C

Sing ’n Lentemelodie – nog vier Romanzas is hier!
 More about the book!

Nuut by LAPA – Lentemelodie deur Madelie Human, Uiteindelik verlief deur Dina Botha, Nogtans sal ek jou liefhê deur Magdaleen Walters en Waag en wen deur Renda de Waal-Fourie.

Lentemelodie deur Madelie Human

’n Voël in ’n kou sing steeds.

Ali Grey se lewe is aan skerwe. Haar skitterloopbaan as sangeres in New York is in die weegskaal, want na ’n ongeluk is haar spraak aangetas en sy het ’n lelike litteken aan haar wang. Hoe kan God dit aan haar doen?

Maar dan verskyn haar jeugliefde, Jason Vermeulen, weer in haar lewe en hy oortuig haar om by hom in die stad te bly sodat sy behandeling vir haar beserings kan ontvang. Sy worstel om haar geloof te behou ten spyte van alles en wanneer sy begin herstel, kan sy nie besluit of sy wil teruggaan Amerika toe of nie.

Wil Jason haar daar hê? Hy sê niks en die onsekerheid maak haar gek. Moet sy teruggaan New York toe of moet sy by hom bly? Kan sy die besluit op haar eie neem, of moet sy vertrou dat God ’n groter plan met haar lewe het?

Oor die outeur

Skryf was nog altyd ’n deel van Madelie Human se lewe, maar sy het eers op vyftig ernstig begin skryf. ’n Vriendin het haar uitgedaag om fiksie te skryf, en romanse was die logiese keuse omdat dit haar gunstelinggenre is om te lees. In 2008 publiseer LAPA haar eerste Romanza en dit wen ’n Woordveertjie. Madelie is nou ’n gevestigde skrywer met meer as dertig Romanzas op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Uiteindelik verlief deur Dina Botha

Liefde laat nie op hom wag nie …

Danika Lombaard hoort in die stad, maar sy gaan dié Kersfees op haar ouers se plaas moet wees vir ’n familiefees. Danika is mooi, suksesvol en baie, baie onafhanklik. Sy wil nie ’n man hê nie en klaar. Maar sy is ook die oudste van vier dogters en haar ma speel al vir jare paartjieknoper.

Op die plaas loop sy vir Bismarck Lombaard raak, oftewel Meneer Ongeskik. Die sexy boer met dieselfde van en haar ouers se buurman. Die een sonder familie. Die een wat haar lelik genoem het. En die een wat haar hart aan die klop kry. Vir hierdie man moet sy ligloop. Hy dra haar tasse, hy skink vir haar wyn en sy hande rus gereeld op haar lyf. Dis asof haar ma se droom van ’n kêrel vir Danika waar geword het. Sonder haar medewete.

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Nogtans sal ek jou liefhê deur Magdaleen Walters

1808, Engeland.

Wanneer Eloise Clark ʼn beseerde man langs die pad probeer help, kom sy van aangesig tot aangesig te staan voor iets wat slegs as ʼn wolf beskryf kan word. Dis ʼn skrikwekkende ervaring, maar dit bring haar in aanraking met baron Wesley Bloodsworth en Eloise verloor haar hart op ʼn man wat net goed vir haar is.

Wanneer sy egter met die waarheid van sy werklike aard gekonfronteer word, moet sy haar vrese en vooroordele te bowe kom. En sy moet ʼn keuse maak. Luister sy na haar hart of na haar verstand? Romantiese fantasieverhaal.

Oor die outeur

Magdaleen Walters is in ’n kasarm van ’n plaashuis in die goeie ou Vrystaat naby Senekal op mieliepap en stories grootgemaak. Sy het haar studentejare op die kampus van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat deurgebring en later deur Unisa verder studeer. Sy woon saam met haar man in ’n huis langs ’n rivier naby Bronkhorstspruit waar sy haar dae vul met stories, naaldwerk, kosmaak en haar tuin.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Waag en wen deur Renda de Waal-Fourie

Sy gaan alles moet waag om sy hart te wen …

Katryn kan nie verstaan waarom almal in haar lewe mal is oor Daniël Roux nie. Ja, hy is aantreklik, maar dis al. Sý wil meer in ’n man sien as net sy mooi gesig, sy gespierde lyf en sy gladde mond. Stadigaan begin sy tog besef dat Daniël anders is. Maar afgesien van die skade wat sy aangerig het met haar aanvanklik bevooroordeelde houding teenoor hom, weet sy nie of sy hom kan vertrou nie.

Sy het mos al voorheen haar vingers verbrand. En nou beskuldig Daniël haar dat sy met sy gevoelens speel. Daar blyk geen einde aan die spanning tussen hulle te wees nie. Katryn moet besluit of sy die moed het om haarself bloot te stel deur met vertroue ’n nuwe verhouding aan te knoop.

Oor die outeur

Renda de Waal-Fourie het op Witbank (nou eMalahleni) gematrikuleer. Sy het deur die jare verskeie grade en diplomas verwerf. Daarna het sy vir ’n paar jaar in die Staatsdiens gewerk, daarna eers kinders grootgemaak en van 1987 tot 2013 voltyds en later deeltyds klas gegee by tersiêre instellings, hoofsaaklik by die voormalige technikons (nou universiteite van tegnologie). Sy is in 1974 getroud met haar man en hulle het vier kinders en vyf wonderlike kleinkinders. Renda en haar man reis ook graag.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Dina Botha LAPA LAPA Uitgewers Lentemelodie Madelie Human Magdaleen Walters New books New releases Nogtans sal ek jou liefhê Renda de Waal-Fourie Romanza Uiteindelik verlief Waag en wen


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments