C

‘Mens se kop kan jou vyand word in die reis met kanker’ – Madelein Rust oor haar boek Kanker schmanker! (Potgooi plus uittreksel)
 More about the book!

‘Mens se kop kan jou vyand word in die reis met kanker.’ Só skryf Madelein Rust in haar nie-fiksie boek, Kanker schmanker!, wat verlede jaar by LAPA verskyn het.

Die gewilde spanningsverhaalskrywer het onlangs met Ilse Salzwedel gesels oor haar stryd met borskanker en haar skryfwerk. In die Rooi Rose-potgooi gee sy raad aan kankerlyers, veral oor hoe om depressie te oorwin. ‘Daar is niks fout met jou as jy aan depressie ly nie,’ sê Madelein. ‘Jou vonkies vonk net die reg nie.’

Luister na die potgooi:

Lees ook ‘n uittreksel uit Kanker schmanker!:

Die begin 

Vir my het dit met pyn begin.

Dis juis daardie pyn wat, ironies genoeg, gemaak het dat ek heelwat tyd verspeel het voordat ek uiteindelik ’n afspraak by my huisdokter gemaak het. Ek het ook ál die ou storietjies oor borskanker gehoor. En summier geglo, soos wat mens maar maak. Onder andere die storie dat kwaadaardige gewasse in mens se bors nie pynlik is nie. Miskien moet mens nie alles so geredelik glo nie.

Stories.

Ongegrond.

Siste is seer. Kwaadaardige gewasse is nie.

Almal sê so.

As mens in die chemoterapiestoel sit terwyl die gif by jou are inloop, wonder jy wie de ongeluk hierdie ‘almal’ nou eintlik is. Daar is selde ’n bevredigende antwoord.

Mens se kop kan jou vyand word in die reis met kanker. Vele mense speel daardie futiele as-ek-maar-net-speletjie as iets katastrofies hulle tref. Ek het nogal heelwat rede gehad om dit te doen, sou ek wou. As-ek-maar-net dadelik plan gemaak het toe ek die pyn voel. As-ek-maar-net geluister het toe my man (en my kollegas en my familie en my vriende) vir my sê ek moet by ’n dokter uitkom. As-ek-maar-net nie so hardkoppig was nie. As-ek-maar-net nie altyd my werk eerste gestel het nie. As-ek-maar-net gereeld vir ’n mammogram gegaan het. Mens kan vrek baie van jou tyd mors en jouself toetentaal mal maak met daardie speletjie.

Maar dis nie waarom ek nie saamspeel nie.

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Ilse Salzwedel Interviews Kanker schmanker! LAPA LAPA Uitgewers Madelein Rust Podcast Podcasts Rooi Rose Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments