C

Nou beskikbaar op LAPA se webwerf – vyf uitmuntende kookboeke om jouself mee te bederf

Of jy nou ’n bobaas kok is en of jy water op die stoof brand, hierdie kookboeke is vir jou!

JAN – My Franse kosverhaal deur Jan Hendrik van der Westhuizen

JAN – My Franse kosverhaal is ’n gedenkskrif en feesviering wat voortspruit uit JAN – die welbekende restaurant in die suide van Frankryk. Dié restaurant is ’n vertoonstuk van die tradisionele Suid-Afrikaanse gasvryheid wat begin het op ’n plaas in die Suid-Afrikaanse platteland, en voortvloei na die glansryke Franse Riviera.

JAN het bewys dat drome waar kan word en dat jy eenvoudige bestanddele in ’n meesterstuk kan omskep wanneer jy jou passie uitleef. Elke hoofstuk weerspieël die gemoed en inspirasie van wat by JAN voorgesit word. Die versameling van meer as 90 resepte strek van plaaslikgebakte brode, amuse bouche en watertandhoofdisse met vleis en vis, tot by die maaltye wat sjefs na ’n lang werkdag in die warm kombuis geniet.

***

Gramadoela-kos deur Rita van Dyk

Gramadoela-kos is saamgestel om in die bos te kook wanneer jy ’n ietsie meer as net boerewors en pap elke aand wil voorberei. Die resepte is vars, innoverend en bowenal, maklik! Al die resepte is getoets en kan oor ’n oop vuur of ’n kampstofie berei word, maar dit is so smaaklik dat jy dié boek selfs in jou kombuis of vir jou braai by die huis kan gebruik.

Sluit in: * meer as 130 nuwe, smaaklike en maklike resepte * sowat 75 pragtige kleurfoto’s * nuttige wenke * kampkombuispaklys * lae-koolhidraatresepte *resepte vir soet en soutige jaffels.

 

***

 

Help! Ek kry gaste vir ete deur Annabel Frere

’n Geslag jong volwassenes het Help! Daar’s ’n stoof in my kombuis, Annabel Frere se eerste kookboek, leer ken, is mal daaroor en afhanklik daarvan. Dieselfde geslag het die jong beroepslui geword wat nou op ’n ietwat meer gesofistikeerde vlak moet onthaal. As skrywer het Annabel al hierdie stadiums met haar eie dogters meegemaak, en sy het weer eens smaaklike en relatief eenvoudige resepte vir geleenthede saamgestel – van onbeplande samekomste tot goedgeorganiseerde geleenthede.

Groot klem word op goeie beplanning gelê, asook kos wat vooraf berei kan word sodat die kok soveel tyd moontlik aan sy of haar gaste kan bestee, pleks daarvan om die dag in die kombuis deur te bring. Aandag word ook gegee aan tekstuur en aanbieding, met heelwat wenke en voorstelle oor moeitelose onthaal. Waar disse dalk meer ingewikkeld lyk, is Annabel uitstekend daarmee om die misterie te ontsluit. En natuurlik is geen partytjie volledig sonder die regte vloeibare begeleiding nie. Dus is daar ’n hoofstuk oor ’n verskeidenheid skemerkelkies, met en sonder alkohol.

***

Bord deur Marlene van der Westhuizen

Die resepte in dié boek kan elke dag van die week gebruik word vir daardie een hoofmaaltyd wat ons elke dag voorberei, hetsy ons vir die gesin kook of vriende vermaak. Bord is in slegs drie hoofstukke ingedeel – Vleis, Pluimvee en Seekos – en die resepte wissel van bekende klassieke tot moderne geregte, meestal met ’n kontinentale invloed.

Alles word voorberei met die skrywer se flair vir tuisgemaakte, hartlike en lekker etes. Bord is die perfekte geskenk vir diegene wat huis opsit en relatief onervare in die kombuis is, maar selfs gesoute kokke sal inspirasie in dié boek vind.

***

 

Saam deur Errieda du Toit

Saam is die Suid-Afrikaanse huiskoskampioen Errieda du Toit se uitsonderlike kookboek oor kos wat ons die meeste geniet en die kultuur waarmee resepte in gemeenskapsresepteboekies gedeel word. Errieda verdiep haar in 150 boekies wat oor 100 jaar uitgegee is en vorm ’n spesiale band met die resepte op die omkrulblaaie vol kosvlekke uit dié versamelings. In dié eiesoortige resepteboek vier Errieda ons noue verhouding met die nederige gemeenskapsboekies, die invloed daarvan op ons koskultuur en die kenmerkende gees van samewerking.

Saam is ’n genotvolle huldeblyk aan die genre wat in ’n moderne trant en effe tong-in-die-kies inspirasie in ons kosherinneringe vind. Die verskeidenheid resepte is ruimmhartig, gasvry en vol warmte soos die huiskokke wat dit oorspronklik in die boekies gedeel het – die aanhouers (langasem-resepte wat bly oorleef), die flatervryes (epiese staatmakers), kos vir oor-en-weer-kuiers en retrogunstelinge wat ons as erfeniskos koester. Met net die regte balans tussen nostalgie, modernisering van ou resepte en boeiende vertellinge is Saam dié boek vir huiskokke, kookboekversamelaars en almal wat nuuskierig en entoesiasties is oor Suid-Afrikaanse kos.

***

Hierdie Penguin Random House SA-titels is nou op LAPA se webtuiste beskikbaar.

Lees ook:

Categories Afrikaans Cookery Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Annabel Frere Bord Errieda du Toit Gramadoela-kos Help! Ek kry gaste vir ete JAN – My Franse kosverhaal Jan Hendrik van der Westhuizen Kookboeke LAPA LAPA Uitgewers Marlene van der Westhuizen Penguin Random House SA Rita van Dyk Saam


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments