C

Op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe prosa: Lees ‘n uittreksel uit Strafjaart deur Theo Kemp
 More about the book!

Die 2020-benoemdes vir die kykNET-Rapport-boekpryse is pas bekend gemaak, en Strafjaart deur Theo Kemp verskyn vanjaar op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe prosa.

Strafjaart het in Januarie 2019 verskyn en vertel die verhaal van ’n foonoproep uit Pollsmoor wat ’n navorser se lewe laat kantel. Die boek het ook vroeër vanjaar op die Universiteit van Johannesburg-pryse vir 2020 se kortlys verskyn.

Die wenner van die Jan Rabie-Rapportprys word op 19 September bekendgemaak. Lees solank ‘n uittreksel uit Strafjaart, ‘n storie waar hoop en wanhoop ’n maalkolk kan raak.

Lees die uittreksel:

Ridderschap van Holland

Visitors: Female Prison is geskryf bo die ontvangstoonbank waarby ek staan. My hande druk ek in my broeksakke, dan weer voor my op die vuil blad. My hande lyk vreemd, onbekend, soos my gesig hier in die glaspaneel teen die muur.

‘Knip jou baard. Jy lyk al soos ’n seevaarder,’ sê M gereeld. Ek lyk meer soos Paul Kruger as ’n uitgehongerde man van die oop see.

Ek sug hardop. Dit gaan nog ure duur – terwyl boeke der boeke ongelees in my studeerkamer wag. Ek is besig met ’n skripsie oor die verdwene skeepswrakke aan die Suid-Afrikaanse kus. Die geskiedenis van seevaart het my nog altyd geïnteresseer. As ek dalk uiteindelik my doktorsgraad kry, kan ek op Stellenbosch klas gee. Nie dat ek regtig wil nie – dis ver om te ry van ons dorp in die Swartland en ek het nie die inkomste nodig nie. Dit is wat veertig aan my doen: Daar is nou die drang om iets met my lewe uit te rig.

Die oorgewig beampte soek rustig met haar gekoude liniaal deur die lang lys name tot by die letter ‘L’; al stadiger totdat sy by Lizette stop. My pa se laatlamsuster. Dié naam wat ek die afgelope paar maande, ná haar oproep, herhaaldelik onder my Facebook-vriende gaan opsoek, so asof ek elke keer hoop dat daar ’n nuwe inskrywing sal wees. Haar gemanipuleerde profielfoto bly onveranderd: ’n maer Lizette wat in die see stap met haar rok wat agterna soos ’n duin sleep. Ek moet telkens ’n paar keer daarop klik om seker te maak dit is sy. Die Lizette wat ek ken, haat rokke en is allesbehalwe maer.

Lizette het my van ’n tiekieboks gebel en haar stem was dof, asof sy met haar hand voor haar mond praat om die skaamwoorde tussen lippe en die telefoonlyn te keer. Sy het gevra dat ek haar moet kom besoek. In Pollsmoor. Gods. Pollsmoor.

Dit het my maande geneem om myself so ver te kry om uit te vind wanneer besoektye is en om by haar uit te kom.Vanoggend het ek opgestaan met die wete dat dit tyd is. My besluit het moontlik te doen gehad met die donnerse Ridderschap waaroor ek die hele nag gedroom het.

Daardie aand toe die Ridderschap uit die Kaap weg is, was Simon van der Stel se seun op die skip om ’n nuwe lewe in die Ooste te begin. Maande later is te vertel dat die skip in Madagaskar gewaar is. Ná soektogte oral om die eiland, en later al verder, selfs langs die noordkus van Australië, is daar steeds geen plank of lap gevind nie. Die Ridderschap het verdwyn.

Soos my pa. Die enigste mens lewend wat die verdwyning van my pa op ’n manier sou verstaan, is Lizette. My tannie in die tronk.

‘Vyftig jaar oud,’ sê die beampte, meer vir haarself as vir my. Ja, knik ek. In die album wat ek gistermiddag van die rak in my studeerkamer gaan afhaal het om vir ons buurvrou Esmarie te wys hoe my tannie lyk, kon ek net een foto van haar vind. In die foto is ek in ’n rooi-en-roomkleurige stootwaentjie. Lizette staan langs my, skaars tien. My ma se vinger is voor die lens en sny ’n hap uit Lizette se wilde blonde hare. Lizette staan met haar een kaal voet bo-op die ander, haar blommetjiesrok tot bo toegeknoop. Haar hande is voor by die rokskraag ingedruk. In die agtergrond maak die branders van 1979 wit perdjies. Terwyl die foto geneem is, het my pa heel moontlik agter my ma gestaan. As ek mooi kyk, ja, lyk dit tog of Lizette ver verby my ma staar.

‘Dit lyk asof sy verwurg in die rok, siestog,’ het Esmarie gesê nadat sy lank na die foto van my en Lizette op die kombuistafel gekyk het. Toe kom sy orent en kom staan voor my by die kombuisdeur, vra byna pleitend met haar hande op my skouers: ‘Moenie haar veroordeel as jy haar sien nie. Ons almal maak foute.’

Tussen ons huis en Esmarie s’n is ’n laning kweperbome wat haar domineepa aangeplant het. Die kerkman met die liefde vir bome en God. Esmarie woon nou alleen in die pastorie. Langs haar huis is die leë kerkgebou en aan die agterkant van die vrugtebome sien jy die biblioteek se geroeste dakplate uitsteek. Soggens gee Esmarie die haweloses op die kerkstoep kos. Dan stap sy deur die boord om die biblioteek oop te sluit vir in geval iemand in ons dorpie met sy breë hoofstraat, na haar pa vernoem, die dringende behoefte het om hulself reeds om agtuur tot boeke te wend.

‘Hoekom nie? Sy is sekerlik met ’n rede daar?’ antwoord ek.

Net toe kom M die kombuis binnegestorm en hang oor die wasbak. ‘Dit voel asof ek nie asem kry nie,’ sê sy deur die naarheid. M is swanger met ons eerste kind. Sy het ’n paar weke gelede die swangerskapstoets gedoen.

Esmarie is laat huis toe, lank nadat M gaan slaap het. Ek kan nie onthou waaroor sy verder gepraat het nie. Iets oor vergifnis en deernis en ek het nog wyn gedrink om myself salig te laat voel, en was te dronk om verder na skepe te kyk en het toe langs M uitgepass.

M het nog geslaap toe ek vanoggend uit die huis is, met haar hande op haar maag. Die naarheid het iewers in die oggendure gewyk. Verby die donker koringlande van die Swartland, het ek myself gedwing om nie te dink aan wrakke of my pa nie, maar eerder aan die tekens van lewe in my vrou se buik.

Die beampte beduie ek moet gaan sit totdat sy almal roep wat na die vroueselle moet gaan. Ek soek in die oorvol wagkamer met die stukkende vensters na ’n oop sitplek en vind een agter in die saal langs twee ouer vroue. Die een sit met ’n deurskynende bak pienk polonietoebroodjies op haar skoot, die wit snye met tamatiesous gevlek. Die ander vrou hou vis en tjips in ’n koerantpapierpakkie vas.

‘Is dit waar ons moet wag om na die vrouegevangenis te gaan?’ vra ek.

‘Ons gaan na die mans toe,’ antwoord die twee vroue byna gelyk.

‘Maar almal sit hier deurmekaar,’ voeg die een met die broodjies by.

Ek sit my Woolworths-sak met hoenderboudjies, Griekse slaai, twee 500 ml-Cokes, ’n notaboek en Nataniël se boek, 150 stories, wat ek vir Lizette saamgebring het, op die vloer onder my neer. Die Coke is so goed soos goud in die tronk, het Lizette oor die foon gesê.

Die notaboek kan sy gebruik om al die aanklagtes teen haar neer te skryf en te probeer onthou; en die boek sal haar hopelik verplaas na dít buite Pollsmoor. Wat dit is, wat daardie wêreld van Lizette was, kan ek my nie meer voorstel nie. Ná alles wat gebeur het, het ons kontak verloor.

‘Ek hoop jy verstik in die geld,’ het Lizette op die vakansiehuis in Agulhas se stoep vir my gesê en die deur agter haar toegeslaan. Daardie deur wat elke vakansie heelnag oopgestaan het, met die see wat raas, met die reuk van gemmerbier en soutwater en botterkoekies. Ek en sy het altyd in dieselfde kamer geslaap, naaste aan die stoep. My ouma en oupa in die hoofslaapkamer, my ma in die rondawel agter die huis. Ek kan een herinnering oproep van my pa saam met ons daar. Toe het my oupa-hulle in die rondawel geslaap en my ouers in die huis, in die kamer langs ons. Ek het in die nag wakker geword en water in die kombuis gaan haal. My pa het kaalbolyf in die deur gestaan, met sy swembroek aan. Dit is so warm, het hy gefluister, dat hy gaan afkoel het. Die beeld is so vaag, dat dit bes moontlik versin is.

Soggens as die son opkom, is ons op die strand. ‘Lizette, kyk tog dat die kind nie verdrink nie!’ sou my ouma deur die venster skree. My ouma sou nooit in die son kom nie, uit vrees dat haar vel verbrand. My mooi, maer ouma met die lang donker hare wat sy hoog op haar kop vasmaak. Selfs op vakansies het my ouma lank voor die spieël gestaan om haar te grimeer. My ouma was te mooi vir ’n plaasvrou, het Ma dikwels gesê. Maar Ouma het die drie plase in die Overberg van haar pa geërf. Genoeg durf het sy nog altyd gehad om ’n sukses van boerdery te maak.

Daardie middag tien jaar gelede toe Lizette die deur toeslaan, het ek op die vakansiehuis se stoep bly staan en wou weer aan die deur klop. Dit was ’n paar jaar ná my ouma se dood en die afhandeling van die boedel. Ek wou weer verduidelik dat dit nie ek was wat die testament bepaal het nie; dat ek nie gekies het dat Lizette die strandhuis erf en ek die plase met die morge en morge grond nie. Skaapweiding en koring.

Ek is geen boer nie, dit moes my ouma tog geweet het. Anders as Lizette wat self in die lande op die trekkers sou klim, wat kon ploeg en saam met die singende werkers op die lande werk. Tog. Ek het die grond verkoop en die geld goed belê. Ek wou so ver as moontlik wegkom van die Overberg en die vakansiehuis op die suidelikste punt van Afrika. Ek en M het na die binneland getrek, doer aan die anderkant van die kus. Die Swartland.

Die rente op die plase se geld leef ons nie uit nie. M kon haar werk los – sy hoef nooit weer in die stadsverkeer te sit op pad na die maatskappy wat geld teen onbillike rentekoerse aan die armes leen nie.

Ek kan my volle aandag wy aan my studie oor die eerste skepe wat hier aangedoen het aan die Kaap, aan die seevaarders wat hier al om die kuslyn in die Atlantiese en Indiese oseaan omgekom het. Ek kan ure lank soek in museums en in muwwerige boeke wat Esmarie vir my oor oorblyfsels van omgeslaande rompe opspoor. Saans, veral dan wanneer die huis afkoel, kyk ek na die brose papier vol skeepsboeë en vlae beurend teen die Kaapse wind.

***

Ook beskikbaar as e-boek:

Foto met dank aan The Jakes Gerwel Foundation

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 2020 kykNET-Rapport-boekpryse Afrikaans Book excerpts Book extracts Jan Rabie-Rapportprys Penguin Random House SA Strafjaart Theo Kemp Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments