C

‘Hoe sal jy die Kaap beskryf? Sonskyn of storms?’ Lees ’n uittreksel uit In sonskyn en storms deur Frenette van Wyk
 More about the book!

Skrywer Frenette van Wyk het onlangs ’n kort uittreksel uit haar nuwe e-boek, In sonskyn en storms, op haar Facebook-blad gedeel.

Hierdie roman het pas by LAPA verskyn en vertel die verhaal van Sebastian en Esperanze. Sebastian kom eis Esperanze se plaas op wat haar pa kwansuis vir hom gegee het. In die brief versoek haar pa ook dat hy met Esperanze trou. Maar sy trou net vir liefde.

Lees ’n uittreksel:

~~~

Esperanze bly vasgenael na hom staar waar hy by die wa staan en wag. Lenig en lank en imposant. Sy skouers ontspanne, vierkantig onder sy hemp. Sy sterk hande bruingebrand op sy heupe gestut. Ontstellend aantreklik. Om eerlik met haarself te wees, sy kan ook geen fout met sy volmaakte, manlike gelaatstrekke vind nie.

Toe is dit weer sy oë wat hare gevange hou. Donkerblou poele wat nie verraai wie hy regtig is of wat in sy binneste aangaan of waarom hy hier opgedaag het of haar uit haar dilemma kom help het nie. Maar hy kyk amper deur haar en sy laat sak haar blik.

Een van haar skoene lê tussen ’n paar graspolle naby haar en sy gaan tel dit op. Die ander een lê in die vlak rivier. Sy klouter versigtig met die snaphaan oor die plat klippe om dit te gaan haal, maar verloor hom steeds nie vir ’n oomblik uit die oog nie.

‘En die mans dra velskoene hier,’ sê sy weer toe sy ’n veilige ent van hom af naby die wa gaan staan. ‘Stewels met blink gespes is onvanpas vir die werk op ’n plaas, om implemente oor stowwerige paaie te karwei, landerye te bewerk, koeie en kalwers aan te jaag, wingerde te pluk …’

Sy bly skielik stil. Ineens verlang sy erg na haar pa saam met wie sy al hierdie dinge leer doen het. Hy sou lankal hierdie man laat verstaan het dat hy nou maar sy ry kan kry.

‘Jy is reg, Mademoiselle. Ek ken nie dié wêreld nie. Ek het pas drie dae gelede in die Kaap aangekom en is juis besig om die kontrei te verken. Maar ek hoop om my hier in die land van sonskyn en storms te vestig.’

Hy kyk om hom rond en tuur na die berge in die verte. Sy gebruik die kans om versigtig nader aan die wa te sluip.

‘Watter een van die twee, sou jy sê, is dit nou eintlik?’ vra hy en kyk weer na haar.

Sy steek in haar spore vas naby die wa. ‘Watter een van wat?’ vra sy effe onkant betrap. Sy gooi haar skoene met ’n boog op die wa en hou weer die snaphaan byna krampagtig op hom gerig. Dit is haar enigste skans teen hom.

‘Die Kaap, Mademoiselle. Hoe sal jy die Kaap beskryf? Sonskyn of storms?’ vra hy ongeërg en kom sowaar nader, strek sy hand uit en bied aan om haar op die wa te help.

‘Albei, Meneer. Hulle gaan hand aan hand,’ antwoord sy slim. Maar sonder om haar hand in syne te sit skuur sy rakelings by hom verby, haastig om op die wa te kom. Sy sou ratser kon beweeg, maar die pyn van die val is weer skerp in haar heup en kortwiek haar bewegings.

Hy merk seker ook hoe stram sy beweeg, veral met die snaphaan in haar hande, want hy kom vou sowaar sy hande stewig om haar middel en lig haar maklik op die wa.

Vir ’n oomblik vergeet sy skoon om asem te haal.

‘Jy sal die een nie sonder die ander een hier kry nie,’ gaan sy ongeërg voort met hul gesprek, waag dit selfs om die snaphaan in ’n kis op die wa neer te sit en raap die leisels op. ‘Dis soos opdraand en afdraand; as jy die een afgelê het, strek die ander een noodgedwonge voor jou uit,’ babbel sy voort en draai die leisels vinnig om haar hande.

‘Jy bedoel dis soos dag en nag. Of soos man en vrou. Heeltemal verskillend, maar hulle gaan maar altyd hand aan hand.’

‘Dis baie ingewikkelder as dit, Meneer,’ antwoord sy uit die hoogte af na hom toe, ‘maar ja, min of meer …’

‘A! Jy bedoel dis soos ek en jy, Mademoiselle?’

Sy kyk hom ’n oomblik verward aan. Die lagplooitjies kinkel om sy oë terwyl hy na haar toe opkyk teen die laatoggendson se strale in.

‘Ek glo nie, Meneer. As jy kwalik ’n paar klippe wat teen die berg afrol of ’n huurperd kan hanteer, sal jy nie maklik die groter storms hier oorleef nie. Esperanze Cordier, daarenteen, maak van enige storm pure sonskyn,’ laat sy uitdagend hoor.

Sy gooi haar dik vlegsel kordaat oor haar skouer terug sodat dit karmosynrooi skitter in die son. Terselfdertyd lig sy die leisels in haar hande om die perde aan te jaag.

~~~

Koop die e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Frenette van Wyk In sonskyn en storms LAPA LAPA Uitgewers Romanza Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments