Pitkos vir kinders en grootmense in Briewe van Mieliepit deur Fanie Viljoen – die heel eerste kinderboek uit LUCA se stal
More about the book!
Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling.
Sy vertel stories oor Jaco en Janet, die twee kinders in die huis, en alles wat hulle aanvang. Soos alle broers en susters baklei hulle soms lelik, en soos alle kinders vertel hulle soms nie heeltemal die waarheid nie. Gelukkig is Mieliepit altyd daar om hulle te help.
Elke storie bevat ’n bietjie pitkos om die leser te laat nadink, sowel as ’n Bybelgedeelte om verder te gaan lees, en ’n gebed wat die leser kan bid. Party storiebriewe het selfs aktiwiteite vir die lesers om te doen.
Hierdie eerste kinderboek uit LUCA se stal is uit die pen van geliefde kinderboekskrywer Fanie Viljoen, en is pragtig geïllustreer deur Megan Bird.
Kyk na die lokprent!
Oor die outeur
Trefferboeke soos Slym, Klou, Betower, Bravo, Lulu, Aksieheld Austin en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Fanie Viljoen ’n huishoudelike naam gemaak. Fanie het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ’n illustreerder en visuele kunstenaar. Van sy skilderye het ‘n tuiste gevind in Amerika, Australië, Kanada en Brittanje. Sy boeke Betower en Afkop was naaswenners in twee van LAPA se jeugromankompetisies, en hy het al ’n rits ATKV-Woordveertjies ingepalm. Fanie Viljoen woon tans in Bloemfontein. Hy skryf voltyds.
Oor die illustreerder
Megan Bird is ’n Suid-Afrikaanse illustreerder wat in Pretoria bly. In samewerking met TBWA Durban en die aangepaste ateljee in Space Ace het sy die Assagi-leiersprys ontvang. Met jare se ondervinding agter die rug is sy absoluut passievol oor illustrasie en ontwerp en sit sy haar hart en siel in haar werk.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Briewe van Mieliepit Fanie Viljoen Kinderboek LUCA Megan Bird New books New releases Video YouTube