C

Nuut by LAPA: Vier immermooi liefdesverhale om die herfskoue af te weer
 More about the book!

Liefde in die boendoes deur René van Zyl

Sy sal baie moet waag om sy hart te wen …

Jani Kleinhans is ’n bleeksiel en almal weet dit. Daar is dus geen rede vir haar om opgewonde te wees oor ’n wegbreek saam met kollegas na Botswana toe nie. Daar is ook geen rede om te dink dat die mooie toergids Ruan regtig in haar belangstel nie, en sy kan beslis nie kompeteer met ervare Tersia nie. Maar Ruan krap haar emosies lelik deurmekaar met sy alewige komplimente, sy donker oë en die rillings wat deur haar lyf gaan wanneer hy aan haar vat. En hy vat gereeld aan haar! Moet sy jag maak op die aantreklike toergids? Sy sal baie moet waag om sy hart te wen.

Oor die outeur

René van Zyl is ’n oud-joernalis, skrywer en blogger wat teen die hange van die Magaliesberg in Hartbeespoort vir haar ’n nessie uitgegrawe het. Sy geniet dit veral om plaaslike gemeenskapsmusiekblyspele te skryf en op die planke te bring. Haar buite-die-boks man, twee dogters en seun is die groot liefdes in haar lewe en ook haar grootste inspirasie. Haar oudste seun is breingestremd en die lewe saam met hom het haar geleer om daaglikse uitdagings met genoegsame humor aan te pak. Sy glo onwrikbaar in die liefde en gelukkige eindes. Haar voorliefde vir Europa se romantiese kastele, katedrale en legendes maak dat sy haar laaste sente sal uitgee om nogmaals daarheen te reis en stories te versamel.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Tussen liefde en haat deur Cornè van Rooyen

Die skeidslyn tussen liefde en haat is dun …

Marlien van der Walt aanvaar ’n pos as skoonheidsdeskundige op ’n wildsplaas buite Harrismith ná ’n traumatiese inbraak by haar woonstel. Die plaas behoort nou wel aan die pa van haar eks Eben, maar dit is seker beter as om alewig bang te wees in die stad. ’n Jaar gelede het haar en Eben Naudé se paaie geskei en het sy liefde vir haar in ’n intense haat verander. Toe sy hom weer op die plaas sien, weet sy dat dit steeds die geval is. Hy is koud en ongeskik en gaan uit sy pad om haar tyd op die plaas onaangenaam te maak. Sy is egter steeds smoorverlief op hom en besef gou dat die skeidslyn tussen liefde en haat baie dun is.

Oor die outeur

Cornè van Rooyen is gebore in Pretoria, maar verhuis later na Paulpietersburg, ’n klein dorpie in KwaZulu-Natal, waar sy steeds woon. Ná skool het sy deeltyds gewerk en studeer deur Unisa waar sy haar LLB-graad verwerf het. Sy was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Mooiste Eliza deur Magdaleen Walters

’n Gevaarlike, aantreklike predikant op ’n motorfiets …

Toe Eliza Dempsey se pa sterf, moet sy na haar ma en vyftienjarige sussie kyk. Boonop verloor sy haar werk en haar huis en moet sy noodgedwonge by ’n kroeg werk. Almal daar dink sy’s ’n snob, insluitend die geheimsinnige man wat gereeld by die kroeg opdaag. Met sy donker oë en leerbaadjie lyk Josua vir haar gevaarlik, aantreklik en nie soos iemand waarop sy verlief kan raak nie. Hy lyk ook nie noodwendig soos ’n predikant nie …

Oor die outeur

Magdaleen Walters is in ’n kasarm van ’n plaashuis in die goeie ou Vrystaat naby Senekal op mieliepap en stories grootgemaak. Sy het haar studentejare – BA (Tale) – op die kampus van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat deurgebring en later deur Unisa verder studeer. Sy woon saam met haar man in ’n huis langs ’n rivier naby Bronkhorstspruit waar sy haar dae vul met stories, naaldwerk, kosmaak en haar tuin. Soms hou sy skool omdat sy van jongmense om haar hou.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liewer as myself deur Dina Botha

Sy is nie te koop nie, al is dit vir ’n halfmiljoen rand!

Stefanie de Villiers kry ’n onverwagse aanbod van haar kliënt, Madeleine Ebersöhn, af: Sy moet met renjaer Emille Ebersöhn trou. In ruil kry sy ’n grootsom geld, Emille en sy ma verloor nie hul miljoene nie, en almal kry ’n gelukkige einde. Stefanie lag dit af. Sy is nie te koop nie, al is dit vir ’n halfmiljoen rand en net vir ’n tydperk van ses maande. Boonop stel sy ook nie in ’n man belang wat met sy lewe speel nie, want dis wat renjaers doen. Hulle is wild en dink hulle is onsterflik en onaantasbaar. Emile het egter ander planne vir Stefanie wanneer grendeltyd aangekondig word en hulle ’n huis moet deel.

Oor die outeur

Dina Botha is ’n bekroonde liefdesverhaalskrywer gebore en getoë in Pretoria. Reeds as tiener het sy ’n voorliefde vir lees ontwikkel, maar nooit die moontlikheid om formeel te skryf beproef nie. In 2006 word haar eerste Romanza, In ruil vir ’n hart, gepubliseer en vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes naamlik om te skryf. In 2013 is sy met ’n ATKV Woordveertjie vir haar Romanza, Boks vol soentjies, en in 2018 vir haar Romanza, Alles is perfek vereer. Met 58 Romanzas en 8 SuperRomanzas agter haar naam is sy een van die topverkopers in die mark. Sy woon tans in Centurion saam met haar man, Louwrens, haar seun Louwrens junior en drie dogters Anri, Ziske en Karlin, skoonseun Johan en suster Zanie.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Corné van Rooyen Dina Botha LAPA LAPA Uitgewers Liefde in die boendoes Liewer as myself Magdaleen Walters Mooiste Eliza New books New releases René van Zyl Romanza Tussen liefde en haat


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments