het ’n amperse verslawende vermoë om die leser te boei, maar, kan mens seker van sy stelling aflei, dit is nie noodwendig ‘goed vir jou nie’.
Of, in literêre terme, dié verhale kan nou nie eintlik as ‘kuns’ geag word nie.
Deur die jare het verskeie skrywers – selfs ’n hele paar bekroondes – hul hand aan misdaadfiksie gewaag, maar verkies om dit onder ’n skuilnaam uit te gee. Asof hul skaam was om met dié genre verbind te word, kan mens vra.
Op hierdie lys is skrywers soos Nicholas Blake, wat die skuilnaam is van die Ierse digter Cecil Day Lewis. Dan is daar die Bookerpryswenner Julian Barnes wat onder die skuilnaam Dan Kavanagh misdaadfiksie geskryf het. In Afrikaans, is daar Abraham H. de Vries, ’n Eugène Maraispryswenner wat volgens betroubare bronne verskeie speurverhale onder die naam ‘Thys van der Vyver’ gepubliseer het.
Maar is dié mate van, kom ons noem dit maar snobisme, jeens die genre steeds geldig?
Ek mag dalk partydig wees, maar ek wil my verstout en sê nee – veral waar dit Afrikaans betref.
In die laaste klompie jare het Afrikaanse misdaadfiksie verskyn wat die denkwêreld begin verander het.
‘Uitgewers is darem ook kieskeurig en maak seker dat hul gehalte werke laat verskyn.’
Dit kan natuurlik ook toegeskryf word aan die rol van televisie en die internet wat aanleiding gegee het tot ’n verhoogde belangstelling in die populêre kultuur.
Kyk maar na opskrifte van koerante se boekbladsye waar die gewildheid – en winsgewendheid – van Afrikaanse misdaadfiksie besing word. En ja, toegegee, gewild beteken nie altyd goed nie. Maar, uitgewers is darem ook kieskeurig en maak seker dat hul gehalte werke laat verskyn – hul reputasie hang tog ook daarvan af.
Wanneer ek kyk na van die misdaadfiksie wat die afgelope drie jaar verskyn het, kan ek nie anders as om beïndruk te wees nie. En ek verwys níé net na die gevestigde skrywers nie. Nuwe stemme verskyn met storielyne wat sterk en goed nagevors is, wat uitstekend vertel word en wat kan kers vashou by die beste wat die bekende oorsese skrywers van dié genre vrystel.
Dit kan net beteken dat die Afrikaanse misdaadfiksie-stal kerngesond is en gedy – dit is goeie nuus vir lesers én skrywers, aangesien daar beslis nie ’n versadigingspunt vir gehalte is nie.
- Om beter te kan moor is nou beskikbaar
Die artikel was oorspronklik in The Penguin Post gepubliseer, ’n tydskrif van Penguin Random House South Africa.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Christelle van Rooyen-Wessels Om beter te kan moor Penguin Random House SA The Penguin Post