C

Nou beskikbaar op LAPA se webtuiste – vyf lekkerleesverhale vir enige bui!

Op soek na ’n lekker boek? Dan is jy op die regte plek!

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel

‘Die naald sink tussen haar oë in en buig. Die blink tandartsspuit van vlekvrye staal tref die skedel hard. Bloed. Sy hand lig weer op …’

Izak Hugo is ’n gefrustreerde tandarts van Port Elizabeth. Hy haat sy werk en smag na ’n meer vervullende lewe. Snags word hy deur gewelddadige drome geteister. Soos sy onvergenoegdheid opbou, begin hy sporadiese oomblikke van geheueverlies beleef. Wanneer hy ná so ’n episode sy vriend se verwurgde poedel in sy bakkie ontdek, begin hy sy greep op die werklikheid en homself verloor. Sake vererger wanneer ’n jong bendelid vermoor word en die bende vermoed dat lzak die skuldige is. lzak besluit om Transkei toe te vlug, maar die bloedspoor volg hom.

’n Kaalvuis sielkundige riller deur ’n opwindende nuwe skrywer. ’n Geveg tot die dood toe tussen goed en kwaad, maar die rolverdeling is net so onseker soos die uitslag.

***

Die vrou van die klippesee deur Meg Vandermerwe

Kreefsmous Hendrik dog hy yl toe hy ’n beseerde jong vrou op ’n verlate strand aan die Weskus kry, want waar haar bene moet wees, groei ’n visstert, sterk en stewig soos ’n tuna s’n. Miskien is die wese een van die watermense waaroor sy vrou Rebekkah gepraat het voordat sy vir ewig die see in verdwyn het. Of dalk is sy dit wat die ou Xhosamense ’n ‘mamlambo’ noem.

Hendrik se lewe verander handomkeer wanneer hy die watervrou huis toe neem. Is dit sy seer hart wat sy oë so bedrieg, wonder hy, of lê hier ’n leidraad wat kan sê wat van sy vrou geword het? Gou besef Hendrik daar loop ’n haarlyn tussen dit wat hy kan sien en dit wat hy moet glo.

***

 

‘n Spook in die huis deur Francois Loots

Die spook in sy huis kry alleenloper Paul nie verdryf nie, al probeer hy hoe hard om met ingewikkelde resepte sy dae om te bak. Sy lewe verander onomkeerbaar wanneer hy by ’n moord ingesleep word. Nou is sy lewe ook ’n koerantopskrif, nes dié wat hy elke nag bekook vir die Shrien Dewani-saak by die nuuskantoor waar hy werk.

Die skaduwêreld van sado-masochisme kom tydens die Dewani-ondersoek aan die lig: ’n wêreld goed bekend aan Div. Fisieke pyn is hoe hy vergeet van sy afgetakelde pa en sy junkie-broer. Wanneer die gedaante van die vermoorde Anni Dewani lewensgroot aan Div verskyn, besef hy dat dít wat by hom spook nie slegs metafories is nie. Wat jaag ons, en wat maak ons vry?

In ’n Spook in die huis, François Loots se sewende roman, word die kompleksiteite rondom ontvlugting en verlossing op boeiende en verrassende wyse verken.

***

Brandmerk deur Christelle Van Rooyen-Wessels

Hy kan eerlik sê kleintjies hou van hom. Dit laat hom altyd dink dat hy ’n goeie pa sal maak. Die dogtertjie weeg byna niks en hy pluk haar met gemak tot binne-in sy voertuig. Hy trek dadelik weg, die spartelende kind oor sy skoot. Sy probeer onder sy greep uit kom, maar hy druk haar half onder die stuurwiel in. Hy kyk rond. Niemand storm uit ’n huis of roep agter hom aan nie. Hy neem aan hy het bespeuring ontglip. Hy gee ’n ingenome laggie. Practice makes perfect, nè.

’n Kombers van boosheid daal neer oor ’n plattelandse dorp wanneer Portia Serape se vyfjarige dogtertjie gegryp word, maar dit is net die begin. Haar familie probeer naarstiglik om die kind op te spoor. Nuus van die vermiste meisiekind bereik Klara Dean – eens Francke – waar sy as maatskaplike werker by Veilige Hawe op die dorp in die Kalahari werk. Klara het die stukkies van haar lewe opgetel nadat sy en haar lieflingseun David die wreedheid van haar eksman oorleef het. Nou het Klara ’n nuwe, liefdevolle man en ’n oulike vierjarige. Maar die nuwe vlaag onheil bedreig hul veiligheid, en hou kaptein Coghran en die plaaslike polisie wakker tot diep in die nag.

***

Opstokers, fopdosse en tweegatjakkalse deur Herman Lategan

Herman Lategan se verhouding met Afrikaans is soos ’n huwelik: stormagtig, uitbundig, wild, liefdevol. Hierdie versameling stories en besinnings uit die immergewilde skrywer se ‘Woorde wat wip’-rubriek wat tweeweekliks in Rapport verskyn, sal lesers met selfs die stroefste halleluja­gesigte opkikker.

In hierdie boek kry jy insae in hoe stories rondom woorde gevorm word. Herman kies telkens ’n woord en bou ’n storie om dit. Die inhoud val uiteen as ’n tipe abecedarium – speelse inskripsies volgens die letters van die alfabet, dikwels met woorde wat nie meer alledaags gebruik word nie of die gevaar loop om in onbruik te raak.

Herman is nie bang om (soms geniepsige) sosiale kommentaar te lewer nie, en van die stories handel oor verlies, verlange, patos; ander is sommer laf of selfs katterig. Al gewonder wat ʼn huilboerboom, meelwurms, kofia, ietsjoe­beentjie, sandkombers of kamdebooharpuisbos is? In hierdie boek word dié woorde, en vele meer, geaktiveer as spilpunte waarom heerlike stories verweef is. Ideaal vir proe-proe lees op enige plek waar jy jou sit of lê die lekkerste kry

***

Hierdie Penguin Random House SA-titels is nou op LAPA se webtuiste beskikbaar.

Lees ook:

Categories Afrikaans Fiction Non-fiction South Africa

Tags 'n Spook in die huis Afrikaans Brandmerk Christelle van Rooyen-Wessels Die hond wat ophou blaf het Die vrou van die klippesee fopdosse en tweegatjakkalse Francois Loots Herman Lategan Jo Nel LAPA LAPA Uitgewers Meg Vandermerwe Opstokers Penguin Random House SA


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments