C

Nuwe jaar, nuwe Romanzas! Word meegevoer deur Paradiso, Meer as blomme, Maanengel en Veilige tuiskoms by jou
 More about the book!

Nuut by LAPA in Januarie 2022 – vier nuwe liefdesromans deur Elize Davies, Ildé Grové, Wilreza Smit-Theron en Magda Schmidt om die nuwejaar mee af te skop!

Paradiso deur Elize Davies

Liefde op ’n eiland … Wat kan verkeerd gaan?

Anneke Jordaan word Paradiso toe gestuur om ’n hotel te koop. Om op ’n kelner in die hotel verlief te raak was nie deel van haar opdrag nie. Maar Nick, die aantreklike Griek, help haar telkens uit die moeilikheid; hy is ’n heerlike maat, en hy soen verskriklik lekker.

Herman Jordaan het egter reeds ’n ander man vir sy dogter uitgesoek en hy doen sy bes om die verhouding te verongeluk. Daarin word hy bygestaan deur Ferdinand, die skoonseun van sy keuse. Hulle krap Anneke se liefdeslewe heeltemal deurmekaar, en die man wat sy liefgekry het verander skielik in ’n koue, afsydige vreemdeling.

Oor die outeur

Elize Davies is in Potchefstroom gebore, het in Durban en Brakpan grootgeword en is terug Potchefstroom toe om te leer om ’n tale-juffrou te word. In Vanderbijlpark, waar sy vir baie jare skoolgehou het, het sy haar Engelsman ontmoet. Hulle is na ’n blitsromanse getroud en ná al die jare maak hy nog vir haar die motordeur oop, vryf haar voete wanneer hulle moeg is en dra koffie aan wanneer sy haar stories skryf. Vier kinders, baie vreugde, hartseer, liefde en lewenslesse later, woon sy en haar gesin tans in Engeland en verlang steeds na Suid-Afrika.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Meer as blomme deur Ildé Grové

Sy liefde is soos die eerste lenteblom.

Mia se gunstelingmens is haar ouma en haar gunstelingplek is haar ouma se blommewinkel, Die geel katstert. Daarom sal sy enigiets doen om te verhoed dat die nuwe indringer, sexy Emil Mühlbacher, die plek toemaak. Hy kan dreig, skreeu, vlei; niks gaan haar oortuig nie. Sy is bestand teen mans met geheime ná Jacques se verraad.

Emil is wel nie ’n hartelose sakeman nie; hy het ʼn sagte kant maar ʼn troebel verlede. Hy het nie per toeval in dié pragtige dorpie kom bly nie. Mia moet ʼn plan maak om die winkel te red én sy moet haar hart beskerm. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Oor die outeur

Ildé Grové is ’n stadsjapie van Pretoria wat gril vir spinnekoppe en krakerige insekte. Sy’s dol oor reusebome, die see en berge. Ná ’n dag se geswoeg in die arbeidsmark is daar vir haar niks lekkerder as om in ander se koppe te kan klim en hul stories te vertel nie. As dit ’n liefdesverhaal is, soveel te beter. Tussen werk en skryf knyp sy broodnodige tyd af vir lees, stap en swem – gewoonlik in die teenwoordigheid van haar drie kinders: ’n hond, vis en kanarie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Maanengel deur Wilreza Smit-Theron

Waar begin mens weer soek vir hoop ná hartbreek?

Ná haar ouers se skielike afsterwe vestig Monya haarself op Franskraal om te probeer vrede vind. Maar selfs naby die see ervaar sy dat niks haar meer opgewonde maak nie. Tot die aand wat sy vir Lukas vir die eerste keer op die strand sien. Terwyl hy kruisbeen op die sand sit en mediteer, met die volmaan wat bo hom uitstyg, herinner hy haar aan ’n maanengel.

Nou kom verf dié maanengel haar hart en siel lig, en sy raak gou onherroeplik verlief op hom. Maar dan ontmoet sy vir Vicky, Lukas se beeldskone eks wat steeds deel is van sy lewe. Nou wonder Monya hoe ernstig hulle verhouding is en waar háár plek in hierdie prentjie is. Kan twee mense wat albei moes leer om verlies te verwerk mekaar se harte weer heel maak? Dalk meer belangrik: Is hulle dapper genoeg om die kans te waag?

Oor die outeur

Wilreza Smit-Theron is in 1964 in Pretoria gebore en het in die Kaap skoolgegaan. Na sewentien jaar het sy uit die onderwys bedank en is tans ’n vryskutvertaler/proefleser. Sy het nog altyd met stories in haar kop rondgeloop, maar nie geweet hoe om dit op papier neer te skryf nie. Daar het onlangs twee tienerboeke van haar by ’n ander uitgewersmaatskappy verskyn. Sy woon in Loevenstein naby Durbanville en in haar vrye tyd lees sy graag, fliek, draf, speel met haar vier Bassets en probeer drie meisiekinders grootkry. Die plek waarheen sy vlug as sy haar kop wil skoonkry, is enige plek naby water, riete en voëls.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Veilige tuiskoms by jou deur Magda Schmidt

Sy voel uiteindelik veilig …

Madie van Tonder was lief vir die charismatiese James van Vuuren en het vas geglo dat hy dieselfde voel. Ná die traumatiese afloop van hulle verhouding, besluit sy om in die vervolg haar hart toe te sluit, vrolik soos ’n vlinder rond te fladder en dieper verhoudings te vermy soos die pes.

Totdat sy die jong veearts, Lourens de Villiers, ontmoet. Sy helderbruin oë glimlag saam wanneer hy lag en hy laat haar veilig voel. Maar kan sy haar hart hierdie keer vertrou, of is Lourens ook besig om met haar te speel?

Oor die outeur

Magda Schmidt is die skrywersnaam van Annette Jordaan. Sy het in 2015 afgetree ná ongeveer twintig jaar as dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Sy het onder meer op honneursvlak ’n module in kreatiewe skryfwerk aangebied. Sy is al vier-en-veertig jaar getroud met Chris Jordaan. Hulle het vyf dogters, drie skoonseuns en vier kleinkinders (en hoop op meer). Sy is van kleins af dol oor stories en glo vas in liefde en romantiek. In 2013 verskyn Lothar Neethling: ’n Lewe vertel by Litera Publikasies onder haar eie naam. Dit vertel die verhaal van haar aangenome broer.

Ook beskikbaar as e-boek:

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Elize Davies Ildé Grové LAPA LAPA Uitgewers Maanengel Magda Schmidt Meer as blomme New books New releases Paradiso Romanza Veilige tuiskoms by jou Wilreza Smit-Theron


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments