C

Lees ’n uittreksel uit Moord op Lake Panic deur Leon van Nierop – ’n who-dunnit wat naelbytspanning belowe (Plus: Video)
 More about the book!

’n Handvol sjefs by ’n meesterklas in die boendoes. ’n Vrou se lyk in die meer. ’n Privaat speurder wat moet vra: Wie het sy mes in vir wie?

Lees ’n uittreksel uit Moord op Lake Panic deur Leon van Nierop:

~~~

BEER STAP BUITENTOE, oor die lodge se gras na die hysbak se geopende deure. Kyk hoe die voëls oor die meer vlieg. ’n Wolk swaeltjies wat met gepunte stertjies oor die water heen en weer skiet, trek sy aandag. ’n Laksman land op ’n dooie tak na aan die hysbak. Gluur Beer aan. Wip-waai sy swaelstert – ’n doodsengel wat ’n galg of doringdraad soek om kos in vleisflarde aan op te hang. Drie makoro’s skommel nou op die water, want die inwoners het natuurlik van die ontvangsdame se dood gehoor. Die mans staan penregop, hul roeistokke soos spiese langs hulle in die water. Beer plaas sy hande aan weerskante van sy mond en roep. Waarsku die mense op die bote om dit nie naby die toneel te waag nie. Een lig sy hand in erkenning. Hulle druk met hul roeistokke op die meer se bodem. Roei terug. Die makoro’s dryf-gly oewerwaarts oor die water na die Baponeng se hutte aan die oorkant. Die golfies glimlag ritmies hemel toe.’n Aasvoël sirkel met oopgespreide vlerke oor hulle heen. Beer neem selfoonfoto’s. Water en watergras, soet frangipani, katjiepiering. Die plesierboot kapkap teen die houtdek. Ligte golfies lek teen die hout, stort soms oor. Die meer is nie meer so glad soos vantevore nie. Weer is dit asof iets daaronder roer. Macbeth se heksebrousel begin prut. En nogmaals wolke agter die bome wat nou dig saamkoek om ’n storm uit te broei. Blitse bliksem tussen die wolke in. Links van Beer strek die vrou se lewelose liggaam op haar maag uit, haar gesig in die water, haar geel rok komieklik hoog en skeef opgetrek. Haar linkerknie is onder haar ingevou. Dis gebreek. ’n Been steek deur haar vel. Krappe skuifel oor die dek na haar lyk toe. Beer kyk boontoe vanwaar sy vermoedelik geval het. Dis dieselfde plek waar die klippe die vorige dag losgekom en amper op hom geval het. Hy merk ’n uitsteekrots met mosterd- kleurige spikkels. Dit lyk nou soos ’n dolk.

~~~

Leon het onlangs sy roman tydens ’n Graffiti-aanlynkuier met Phyllis Green bekend gestel.

Kyk na die video:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Graffiti-aanlynkuier Leon van Nierop Penguin Random House SA Phyllis Green Uittreksel Video


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments