C

Liefdesverhale is Tydloos – hier is nog vier nuwe Romanzas om die maand te verslind
 More about the book!

Nuut by LAPA – vier vuurwarm liefdesverhale deur Lizelle von Wielligh, Madelie Human, Elize Davies en Marie-Louise Cronjé vir die koue maande.

’n Tyd om te dans deur Lizelle von Wielligh

Hoekom, God?

Christelle se droom om eendag haar eie dansskool te hê, spat aan skerwe toe sy in ’n motorongeluk beland en verlam is. Sy is kwaad vir God omdat hy die enigste ding weggeneem het wat vir haar saak maak. Daarby stel haar ma Wynand, haar verlore jeugliefde, as hulle tydelike voorman aan, maar ook vir Letsie, die meisie vir wie hy Christelle in matriek gelos het, as haar verpleegster.

Sy wil ten gronde gaan toe Wynand besluit om in te gryp. Hy is die enigste een wat haar die waarheid vertel en hanteer soos ’n normale mens. Hoewel sy uitlatings haar seermaak, help dit haar om haar lot te aanvaar en vorentoe te kyk. Sy verstaan net nie hoekom hy hom met haar bemoei nie, nog minder sy vyandigheid teenoor haar.

Tot ’n beroerte haar ma noop om haar jarelange geheim te onthul en net God weet hoekom Hy dít toegelaat het.

Oor die outeur

Met ’n BCompt. graad agter haar naam, sou Lizelle von Wielligh nooit kon droom om die pen op te tel en te begin skryf nie, maar toe bring die Here ’n onverwagse draai op haar pad wat haar meer vervuld laat as wat sy ooit kon droom. Deesdae vind sy dit baie meer stimulerend om haar gedagtes kreatief aan te wend eerder as om syfers op die rekenaar te laat klop. Haar gesin kom altyd eerste in haar lewe. Sy is voltyds betrokke by haar kinders en is bevoorreg om ’n gelukkige einde saam met haar man te leef. As sy nie skryf nie, moet haar hande besig bly met ’n handwerkie. Sy is ook lief vir die natuur; veral die plaaslewe. Haar idees kry sy meestal op haar daaglikse wandeling deur die denneboomplantasies.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Tydloos deur Madelie Human

Moet sy teruggaan na haar eie tyd of haar hart volg?

Juli le Roux word wakker in haar sitkamer, maar vind tot haar skok uit dis driehonderd jaar in die verlede tyd. Sy het op ’n geheimsinnige wyse plekke geruil met haar identiese oorgrootjie wie se naam sy dra. Om alles te kroon, erf sy nie net die vrou se identiteit nie, maar ook haar verloofde. Sy moet met Louis Rousseau trou om haar familie se erfenis te red.

Louis Rousseau is bereid om sy belofte wat hy langs sy ou vriend se sterfbed gemaak het, na te kom, maar hy sien op na ’n leeftyd saam met Juliette vir wie hy niks voel nie. Die Juli wat hy egter nou leer ken, is allesbehalwe die vervelige meisie saam met wie hy grootgeword het. Sy is pure vrou, vol lewe en vurig van geaardheid.

Juli het ’n groot besluit om te maak: Moet sy probeer teruggaan na haar eie tyd, of bly by die man op wie sy halsoorkop verlief is?

Oor die outeur

Skryf was nog altyd ’n deel van Madelie Human se lewe, maar sy het eers op vyftig ernstig begin skryf. ’n Vriendin het haar uitgedaag om fiksie te skryf, en romanse was die logiese keuse omdat dit haar gunstelinggenre is om te lees. In 2008 publiseer LAPA haar eerste Romanza en dit wen ’n Woordveertjie. Madelie is nou ’n gevestigde skrywer met meer as dertig Romanzas op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Iemand soos Zander deur Elize Davies

Almal dink hulle wil ’n huisie by die see hê totdat hulle die buurman ontmoet.

Wanneer Lori Lategan uitvind sy erf haar oupa se huis op Skulpbaai, lei sy aan dubbele skok. Haar onderdrukkende pa het haar vertel haar grootouers is lankal dood. Hierdie geleentheid is ’n kans op ’n nuwe lewe, weg van haar pa se oorheersende hand.

Skaars op Skulpbaai ontmoet sy haar lastige nuwe buurman, Zander Malan, wat haar opdraande gee oor sy nooit by haar oupa kom kuier het nie, en haar beskuldig van geldgierigheid. Die vent is amper erger as haar pa.

Tot die dag wat Fred Potgieter, die dorp se Groot Kokkedoor, Lori se lewe ’n nagmerrie maak. Skielik is Zander daar om te help skerm en Lori se hart begin vermurwe. Maar dan daag Zander se suster op en dit raak duidelik dat hy nie is wie hy voorgee om te wees nie.

Oor die outeur

Elize Davies is in Potchefstroom gebore, het in Durban en Brakpan grootgeword en is terug Potchefstroom toe om te leer om ’n tale-juffrou te word. In Vanderbijlpark, waar sy vir baie jare skoolgehou het, het sy haar Engelsman ontmoet. Hulle is na ’n blitsromanse getroud en ná al die jare maak hy nog vir haar die motordeur oop, vryf haar voete wanneer hulle moeg is en dra koffie aan wanneer sy haar stories skryf. Vier kinders, baie vreugde, hartseer, liefde en lewenslesse later, woon sy en haar gesin tans in Engeland en verlang steeds na Suid-Afrika.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Weergalose liefde deur Marie-Louise Cronjé

Nie eers roem en faam kan jou beskerm teen verdriet nie.

Na tien jaar se werskaf om naam te maak vir haarself, keer Danielle Saunders terug na haar ouerhuis as ’n internasionale filmster.

Haar terugkoms is egter drie weke te laat vir haar eie pa se begrafnis. Sy kan al die koue skouers en stille verwyte verduur, maar om weer in Eckhard du Toit vas te loop was die laaste ding wat sy verwag het. Hy is nie meer haar jeugvriend van ouds nie. Hy is verloof, en Danielle weet sy het hom genoeg reded gegee om nou sy afsydigheid te verdien.

Almal dink mos sy het die wêreld aan haar voete. Net sy ken die waarheid wat soos ’n donker wolk hang en dreig om haar te verswelg – dié keer met ’n finaliteit waarvan sy nie sal kan ontsnap nie.

Oor die outeur

Marie-Louise Cronjé is al van kindsbeen af versog op lees. Haar pa het geglo dat mens enigiets kan doen solank jy net glo. Dus het sy haar hand aan skryfwerk geslaan en net daar het die skryfgogga gebyt en nog nooit weer laat los nie. Sy balanseer haar skryf met voltydse verpleging (haar ander groot liefde) en haar gesin. Sy en haar man Patrick is bykans 30 jaar getroud en steeds beste vriende. Hulle deel hul huis en lewe met drie kinders, twee seuns en ’n dogter: haar grootste kritici en inspirasie.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Tyd om te dans Elize Davies Iemand soos Zander LAPA LAPA Uitgewers Lizelle von Wielligh Madelie Human Marie-Louise Cronjé New books New releases Romanza Tydloos Weergalose liefde


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments