C

[Om te skryf] Helene de Kock vertel ‘Die storie van ’n storie’ in The Penguin Post
 More about the book!

Om oor die skryfproses te gesels, is opwindend, sê Helene de Kock. Om daadwerklik te begin skryf, kan as iets tergend en ontwykend beskryf word.

Skryf, as die mees abstrakte kunsvorm, is nie maklik nie. Die lekkerste is as jy klaar geskryf het en dit bruikbaar is. Soos Robert Louis Stevenson gesê het: ‘I don’t like writing; I like having written’. Dit is tot ’n groot mate waar.

Waar begin mens? ’n Tema is ’n beginpunt. Maar nou moet jy ’n storie hê. Dis die asem van enige roman. Laat ons dit uitklaar: ’n Tema is nié ’n storie nie. Dis nog so ver van ’n storie af soos wat Kaapstad van Kaïro af is. Jy moet die roete uitwerk Kaïro toe.

Byvoorbeeld: Jy het ’n tema as jy in Kaapstad staan en al met Afrika opkyk Egipte toe en jou voorneem om soontoe te reis.

Tussenin lê alles wat moet gebeur.

Die tema is dus ’n reis. Die storie is wat tydens die duur van die reis gaan gebeur. Jy moet ’n storie uitdink wat hierdie tema gaan dra. Die storie self moet die boodskap of die sogenaamde ‘moral of the story’ deurgee.

Hoe kom ’n skrywer by ’n storie uit? Of dan, hoe ontwikkel handeling? Handeling ontwikkel uit karakter en ruimte binne tyd.

Kies jou karakters. Dink oor hulle. Kén elkeen se geskiedenis van sy geboorte af tot waar hy/sy nou is. Al gebruik jy nie al die gegewens nie.

‘Die plaas, anders as wat mens graag glo, was nog nooit ’n utopie nie.’

Wanneer jy jou karakters kies, moet jy hulle binne ’n sekere ruimte plaas. Ruimte beteken nie net die topologiese of konkrete plek nie maar ook die tydperk of era waarbinne jy hulle plaas. Jy as skrywer plaas hulle dus binne ’n sekere tydgees, ook binne ’n kultuur wat deur ’n sekere religie (of die afwesigheid daarvan) gerugsteun word. Daar verskyn dikwels debatte in die media oor God. Jou karakters moet ten minste daarvan kennis neem.

Wees bewus van die stand van die politiek in jou storie. Sou dit byvoorbeeld tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, moet jou karakters en die ruimte waarbinne hul optree, dit weerspieël. Dit behoort konflik – die broodnodige bestanddeel van ’n goeie storie – mee te bring.

Die ruimte waarin jy jou karakters plaas, kan ook aanleidend wees tot die ontwikkeling van ’n plot. Jou karakters kan byvoorbeeld op ’n plaas woon. Met ’n bestaanskrisis as tema. Die plaas, anders as wat mens graag glo, was nog nooit ’n utopie nie. Dit was in Suid-Afrika altyd ’n gevaarlike plek. Tans is dit uiters gevaarlik om op ’n plaas te woon. Dit alleen kan aanleiding gee tot innerlike asook uiterlike handeling en konflik.

Of, jy kan jou karakters vanuit Waterkloof of Kampsbaai na die tronk verskuif. Dink net aan dáárdie innerlike én uiterlike konflik wat vooraf, tydens en ná die tronkperiode plaasvind.

Jou karakters mag maar almal goeie mense wees,  maar gewone mense het almal menslike swakhede. Dit  skep ook konflik.

Hieroor kan mens lank gesels. Storie skryf is inderdaad ’n lang storie.

Die artikel was oorspronklik in The Penguin Post gepubliseer, ’n tydskrif van Penguin Random House South Africa.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Helene de Kock Om te skryf Penguin Random House SA Stella se dogters The Penguin Post


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments